Chris vertel dat hy dit sy missie gemaak het om hierdie juweel te vind. Weekliks was hy op al wat ’n eiendomswebtuiste is totdat hy hierdie huis met 52 trappies wat daarheen lei, en die allermooiste 360°-uitsig oor see en berg, naby die fontein in St. James opgespoor het. Hier voel ’n naweek of ’n paar dae asof jy in Europa kuier. Almal ken mekaar en groet en gesels as hulle vars water by die fontein gaan haal.

Huisrestourasie is vir Chris en Dan niks nuuts nie. Hulle het immers hul pragtige plaashuis en trouvenue se bou en restourasie met groot sukses aangepak (johannesdal.co.za). Die St. James-bouterrein was wel uiters moeilik (dink jou in om sakke sement en stene 52 trappe uit te dra), maar niks het hulle afgeskrik nie. Net die vier buitemure het bly staan terwyl hulle die binnekant heeltemal oorgedoen het.

Die huis het drie slaapkamers, elk met sy eie unieke badkamer, ’n ruim kombuis en leefarea. Daar is ook ’n dek rondom feitlik die hele huis. Dit is met voudeure toegemaak en bied enersyds sekuriteit terwyl dit andersyds as ekstra onthaalarea dien wanneer die weer nie saamspeel nie.

Die huis is met sorg en liefde in hul eie unieke styl gemeubileer. Chris en Dan vind die interessantste huisgoed by markte, ou winkels en op uitverkopings. Hulle is ook meesters daarin om nuwe lewe in ’n ou ding te blaas, en almal weet dat hulle toor met blomme, plante en ’n tuin. As jy ook hier wil kom oorbly en rus, kan jy deur johannesdal.co.za bespreek.

VAN KLIP GEBOU: Die mure en trap is van klip uit die omgewing en dra by tot die warm en gesellige gevoel van die huis. FOTO Stephané van Eck Photography
MOOI NET WAAR JY KYK: Die kombuis en leefarea is naatloos verbind met twee groot voudeure teenoor mekaar wat ’n onbelemmerde uitsig op die see en berg bied. Boonop is dit lekker warm in die winter danksy ondervloerse verhitting regdeur die huis. ’n Eenvoudige sementafwerking is vir die vloere gekies. Die groot kas het hulle op ’n uitverkoping by Block & Chisel gekoop. Bo-op die kas groei ’n kappertjie asof hy betaal word. FOTO Stephané van Eck Photography
MENS EN DIER WELKOM: Hul hondekinders kom gereeld saam see toe. Die bank het hulle op Facebook Marketplace gekoop en ’n los oortreksel daarvoor laat maak. Om te pas by die ontspanne atmosfeer van die huis gebruik hulle dit met die verkeerde kant na buite. FOTO Stephané van Eck Photography
OP DIE STOEP: Hier kuier hulle tog te graag, maar ook hier word versier met plante, blomme en optelgoed. FOTO Stephané van Eck Photography
BLOMME IN DIE KOMBUIS: Selfs al kom hulle net vir ’n naweek, is daar altyd vars blomme, soos hierdie bos sneeubalviburnums op die vensterbank. Van die kaste is met seeprente versier, en hulle het oop rakke gekies om hul breekgoed uit te stal. FOTO Stephané van Eck Photography
VAAR WEG: Selfs die mees verweerde tweedehandse vonds raak weer mooi onder hul talentvolle hande. Kleurryke kerse voltooi die prentjie. FOTO Stephané van Eck Photography
DIE GUNSTELING: Almal wat hier oorbly, is mal oor die verhitte bad (hot tub). Getrou aan hul aard, het dit ook ’n storie. Dit is eintlik ’n reuse-plantpot vir ’n boom wat Classic Stone in Lakeside vir hulle in ’n klein buitebad omskep het. FOTO Stepané van Eck Photography
DIE BESTE Lê PLEK: Soms is daar ’n gestoei oor wie op hierdie kleurryke dagbed ’n middagslapie gaan vang. Op die agtergrond is die hoofslaapkamer met ’n pragtige ou prent van die maan. ’n Seegrasmat sorg vir sag loop. Te salig vir woorde! FOTO Stephané van Eck Photography
BLOU BY DIE SEE: Gegiete sementrakke in die badkamer sorg vir genoeg pakplek, terwyl ’n verskeidenheid blou te ls van Moroccan Warehouse dit mooi versier. FOTO Stephané van Eck Photography
PLEK VIR DIE KINDERS: Kinders is gek daaroor om in hierdie kamer oor te slaap. Die beddens, met laaie vir stoorplek, is teen die muur ingebou en die kleingoed slaap voet aan voet. Die mat, wat soos verfplanke lyk, het hulle al die pad van Turkye af saamgesleep. FOTO Stephané van Eck Photography