Die voormalige Amerikaanse Vogue-redakteur en deesdae artistieke direkteur van Condé Nast is al vir jare die eregas, nie-amptelike beoordelaar en hekwagter van elke groot modeweek in die wêreld.
Met haar groot donkerbril en kenmerkende bob-haarstyl sit sy altyd in die voorste ry. Haar strak gesig langs die loopplank laat selfs die gesoutste ontwerper in sy blink skoene bewe. Die 68-jarige Wintour staan nie verniet as die yskoningin bekend nie. Haar voorkeure en afkere het ’n reuse-invloed op die seisoen se trends.
Gister het Wintour by die jong, opkomende ontwerper Richard Quinn se vertoning egter koninklike geselskap gehad. Langs haar het koningin Elizabeth statig in ’n blou rok en baadjie gesit – die eerste keer wat sy die modeweek bywoon.
Na afloop van die vertoning het sy aan Quinn die Koningin Elizabeth II Toekenning vir Britse Ontwerp oorhandig. Hy is die eerste ontvanger van die toekenning, wat die koningin wil hê deel van haar nalatenskap moet wees.
Dit was nie Wintour en die koningin se eerste ontmoeting nie. Wintour is verlede jaar deur die koningin vereer met die titel dame – die vroulike ekwivalent van ridderskap. Dit was vir Wintour se diens aan die joernalistiek en mode.
Talle in die gehoor was onkant betrap deur die koningin se teenwoordigheid en op sosiale media het dit gegons. MailOnline het selfs kenners gebruik om haar en Wintour se lyftaal te ontleed. Die resultate? Die hoof van Engeland is op haar gemak langs die loopplank. En Anna Wintour? Vrywende hande en ’n vinnige glimlag het die yskoningin se kinderlike opwinding agter haar donkerbril verklap.