2019 was een van Schané Venter se beste jare nóg. Dié 27-jarige van Alberton is in September gekroon as SARIE se 11de Voorbladgesig. En in Desember was sy as Mej. SA se logistieke bestuurder in die gehoor toe Zozibini Tunzi gekroon is as Mej. Heelal. Die kroon was skaars op Zozibini se kop, toe Schané Londen toe vlieg om Sasha-Lee Olivier te gaan ondersteun in die Mej. Wêreld-kompetisie.
Vanjaar gaan daar egter ’n nuwe hoogtepunt wees, want Schané trou in Mei met haar jare lange kêrel, Marion Fouché, ’n verkoopsbestuurder en beleggingspesialis. Hulle het mekaar by ’n studentekarnaval by Pukke ontmoet, sy was Mej. Jool en hy in die uitvoerende komitee. “Toe ek as Mej. Jool ’n seevakansie vir minder bevoorregte kinders reël, moes ek ook studente kry wat as voogde kon dien. Ek het Marion saamgenooi en dit is waar ons vriendskap begin het. Ons is al vyf jaar ’n paartjie, maar ek spot altyd dat hy my nooit amptelik uitgevra het nie. Sy eerste amptelike vraag was op 21 Oktober toe hy my vra om te trou!”
Sy sê Marion is die engel in haar lewe. “Ek noem hom ook engel en dit het al sy noemnaam geraak tussen ons vriende. Ons vul mekaar so goed aan en is basies dieselfde persoon, net ’n manlike en vroulike weergawe. Ek bewonder veral sy gedrewe en selfversekerde persoonlikheid, en hoe hy sonder moeite vir my gunsies en takies doen. Hy ken my soos die palm van sy hand en weet presies hoe om my te hanteer. En ek is nie die maklikste mens nie! Omdat ek self perfeksionisties, passievol en gedrewe is, moes ons leer om mekaar te respekteer. Ons moes leer wanneer wie gaan terugstaan. Marion maak dit so maklik vir my om vir hom lief te wees.”