Die artikel verskyn in SARIE WOON 2020/2021-uitgawe, nou te koop én ook beskikbaar in Engels!

Almal op Kleinmond weet waar hierdie statige grasdakhuis is. Dit is immers die oudste huis op die dorp en in 1860 deur dominee Pieter Kuypers Albertyn by die mond van die Botrivier gebou.

Deesdae behoort die huis aan ’n familie wie se voorsate al sedert die draai van die vorige eeu in die Kleinmond-omgewing kom vakansie hou het. Oliver, ’n lid van die jonger geslag, vertel dat hul grootjies met die stoomtrein tot op Botrivier gekom en dan met die ossewa na die Palmietrivier gery het om vir weke lank daar uit te span.

Sewentien jaar gelede het die familie die huis gekoop, want dit het net sin gemaak omdat hulle so ’n mooi en betekenisvolle band met die Overstrand het.

Elke Desembervakansie kom soveel as moontlik van die groot, uitgebreide familie Kleinmond toe vir tien salige dae. Die ouer garde sit op die stoep of stap die wandelpaaie, die jongspan baljaar op die strand of ry kano, daar is altyd iets om te doen. Kersdag kom maklik tussen veertig en sestig familielede na die groot grasdakhuis om saam te kom vier. Almal bring iets te ete en die dag word in familie-geluk deurgebring. Dis ook hier waar almal bymekaarkom as daar ’n groot verjaardag of ander spesiale okkasie gevier word.

As die groot fees verby is, keer die huismense terug na die stadige pas, om die see te sit en dophou en te wens dat hierdie dae vir ewig kan aanhou.

TUSSEN MELKHOUTBOME Die grasdakhuis is omring deur pragtige ou melkhoutbome. As jy nie strand toe wil gaan nie, is daar vlak by die huis die begin van ’n asemrowende wandelpad, en in die walvisseisoen beweeg jy nie van die stoep af nie. Kleinmond. FOTO David Ross
ROEI OP DIE STRANDMEER: Die strandmeer is net ’n hanetree van die huis as jy die spane wil laat klap. FOTO David Ross
MUUR BIED BESKUTTING: Die witgekalkte muur om die huis skep ’n gevoel van geborgenheid. In die een hoek is ’n bankie ingebou waar jy in die son kan sit terwyl jy die strand dophou. FOTO David Ross
SAAM KOOK, SAAM KUIER: Die kombuis is so ingerig dat dit goed funksioneer. Met oop rakke hoef jy nie na goed te soek nie en die grys teëlvloer is maklik om skoon te hou. Die kombuistafel is ’n erfstuk en die blad kan verleng met ekstra blaaie wat ingevoeg word. FOTO David ROSS
BLOU BY DIE SEE: Blou en wit vir ’n seehuis se dekor is byna ’n natuurlike keuse. Dis klassiek en bly mooi. Die ruim leefkamer se diep banke en opgepofte kussings is gesofistikeerd maar tog knus en verwelkomend, terwyl die groot trommel wat as koffietafel dien, pakplek bied vir losgoed. Daar is ook ’n groot kaggel vir die wintermaande. WENK: Versorg jou houtmeubels met Woodoc (woodoc.com) se wye reeks produkte. FOTO David Ross
GESELS KOPSTUKKE: Daar word lank en gesellig om hierdie vuurput gekuier en gebraai. ’n Sementsitplek in die vorm van ’n halfsirkel bied sitplek vir baie kuiergaste en die kombuis is binne bereik met deure wat na die braaideel oopmaak. FOTO David Ross
FOTO David Ross
HEEL PRAKTIES < Die wasbak is net onder die nok geïnstalleer want jy moet in elk geval buk om jou gesig te was of tande te borsel. Dus is hierdie spasie slim en optimaal gebruik. FOTO David Ross
HIER SLAAP JY LEKKER: Onder die nok van die soetruikende strooidak dommel jy dadelik in droomland toe. Dit demp die klank van die see en wind, in die somers is dit heerlik koel en in die wintermaande hou dit weer hitte binne. FOTO David Ross
GEEN SANDVOETE Soos dit ’n seehuis betaam, is hier ook ’n buitestort waar sandvoete afgespoel kan word. FOTO David Ross

AS JY HIER WIL OORBLY

ALBERTYN HUIS (slaapplek vir 12)

Besprekings en navrae: 021 790 0972 (kantoor), 079 789 5459 (ná ure); perfecthideaways.co.za