Bonné de Bod het al in ongerepte wildernisgebiede oraloor die wêreld verfilm. Maar daardie dag toe sy langs die verdoofde poema kon stap, aan hom kon vat, hom selfs kon help dra, het ’n droom waar geword.
“Hulle word mos die spoke van die Andes genoem. Misterieuse diere wat soos skaduwees in die skouspelagtige canyons rondbeweeg. Ons weet so min van hulle.”
Met hande wat beduie: Só min. En jy luister, betower. Haar verwondering raak ook joune. Want dis haar gawe: Om jou te laat voel jy is dáár, jy beleef dit self.