Die kies van die finaliste vir SARIE Voorbladgesig, in trotse samewerking met Isa Carstens Akademie, is elke jaar ’n lang, intensiewe beoordelingsproses. Honderde inskrywings en ure en ure se kyk, weer kyk en bespreek totdat ons uiteindelik die groep het waaruit ons weet ’n wenner sal kom.
’n Gesig wat ons met trots op ons voorblad sal plaas; iemand wat saam met die vorige wenners ’n ware SARIE-ambassadeur sal wees.
Ontmoet die top-30 vir 2022!
Almal vroue wat inspireer en ’n verskil maak. Hulle kom van ons groot stede tot ons kleinste dorpe. Van Kaapstad, Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein en Polokwane tot Mookgophong, Oudtshoorn, Hermanus, Cradock – selfs Windhoek.
Onder die 26 wat SARIE se beoordelingspan gekies het, en die 4 wat deur SARIE.com-lesers aangewys is, is ’n apteker, dokter, optometris, tandarts, operasangeres, atletiekafrigter, balletonderwyseres, taalinstruktrise, lektrise, aktrise, polisieoffisier en sommer ’n handvol entrepreneurs, onderwyseresse en studente. ’n Opwindende groep vroue.
Die finaliste sal ook aanlyn op SARIE.com voorgestel word deur ’n kort video wat elkeen aan SARIE gestuur het.
Saam sal julle kan sien wie hierdie vroue is en waarom hulle besluit het om in te skryf vir Suid-Afrika se unieke voorbladgesigwedstryd. Onder húlle is die wenner, SARIE Voorbladgesig 2022!
Michélle en die SARIE-span
Hier is die 4 inskrywings wat die meeste stemme op voorbladgesig.sarie.com gekry het. Hulle is deel van ons top-30.
Volgende vir SARIE Voorbladgesig
Die top-5 van SARIE Voorbladgesig verskyn in die September/Oktober-uitgawe van SARIE. Daarna kom al vyf finaliste in Kaapstad bymekaar vir ’n fotosessie waar hulle deur Fanie Cronjé, SARIE-stylredakteur, en die beste grimeerkunstenaars en haarstiliste onder hande geneem gaan word – nes al SARIE se vorige voorbladsterre.
Vind op 4 November uit wie die wenner is wanneer SARIE se November/Desember-uitgawe met haar op die voorblad verskyn!
Volgende vir SARIE Nuwe Gesig
Vanjaar tel ons af na die Top-5 van SARIE Nuwe Gesig. Op Vrouedag (9 Augustus) kondig ons die top-30 op SARIE.com aan – en elke dag val een weg tot daar uiteindelik net vyf finaliste oorbly.
Die wenner van SARIE Nuwe Gesig word 4 Oktober op SARIE.com aangekondig en verskyn op die voorblad van ’n kleiner weergawe van SARIE se November/Desember-uitgawe.