SARIE.com het met bekendes gaan gesels oor hul ‘nuwe normaal’ en hoe hulle daarby aanpas en by ’n kenner ingeloer vir raad.
Esther von Waltsleben, Suidooster se Elana, voel haar lewe het weer heeltemal teruggekeer na normaal. “Ek het geleer dat ek meer aanpasbaar is as wat ek gedink het. Die pandemie was heeltemal buite ons almal se beheer. ’n Mens moes planne maak om vooruit te kon beweeg en dit het my geleer om meer ontvanklik te wees vir veranderinge,” vertel sy.
Deesdae is Esther egter definitief meer bewus van kieme. “Veral in publieke plekke. Ek was beslis meer gereeld my hande en het steeds ’n botteltjie sanitiser in my handsak.”