Deel

2017 se Voorbladgesigwenner terug op die kassie: ‘Sukses gebeur nie oornag nie’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daar is ’n paar goed van 2017 se SARIE Voorbladgesigwenner, Yolani Abrahams, wat min mense weet. Al is fyngebak haar groot liefde en passie, is sy beslis nie jou doodgewone koekiebakker nie.
Yolani Abrahams is die mede-aanbieder van die nuwe
Yolani Abrahams is die mede-aanbieder van die nuwe VIA-program ‘Kookpunt’. Foto: Verskaf.

Sy is eintlik ’n opgeleide fynproe-foendi wat ure op haar voete kan staan, vir ’n magdom mense kan kook en dan weet sy net hoe om daai smake in jou mond te laat ontplof.

’n Ander ding: Sy’s eintlik teruggetrokke – maar sit haar voor die rollende kameras en die ingetoë meisie van Ceres ontpop in ’n ware ekstrovert.

“Toe ek Voorbladgesig wen, het SARIE na my verwys as ’n verkleurmannetjie wat oral kan aanpas. Ek hou nogal van daardie beskrywing,” vertel sy met ’n vonkel in haar groot, ligbruin oë.

Yolani op die voorblad van SARIE in 2017.
Yolani op die voorblad van SARIE in 2017. Foto: Argief.

Danksy daardie wonderlike eer in 2017, het die deure in die kosbedryf een vir een vir Yolani begin oopswaai. “Ek het toe ook net Kole en Deeg op Tulbagh saam met my twee oudste twee broers, Etienne en Leolan, begin. Ek het regtigwaar soms gedink mense sien nie ons plattelandse mense eintlik raak nie. Maar toe begin almal skielik van my kos en gebak kennisneem. SARIE se Voorbladgesig-wedstryd het my letterlik op die map gesit.”

Nie lank nie of die TV-wêreld het begin wink. “Ek is gebel om ’n oudisie af te lê vir die kosprogram Spyskaart op SABC2 en was verbaas toe ek as mede-aanbieder gekies is; dis maar ’n kans wat ek gewaag het. Daar het ek só ongelooflik baie geleer – ons het ’n dadelboerdery besoek en selfs die koringlande waar die meel geproduseer word waarmee iemand soos ek byna elke dag bak. En dalk is daar ’n derde seisoen in die pyplyn . . . ons kyk maar,” sê sy effe geheimsinnig. 

Spyskaart was sy ook aanbieder van Kuier-mense en My Kersfeeskombuis op VIA en nou is Yolani mede-aanbieder van VIA se splinternuwe Kookpunt saam met sjef en restaurateur Chris Erasmus.

Yolani saam met sjef Chris Erasmus.
Yolani saam met sjef Chris Erasmus. Foto: Verskaf.

Sy haal haar hoed af vir daardie drie sjefs wat dit moet uitspook om ’n wenprys van R25 000 los te kook met soms vreemde bestanddele wat wissel van varkharte tot mopaniewurms.

“Ek dink die program gaan mense voor hul skerms vasgenael hou – daar is hope druk en baie drama in die kombuis. En die sjefs moet alles uithaal om wonderlike restaurantgehalte geregte vir ons voor te sit.”

Ouma Sarah, alombekend as Baby, en haar verpleegster-ma Maggie, oftewel Suster Maggie, het daardie kosliefde aangewakker. Yolani het al op laerskool in die kombuis begin eksperimenteer en toe sy eers begin, kon sy nie ophou nie. 

“Ek moes vir ’n Engelse mondeling iets maak en dan elke stap verduidelik. Ek het wafels gemaak uit ’n ou kookboek van my ma wat al sonder ’n voorblad was. Dit het eers geflop en toe kry ek dit uiteindelik lekker lig en krakerig.

“Wanneer my ma werk toe gegaan het, het ek haar resepteboeke uitgehaal en als op die proef gestel – van plaatkoekies tot skuimpies. Ons huishulp, Aunty Georgina, het heel lekker saamgeëet.”

Sy het haar eie eetgoed vir die kerkbasaar en die skool se entrepreneursdag begin optower en dit dan verkoop. “Die plan is om al my ma se gunstelingresepte te vervolmaak en dan ’n boek saam te stel met al daardie resepte in – ek koester dit. En my ouma het ’n hoë standaard gestel vir gebakte aartappels en groenboontjiebredie. Dis so snaaks dat ek al een is wat ’n sjef geword het. My broers is in die ingenieursbedryf, maar hulle hou van onthaal en lekker kos.”

