Suid-Afrika se goue held, Akani Simbine, skuif in sy stoel in by ’n restaurant langs die Hoëprestasiesentrum in Pretoria waar hy oefen – die ene bultende spiere.
Ten tyde van die onderhoud is dit skaars drie weke ná die Statebondspele in April waar hy die goue medalje in die 100 m-naelloop in ’n tyd van 10.03 sekondes verower het – die eerste Suid-Afrikaanse man ooit wat by die byeenkoms goud in dié prestige-item kon kry.
Hy bestel ’n sjokolademelkskommel. Hy het dalk oornag ’n held vir ’n nuwe generasie geword, maar hy is steeds net ’n gewone 24-jarige wat vertel hoe hy tuis Xbox speel en Netflix kyk – al is dit in die jongste Adidas-modes wat hy deesdae van sy borge ontvang.