1. BOTTELS PRONK AS BLOMPOTTE

FOTO RYNO

Nie ’n nuwe idee nie, maar steeds treffend. Was glasbottels en verwyder al die etikette en proppe. Speel met verskillende groottes, vorms, teksture en kleure vir ’n stylvolle versameling rangskikkings op ’n kas of tafel.

2. RAME WORD KUNSWERK

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Gee nuwe lewe aan ou rame deur dit af te skuur en in ’n kleur van jou keuse te verf. Hang verskillende groottes saam en jy het ’n mooi “skildery” as fokuspunt teen ’n muur.

3. STOMPE DOEN TAFELDIENS

FOTO HENK HATTINGH

Vra by ’n houthandelaar vir ’n boomstompskyf wat die hoogte is van die “tafeltjie” wat jy benodig. Versamelings van drie items bymekaar lyk altyd treffend. Jy kan ook met verskillende hoogtes boomstompe speel.

4. MANDJIES AAN DIE MUUR

FOTO HENK HATTINGH

Monteer ou draadmandjies teen ’n muur en gebruik dit as bêreplek. Dit help om orde in jou huis te skep en spaar boonop ruimte. Jy kan selfs potplante daarin uitstal.

5. YSBAK UIT OU BLIK

FOTO ED O’RILEY

Verander ’n vyfliter-verfblik in ’n ysbak. Gebruik goue metaalspuitverf (ons het Rust- Oleum se Speciality Metallic Spray gebruik) om die blik asook die deksel binne en buite te verf. Spuit die verf liggies aan en wend verskeie lae aan sodat die verf nie “trane” vorm nie en die kleur solied is. Laat elke laag eers goed droog word voordat jy die volgende laag spuit. As die spuitverf eers droog is, kan jy ’n laag ligblou verf bo-oor aanwend. Gebruik ’n dro kwas sodat die goue onderlaag nog plek-plek deurskyn. Skroef ’n mooi knop op die deksel vas as handvatsel.

BRON Idees/Media24 – Maart 2016