Die twee akteurs, Elani Dekker en Stiaan Smith, wat hierdie rolle vertolk, het egter ’n baie spesiale storie – hulle het ook verlief geraak tydens verfilming in 2018.
“Dis vir my so lekker om weer 'n bietjie aan Toorbos te dink!” vertel Elani. “Toorbos is ’n pragtige film en ’n ikoniese Suid-Afrikaanse film. Dit speel af in ’n tyd en plek in ons land wat baie van ons nog nooit beleef het nie. Daar is ook sterk temas van verandering en vooruitgang in Toorbos.”
Karolina, die karakter wat Elani vertolk, word konstant uitgedaag om op te staan vir wat sy glo reg is en om gegrond te bly in haar waarheid. “Hierdie storie sal hopelik vir mense die moed gee om aan te hou groei en sterk te staan wanneer dit voel asof ons effens ontwortel word,” meen sy.