“Vandat ons so stadig maar seker die nuus met ons naastes begin deel het, het dit ge-boom en dis lekker, want daar is mense wat saam met jou uitsien,” vertel Sanel opgewonde.
“So, dit gaan goed met ons. Ons is regtig lekker bedrywig en daar is min tyd vir stilsit, maar dit is goed,” meen sy.
“Ons Pool-baba is ’n dogtertjie,” het Sanel Sondag op sosiale media geskryf.
“Ek weet dis nog lank, maar ek kan nie wag om te sien hoe sy haar pappa om haar pinkie gaan draai en ons ’n paar dinge van die lewe gaan kom leer nie,” sê sy.
En pappa?
“Geweer is gelaai en die rekkie tang is reg om te rol! Klonge kan maar lig loop!” het Willem weer speels laat hoor.
Iewers in Maart vanjaar het Sanel begin agterkom iets is snaaks en dat sy laat en baie moeg was en besef sy is swanger. Die paartjie was van plan om eers in volgende jaar êrens met ’n gesin te begin.
Aanvanklik het sy gedink dalk is dit net haar verbeelding, maar ná so twee dae, kon sy die nuus nie meer vir haarself hou nie. “Ons het ’n rukkie gelede een van daardie bordjies gekry met lettertjies op dit,” vertel sy. “Ek het toe vir Willem ’n bordjie gemaak met die woorde: ‘Raai wat? Jy word ’n pappa, my skat!’”
Die paartjie het ook eenkeer ’n baba uitrusting gekoop wat vir hulle oulik was, wat sy by die bordjie gesit het.
Destyds, met Boer soek ’n vrou, het Willem vir die dames babaskoentjies (vellies, nogal) op hul beddens gesit as geskenk. Dit het sy ook by haar aankondiging geplaas.
“Willem was verskriklik bly,” onthou Sanel. “Hy het op en af gespring en sy hande geklap en tekere gegaan,” lag sy.
Sanel is nou sowat 14 weke swanger. “Ek moet sê, aan die begin was ek vreeslik moeg en saans nogal naar. Dit is ’n moegheid wat ek nie gedink het ’n mens kan hê nie! Ek moes smiddae ná skool ’n slapie vat voor ek kon aangaan met die dinge van die dag en saans het ek sou gou as ek kon weer uitgekap op die bed.”
Willem spot en sê sy begin olik voel sodra sy voor die kospotte moet inskuif, sodat hy moet kosmaak. “Dis ook net hy wat sulke grappies sal maak!” lag sy.
Die paartjie se gebed vir hul kind is gesondheid.
“Ons hoop die lewe sal uitwerk soos die Here vir hom of haar beplan het en dat die kind in Sy lig sal wandel. Ek hoop ook dat hy of sy van Willem se goeie kwaliteite en eienskappe sal hê om in die samelewing rond te dra en ook dat hulle op die einde van die dag hul eie potjie sal krap, maar met ’n goeie fondasie en die lewe sal geniet sonder spyt!”