Haar passie as entrepreneur kom van pa Trevor – hy het eers in die korporatiewe wêreld sy ding gedoen, maar het al die jare gedroom daarvan om te boer . . . en dis presies wat hy deesdae doen op sy plaas Berbershoek naby Wolseley.

Destyds wou Trevor net mooi niks van sy enigste dogter se sjefgoeters hoor nie. “Ek het letterlik gestaan met die Universiteit van Stellenbosch se papiere in my een hand en die sjefskool s’n in die ander. Hy het vir my gesê: ‘Jy gaan universiteit toe. Jy kan nie jou rekeninge betaal as jy ’n sjef is nie.’ Ek het ingeskryf vir ’n BA-graad en is varsity toe, steeds met die wete dat my hart eintlik by kosmaak lê.”

Twee jaar later het sy opgeskop om haar sjefdrome na te jaag. “Ek onthou ek het die een dag uit die kampusgebou gestap, my ouers gebel en gesê ek gaan sjefskool toe. Dis hoe ek toe kulinêre kuns aan The Private Hotel School op Stellenbosch gaan studeer het. En, snaaks genoeg, my ouers het my selfs tóé steeds bly ondersteun.”

Sy lag lekker en trek haar skouers op as mense dink sy bak net koekies vir ’n lewe – Yolani het immers by die gesogte Cavalli onder Henrico Grobbelaar ingeval ná sjefskool. “Ek het later in fyngebak gespesialiseer, en het al byna als gemaak: Gelato, brode, die lekkerste macarons en interessante nageregte. Maar my fondasie was goed gelê in fine dining.”

By Benguela on Main het die bekende Michelin-sjef Jean Delport haar onder sy vlerk geneem (dié het later vir homself ’n vername loopbaan in Engeland uitgekerf). En by die Terroir-restaurant by Kleine Zalze is Yolani touwys gemaak deur die gesoute Michael Broughton. 

Dit gaan ook klopdisselboom met Kole en Deeg op Tulbagh. “Om te dink alles het begin met net roosterkoeke wat ons aan skole, besighede en onder familielede verkoop het, en ons het dit self gaan aflewer ook. Nou het ons ’n gebou gekoop, ons maak ons eie koffie en het selfs ons eie koffiemengsel. Ons bedien ook ontbyt en middagetes. Ek sê vir jou, tot vandag toe sal ek drieuur soggens opstaan om te begin bak vir die besigheid as ek moet – dis nou ons baba daai.”

Verlede jaar het sy afgehaak met Anwar Abdullatief, self ’n kosliefhebber en uithaler-sjef wat tot onlangs uitvoerende sjef van Siba Mtongana se Siba by die Table Bay Hotel was.

Deesdae is hy mede-eienaar van die spyseniersmaatskappy The Happy Uncles waar Yolani ook graag handjie bysit.

Maar wanneer die twee ná ’n lang werksdag tuis in Milnerton skoene uitskop, verkies hulle moeitelose kortpadkos.

“Dis steeds lekker kos, maar dis nie asof ons juis uit ons pad sal gaan om elke aand ’n jus te maak nie. Ons kook om die beurt en eet graag plantgebaseerd tuis. Ek is mos deesdae ’n pesketariër en eet vis of seekos – los maar die vleis. Die sooibrand het my erg ondergekry. Toe ek my eetgewoontes verander, het dit die wêreld se verskil gemaak – ek hoef nou nie meer elke dag ’n pilletjie te neem vir sooibrand-verligting nie.”

Die Voorbladgesig-wenner van destyds is nou ’n knap sakevrou en ja, erken sy self, sy het geweldig baie gegroei. “Sukses gebeur nie oornag nie, daar was al baie foute en trane, daar was lesse en seer voete. Ek is ’n klein meisie, maar ek skrik nie vir harde werk nie. Anwar is drie keer die harde werker wat ek is en daardie energie van hom is voedsel vir my siel. Hy leer my geweldig baie en ek leer ook baie by mense wat my pad gekruis het en my met hul stories van uithou en aanhou geïnspireer het.”

Natuurlik is sy nog lank nie klaar gedroom nie. Yolani hunker nog na haar eie TV-program waar sy haar liefde vir plantgebaseerde kos wil deel. “Ek wil juis daardie resepte met mense deel sodat hulle meer ingelig kan wees oor hoe lekker jy wel kan eet met net groente op jou bord.”

  • ‘Kookpunt’ wys elke Dinsdagaand om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147).
  • Het jy al ons top-30-finaliste van vanjaar se SARIE Voorbladgesig-wedstryd gesien? Deel die opwinding met ons en hou SARIE se sosialemediaplatforms dop.
JONGSTE UITGAWE

Maart/April-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees