Die rubriek verskyn in SARIE WOON 2021 - nou te koop.

Ons almal ken dit so goed: Die vassit in die verkeer, die ongemaklike geselsies in die hysbak, die leeelike stoele, altyd met ’n verdagte vlek net daar waar jy moet sit, die boonste lessenaarlaai met ses verdwaalde skuifspelde en so ’n stowwerige, maroen Dysan-stiffie. ’n Komediant het eenkeer gesê die enigste rede waarom die koordlose muis uitgevind is, is sodat daar een minder ding op kantoor is waarmee mense hulself kan hang.

Daarom het kantoorwerkers oor die wêreld heen gejuig toe die nuus kom: Ons moet nou almal van die huis af werk. Natuurlik wou niemand erken hulle is bly nie. As jy dit sou doen, sou jy jouself ontbloot as die sleg luiaard wat jy is. Maar in die geheim het almal feesgevier. Kantoorwerkers oral het die Macarena in die privaatheid van hul sitkamer gedoen, dronk van vreugde en vryheid, en ’n Mexican wave deur die grys doderyk van die w reld se kantoorblokke gestuur.

Ek was self oorstelp van vreugde toe ek hoor ek moet nou van die huis af werk. Want die enigste ding wat erger is as die deursnee-kantoor, is die deursnee-nuuskantoor. Nuuskantore bevat al die gruwels van ’n standaardkantoor, minus koffiebekers en teelepels. (Jy maak jou koffie in so ’n wankelrige polistireenkoppie wat jou derdegraadse brandwonde gee terwyl jy dit stort-stort na jou lessenaar toe dra en dit daar sit en roer met die agterkant van ’n Bic-pen of die hoek van ’n Dysan-stiffie.)

Soos die meeste ander onproduktiewe kantore is ’n nuuskantoor ook oopplan. Die gevolg is dat almal gelyk probeer werk, en niemand ooit werk nie. Net sodra jy dink jy het jou gedagtes mooi georden, wil iemand kliphard weet hoe ’n mens “tatoeëer” spel. Ek onthou hoe ’n kollega eenkeer gevra het of iemand vir haar ’n tissue het. Ek het in my handsak rondgegrawe op soek na een, maar kon net ’n verdwaalde pil kry.

“Ek het net ’n Panado,” het ek gesê, waarop sy toe haar hand uitgesteek en geantwoord het: “Ag oukei, gee maar.”

Hier en daar, in die onstuimige see van nuuskantore, was daar darem ’n eiland van beskawing.

By SARIE was daar wit teestelle (met teelepels) en mooi, oorgetrekte stoele. Ek onthou hoe Fanie Cronjé, SARIE se geliefde stilis, ons altyd kom “style” het terwyl ons sit en werk. Dan drapeer hy lappe om my en die skoonheidsredakteur om ons “soos Rut en Naomi” te laat lyk. Of hy vat my hare op in ’n los bolla, wat hy “The Onion” genoem het, “soos Sissy Spacek in Coal Miner’s Daughter”. Wanneer die tydskrif drukkers toe is, het ons dit dikwels gevier deur tonele uit Egoli op te voer.

Dan kon ons kies wie ons wou wees – enigiemand behalwe Louwna, want nét Fanie kon Louwna wees. Met lappe en klere uit die stoor het hy ons gestyle tot ons soos Jane of Sunet of Rut of Naomi of Sissy Spacek in Coal Miner’s Daughter gelyk het.

Fast-forward tot in 2021 en hier sit ons almal in ons tuiskantore. Die aardigheid van in jou pajamas op die bank lê met jou skootrekenaar op jou skoot en The Real Housewives of Beverly Hills op die agtergrond, het ook net so lank gehou. Gou het ons agtergekom working from home beteken drie keer meer vergaderings en jou rug en loopbaan gaan gelyk in duie stort as jy dit op die bank lê en doen.

So hier sit ek in my werkshoek: ’n Groen fluweelstoel, ’n pragtige skildery van Ingrid Jonker in ’n goue raam, ’n antieke lessenaartjie wat my soos Emily Bront laat voel. Salig werk ek hier met die gekwetter van voëls buite en die gesnork van my honde binne. Ek het koffiebekers, ek het teelepels, ek het ’n skoon rekenaar en stoel. Niemand pla my nie, niemand kom drapeer lappe om my of maak vir my ’n Sissy Spacek-onion nie. Niemand hou my uit die werk met opvoerings van Egoli nie, niemand onderbreek my gedagtegang deur te vra vir ’n tissue of die spelling van “tatoeëer” nie. Geen onderbrekings, geen geraas, geen oopplan, geen verkeer. Waarom dan, elke keer wanneer ek na Ingrid kyk, lyk sy so hartseer?