Kate en Michael Lorentz was op soek na ’n nuwe huis in Kaapstad. Toe die eiendomsagent hulle na ’n huis in Nuweland neem, was Kate maar teësinnig. Al was daar buiten die huis ook ’n historiese kothuis wat uit die vroeë negentiende eeu dateer en ’n rivier wat deur die erf loop, was die hoofhuis te klein vir hul gesin – hulle het vier kinders (’n volwasse dogter en drie besige seuntjies). Maar daar gekom, het die kalm rivierstroom en koel bome op die oewer Kate, ’n botanis, en Michael, die eienaar van ’n maatskappy vir eksklusiewe safari’s, Passage to Africa (passagetoafrica.com), oorrompel. Dit het veral hul drie seuns se hart gesteel. Hier kon jy vergeet jy woon eintlik in die stad.

Die egpaar is passievol oor bewaring en het die hulp van die argitek Karen Newman (newmanarchitects.co.za) ingeroep. Die drie het dadelik aanklank by mekaar gevind en mekaar se taal verstaan. Die oplossing was om die dak te lig en nog twee verdiepings aan te bou. Die grondvloer sou die leefarea wees, die tweede vlak vir die kinders en die boonste een vir die volwassenes. Vir Karen was dit die perfekte projek om die bekoorlike historiese kothuis, vir gaste, tot sy volle glorie te herstel, maar om ook die hoofhuis, wat rondom laat 1970 of vroeg 1980 gebou is, te moderniseer en in ’n ruim en gesellige gesinshuis te omskep.

Kate het gesorg vir genoeg mandjies om los goed in te bêre, maar haar fyn oog het die mooiste goed uitgestal saam met kinderboeke, foto’s en prente.
HY HOU VAN BLOU: Die jongste, Felix, se metaalbed is ’n middernagblou geverf en selfs hier hang interessante kuns.
HANGKUNS: Hierdie kunswerk van Wim Botha hang digby die trap wat van die kombuis/eetkamer-deel na die sitkamer lei. Dit kon nie vir ’n beter rusplek gevra het nie
KINDERS IS KONING: Die kinders se kamers is op die middelste vlak. Hierdie een is vol pretgoed waarvan ’n seun hou. En ’n lig wat soos ’n kroon lyk.
HELDER, LIG EN RUIM: Vir die hoofslaapkamer het Kate ’n helderkleurige kwilt uit Indië gekies en die hangligte het sy in Frankryk gekoop. Op die agtergrond is hul pragtige tuiskantoor.
’n Kunswerk van William Kentridge, Traité D’Arithmétique, hang bo ’n wit stoel in die sitkamer.
Die lig wat die voorportaal vul, vertel jou reeds wat jy van hierdie huis kan verwag. ’n Versameling kontemporêre Afrika-kunswerke is hier in ’n treffende groep uitgestal.
BAD IN DIE BOOMTOPPE: Omdat die huis so hoog gebou is en die badkamer uitkyk op die boomryke erf, voel dit kompleet asof jy tussen die boomtoppe bad.
KLINK ’N GLASIE Die stylvolle kroegdeel met ’n swart granietblad kyk uit op die swembad en rivier. Die antieke kassie teen die muur is ’n erfstuk van Michael se ma en ’n toonbeeld van hoe hulle erfenis respekteer.
SY KYK VIR JOU ’n Foto van die Nigeriese kunstenaar Obechukwu Nwoye deur die fotograaf Pieter Hugo in die hoofslaapkamer. Saam met die Toearegsaalsak verskaf dit wonderlike karakter aan die vertrek.