Die huis, knus tussen die asemrowende berge van Hermanus en die ewige see, is een van die eerstes in die Voëlklip-omgewing. Dit is so rondom 1925 as ’n vakansiehuis vir ’n boer van Caledon gebou. Destyds het mense met perdewaens, tesame met ’n koei en hoenders, hierheen gery. Wanneer die vakansie verby was, is mens en dier weer opgelaai en terug plaas toe. As die huis te vol was, moes die kinders sommer op die stoep slaap. Die huis was vir drie geslagte in die familie voordat dit in 1999 verkoop is.

VOORAANSIG VAN DIE HUIS: Die twee dakvensters aan weerskante is later aangebring sodat daar ’n uitsig uit elke vertrek is. FOTO Willem Lourens

Die huidige eienares het die huis in 2008 gekoop en dit was toe reeds baie mooi gerestoureer met die hulp van die argitek Wynand Wilsenach (w2.co.za). Sy het later nog kleiner veranderinge aangebring, weer met Wynand se hulp en met die goedkeuring en riglyne van die Erfeniskomitee. Dit was vir haar belangrik dat die rietdak verander moes word om weerskante van die bestaande venster nog twee volwaardige vensters in die dak te skep en om dit esteties beter te laat lyk. Hier was nou ’n skoon palet waarmee sy kon werk om ’n warm, gesellige huis met hope karakter te kon laat herleef.

WARM EN GESELLIG: Die skoon lyne van die Skandinawiese dekorstyl is hier te sien. Vir die knus sitkamer het die eienares mideeuse meubels gekies. Die sitkamerstel het sy raakgeloop by Mødernist in Parkhurst (modernist.biz) en die mat is van Lund (lundruggallery.co.za). Sy het die kunstenaar Walter Oltmann gevra om die treffende speldekussing-kunswerk van geïoniseerde draad te maak. FOTO Willem Lourens
KUNSTIG: Kuns lê haar na aan die hart. Die besonderse werk is van Minnette Vári (minnettevari.co.za) en hang in die eetkamer bo ’n ou kassie. Dit is met die hulp van Neil Dundas van die Goodmangalery (goodmangallery.com) aangeskaf. FOTO Willem Lourens
DIE EETKAMER: Die vertrek is digby die sitkamer en vloei uit die kombuis. Ook hier is die tafel en stoele in die mideeuse styl. Hier en daar is dié meubels met antieke meubels gemeng, soos die kassie op die agtergrond. Die lampskerms en mat is weer kontemporêr, wat tekstuur en variasie aan die ruimte verleen. FOTO Willem Lourens
STUDEERKAMER: Die perfekte werkplek met die sagte geruis van die see op die agtergrond. Die klein sytafel is plek vir die rekenaardrukker en die diep laaie van die lessenaar sorg dat die vertrek altyd netjies is. FOTO Willem Lourens
KITSSLAAPKAMER: Die bank kan vinnig in ’n bed verander sodat die studeerkamer ook as slaapkamer benut kan word. Die groot boontjiesak is ’n lekker neerplofplek. Bo die bank hang twee Pierneef-kunswerke. FOTO Willem Lourens
KOOK EN BAK: Die eienares en haar man is mal oor die heerlike kombuis. Hy is ’n wonderlike kok en sy bak graag. Die U-vormige uitleg maak dat alles byderhand is as hulle hier werskaf. Die kombinasie van oop rakke en ingeboude kaste skep ’n huislike gevoel. FOTO Willem Lourens
KITSSLAAPKAMER: Die bank kan vinnig in ’n bed verander sodat die studeerkamer ook as slaapkamer benut kan word. Die groot boontjiesak is ’n lekker neerplofplek. Bo die bank hang twee Pierneef-kunswerke. FOTO Willem Lourens
DIE LANG STOEP Die stoep langs die lengte van die huis het meer as een sithoek. Die lang hoekbank is by ’n meubelmaker (GC Woodworks) op die dorp laat maak. FOTO Willem Lourens
BAD MET 'N UITSIG Selfs vanuit die hoofslaapkamer se badkamervenster kan jy die see sien. Die dak gee ’n warm gevoel aan die vertrek. FOTO Verskaf
OP KOUE DAE As die weer sleg is en elkeen doen sy eie ding, is hierdie diep vensterbank die regte plek om net mooi niks te doen nie – dis net jy en die uitsig. FOTO Willem Lourens
KALM SLAAPKAMER > Vir die hoofslaapkamer, soos in al die ander kamers, is ’n neutrale kleurskema van natuurlike stowwe gekies met wit hortjies wat dit mooi afrond. Die bed is ook spesiaal by GC Woodworks op Hermanus laat maak. Die pote is effens hoër sodat jy die see vanuit die bed kan sien. FOTO Willem Lourens