Die Therons en hul drie dogters woon die afgelope 20 jaar in hierdie statige ou huis uit die 1930’s op ’n boomryke erf. Veertien jaar lank het hulle niks aan die huis verander nie, waarna hulle hul argiteksvriend Johan Slee (slee.co.za) gevra het om subtiele en respekvolle veranderinge aan te bring. Die struktuur en fasade is onveranderd gelaat, maar binne is mure platgeslaan om die huis ’n oop gevoel te gee, terwyl die eetkamer en kombuis omgeruil is vir beter vloei. Waar daar eers net een familiebadkamer was, het elke slaapkamer op die boonste vloer nou ’n en suite-badkamer.

Die garage is ná dese aan die kant van die huis, en daar is ’n romantiese tuin wat Peter en Mariette saam uitgelê het. Die stoep is uitgebou sodat dit reg rondom die huis loop.

Binne is die versiering uniek en ’n indruk-wekkende spel van kleure en style wat vermeng word. Mariette, wat self skilder, glo daaraan om opkomende kunstenaars te ondersteun, en hul kunswerke gekombineer met van haar dogters s’n hang die huis vol. 

Die tuin is vir hulle net so belangrik soos die interieur van die huis. Mariette is gedurig besig om plante en potte te verskuif. Oral is klein sithoekies, ’n visdam en lanterns, of kleurryke vlaggies wat uit die bome hang.

Jy kan nie help om met nuwe oë na die gebruik van kleur te kyk wanneer jy hier wegry nie.                                                    

Kleur waar jy kyk

Die sitkamer is die hartklop van die huis en hier is Mariëtte se fyn aanvoeling vir kleur duidelik sigbaar. Die meubels is ’n kombinasie van ’n Victoriaanse rusbank, art deco-stoele, en ultramoderne groen fluweelstoele gekoop by Tonic Design (tonicdesign.co.za). Die kunswerk bo die kaggel is deur hul dogter Georgia toe sy omtrent vyf of ses jaar oud was. Die ou tolletjietafel op die voorgrond het ’n laag helder verf gekry. Kyk na Duram (duram.co.za) se Chinese Chartreuse vir ’n soortgelyke groen verfkleur.

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

By die trap

Selfs aan die onderpunt van die trap het Mariëtte die potensiaal gesien om ’n klein hoekie in te rig. Die blou tafeltjie bied pakplek vir tydskrifte en die Lucellino-lig is deur die Duitse ontwerper Ingo Maurer. Die geraamde kunsafdruk bo die tafeltjie is deur die SA kunstenaar Claudette Schreuders. Die bonsai-eikebome is hul weergawe van ’n familieportret.

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

Nuut en antiek

’n Antieke gekerfde tafel, ’n moderne vaas met pioenrose en ’n ontwerper-tafellamp staan hier in harmonie.

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

Gunstelingvertrek 

Die lig in die sonkamer is altyd perfek, die atmosfeer vredevol en die dagbed met sy kleurryke kussings nooi jou om daar te kom terugsit en ontspan.

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

Songeel kombuis 

Die kombuis is nie afgeskeep met kleur nie en die heldergeel stoof tref dadelik jou oog. Die eiland was ’n toonbank by ’n ou mynmaatskappy en die Therons kon dit vir R150 koop, mits hulle dit self afhaal. Dit het behels dat dit 10 vloere afgedra moes word, want dit kon nie in die hysbak pas nie.

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

Pascale se kamer

Hul oudste dogter, Pascale, se kamer weerspieël haar eklektiese styl met die vermenging van antiek en kontemporêr, soos die hemelbed wat naatloos vermeng met die hanglig van Tord Boontje en ’n mideeuse lemmetjiegroen stoel.

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

Oopplan-badkamer 

Die boonste balkon is omskep in ’n en suite-oopplan-badkamer vir die hoofslaapkamer. 

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

Op my bedkassie

Op ’n skinkbord voor Mariette se bed is ’n versameling mooi goed, parfuumbottels en ’n magnoliablom. Die skildery is van hul middelste dogter, Andrea, deur die SA kunstenaar Kerri Evans.

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

Kleurvol

Die gebreide blokkieskombers op Mariette en Peter se bed herinner aan Georgia se skildery bo die kaggel in die sitkamer. Hier is ook ’n kombinasie van antieke kaste met moderne meubels en ligte.  

hì«÷
FOTO Greg Cox vir Bureaux

hì«÷
Die blomme, vrugte en breekgoed op die kombuiseiland onderstreep Mariëtte se oog vir ontwerp, kleur en komposisie. FOTO Greg Cox vir Bureaux
hì«÷
Kleurryke keramiekornamente, blomme en ’n antieke houthoedvorm maak ’n mooi prentjie. FOTO Greg Cox vir Bureaux
hì«÷
Die area onder die prieel by die kombuis is perfek vir onthaal. Die Ercol-styl stoele is met ’n grys tafel en mooi tafeldoek gekombineer. FOTO Greg Cox vir Bureaux
hì«÷
Die voorstoep kyk uit oor die lieflike tuin. ’n Ou Morrisstoel het ’n ereplek hier. Die klei-klompieteëls is in ’n visgraatpatroon gelê. FOTO Greg Cox vir Bureaux
hì«÷
Plante soos blou salie en kappertjies is tot teen die rand van die swembad geplant, wat dit eerder die gevoel van ’n dam gee. FOTO Greg Cox vir Bureaux