Die Beatty-gesin woon meestal oorsee as gevolg van Daniel se werk. Maar toe iemand op ’n dag hul twee kinders vra waar hulle woon en Nia en Torben antwoord Bali, het hulle besluit om hier op eie bodem ’n plek te kom bou wat hulle huis kan noem.

Daniel en Dominique het op onderskeidelik Kommetjie en die nabygeleë Vishoek grootgeword. Die twee wou graag hê hul kinders moet ook die sorgelose strandlewe van hul eie kindertyd ervaar. Soos die geluk dit wou hê, was daar ’n erf langs sy grootwordhuis te koop en hy het sy broer, Matthew, van die argiteksfirma Beatty Vermeiren (beattyvermeiren.com) gevra om die huis te ontwerp.

Daniel kon die taak met ’n geruste hart aan hom toevertrou, want Matthew ken die gebied, die lê van die land, en sou kosbare elemente kon vasvang.

Die huis wat hulle in gedagte gehad het, moes een wees waarin jy met sandvoete kon kom neerplof. Dominique wou veral ’n tuiste skep wat gemaklik en sonder fieterjasies is, ’n plek van vrede en kalmte waar jy sorgeloos die natuur kon ervaar. Die omringende veld het die kleurpalet voorgeskryf en prentjiemooi uitsigte is uit elke venster sigbaar.

Vir dié gesin wat al die wêreld platgereis en in stede soos Tokio en Singapoer gewoon het, is daar geen beter plek as hier nie, met die uitsig oor die wondermooie oseaan en sorgsaamheid van die gemeenskap wat hulle laat voel asof hulle nooit weg was nie.

Die informele sitkamer kan in ’n ekstra slaapplek omskep word as gaste kom kuier. Die mat van Airloom (airloom.co.za) trek alles in die vertrek saam. Die doelgemaakte slaapbanke is in ’n L-vorm gerangskik om ’n sitbank te vorm, en die Malawi-stoel in die groengeel van die mat gespuitverf. Die YORK-alaiabranderplank was ’n geskenk van ’n lewenslange vriend en het ’n spesiale plek teen die muur en in hul hart.
Die e ense knak van die huis maak dat die swembaddeel, waarop omtrent al die vertrekke uitloop, beskut is. Die boonste verdieping maak oop op die lang balkon. Die uitsigte vanaf hier is ook eindeloos.
Die kleurskema van die boonste sitkamer is deur die omliggende natuur geïnspireer, en die groot glasdeure en vensters skep die gevoel dat jy buite kuier. Die mideeu-leunstoele het hulle by ’n tweedehandswinkel gekoop en met Skinny laMinx-materiaal (skinnylaminx.com) laat oortrek.
Die Beattys kook graag en dan word heerlik om hierdie lang etenstafel gekuier. Die tafel is van Holly Wood Kitchens and Furniture (hollywoodfurniture. co.za) en die stoele van Weylandts. Die gehekelde lampskerm bo die tafel is van Moonbasket (moonbasket.com) en herinner jou aan ’n seediertjie.
Die gastebadkamer se vloer en mure is afgevlak, wat dit ’n naatlose voorkoms gee. Dit loop uit op die houtdek by die swembad, sodat sandvoete vinnig hier afgespoel kan word.
Die oopplankombuis kyk uit oor die berg en see, en is tussen die meer formele eetkamer en die buitenste etenstafel op die balkon. Agter die ingeboude kaste is ’n opwas-deel.
Daniel beskryf Nia as ’n bondel energie, altyd gereed vir speel en lag.
As Torben nie in die branders baljaar nie, lees hy graag in sy kamer. Sy eie YORK branderplank het ook ’n ereplek teen die muur.
Die gastebadkamer se vloer en mure is afgevlak, wat dit ’n naatlose voorkoms gee. Dit loop uit op die houtdek by die swembad, sodat sandvoete vinnig hier afgespoel kan word.
Die hoofslaapkamer is gestroop van onnodige goed. Sagte kleure soos ligblou, wit, grys en ’n tikkie koraal laat die vertrek rustig en kalm vertoon. En natuurlik kyk dit uit oor die berg en see.