EKSKLUSIEF: ‘Op my eish!’ se omstrede Ceylonia gesels openlik met SARIE ná sy haar tasse moet pak

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Of jy nou mal was oor haar, en of sy jou teen die mure uitgedryf het, Ceylonia Bekker (27) het beslis ’n blywende impak gemaak op aanhangers van die kykNET-realiteitsreeks, ‘Op my eish!’.
Ceylonia Bekker het kykers van ‘Op my eish!’ dikwe
Ceylonia Bekker het kykers van ‘Op my eish!’ dikwels die harnas in gejaag, maar het tog ook eindelik in hul harte gekruip. Foto: Verskaf.

In hierdie week se episode gee Francois haar die trekpas, maar nie voordat hy en kykers ’n blik op die ander kant – die sagte, kwesbare kant – van haar gesien het nie.

Ceylonia, wat oorspronklik van Johannesburg is, maar onlangs Kaap toe getrek het, is ’n grafiese ontwerper en digitale bemarker. “Ek was altyd ’n aktrise en ’n gimnastiek-coach. I’ll get back there someday!” belowe dié vrolike blondine.

Aanvanklik was die Op my eish!-ervaring nie vir Ceylonia baie aangenaam nie. Sy het gesukkel om aanklank te vind by die ander deelnemers en was onseker of sy moet aanbly. “Aan die begin was die meisies baie lelik met my, jong! Hulle wou nie eens ’n kamer met my deel nie – nie een van hulle nie.”

Sy erken sy het ’n paar keer in die badkamer gaan huil omdat dit gevoel het soos hoërskool en dat sy geen vriendinne gehad het nie omdat sy weird was. Op ’n stadium het Ceylonia haar ma sommer drie keer per dag gebel om te kla. “My pa het vir my gesê ek moet bly en ek is so bly ek het!”

Gelukkig het dit makliker geraak, soos die meisies mekaar leer ken het. “Ek is eintlik ’n baie lojale maatjie. Ek het almal moed ingepraat en hulle ondersteun. Ek het ongelooflike vriendinne gemaak en ek dink ek was ’n positiewe invloed op almal. Almal het vir seker baie gelag en dít maak my bly,” glimlag sy.

Sy het besef om deel te neem aan Op my eish! was dalk een van die beste goed wat sy vir haarself kon doen. “Dit was ’n rollercoaster van emosies, maar ek het werklik ’n lekker tyd gehad en so baie gelag vir myself en almal om my.” Vandat sy kan onthou het sy altyd gevoel mense dink sy is ’n bietjie oordadig. “Te veel, te loud, te aktief, te mooi, te dom, te vriendelik, te weird. Maar verbeel jou ek was vervelig . . . Ek kan aan niks erger dink as dít nie!”

Sy sien haarself as van nature ’n kleurvolle mens. “Ek het vir ’n baie lang tyd my liggie ge-dim om ander mense meer gemaklik te maak.”

Met tyd het sy besef sy kan net haarself wees. “Ander mense se insecurities is presies dit – hulle s’n. Ek sal nooit iets doen om ander af te kraak of minderwaardig te laat voel nie, so hulle moenie verwag dat ek dit aan myself gaan doen nie.”

Ceylonia erken sy is self eintlik ’n bietjie onseker van haarself. Haar masker, is een van vriendelikheid. “My groot smile of my grappies. Dis ook die grimering, die hare en die glam en bling. Ek wil altyd net die beste weergawe van myself wees. Dis harde werk en soms weet ek dis nie nodig nie, maar daarsonder voel ek vaal. Ek sal so ’n bietjie die masker laat sak, maar nooit heeltemal nie en nie vir almal nie.”

Ceylonia en Abigail neem hartseer afskeid van meka
Ceylonia en Abigail neem hartseer afskeid van mekaar. Foto: Verskaf

Nadat sy haarself op Op my eish! gesien het, het Ceylonia besef sy hoef nie so hard op haarself te wees nie. “Ek het geleer ek is eintlik mooier as wat ek gedink het – nie op ’n vain manier nie.”

Sy verduidelik sy is baie krities op haarself wanneer dit kom by haar voorkoms. “Sosiale media doen dit aan ’n mens. Ek moes konstant in ’n spieël kyk op die program, maar toe ek dit op TV sien, het ek gehou van myself. Ek sal dalk my hare ’n bietjie donkerder, meer natuurlik maak, maar ook mooier praat met myself.” 

Ceylonia is nie spyt dat sy aan dié maatsoekprogra
Ceylonia is nie spyt dat sy aan dié maatsoekprogram deelgeneem het nie. Foto: Verskaf.

Hoewel ander mense haar dalk steeds oordeel, is sy klaar daarmee om haarself te oordeel. “Ek het geleer ek hou van myself en wie ek is. Ek is trots op daardie meisie want sy is eintlik cool.”

Vir haar was die Op my eish! meer oor die ervaring as die hoop om liefde te vind. “Ek het geweet waarvoor ek inskryf en het regtig nie gedink ek gaan daar wegstap met ’n ring aan my vinger of swanger en kaalvoet in Francois se kombuis rondtrippel nie,” lag sy.

Haar perfekte pasmaat is iemand saam met wie sy kan lag. “Ek hou ook van ouens wat goeie styl het en wat omgee oor my en my mental health. ’n Mens moet mekaar mooi oppas in die klein goedjies en vir mekaar ook spasie gee om te groei, want niemand bly dieselfde nie. Dankie tog!”

Al het Ceylonia nie intense gevoelens gehad vir Francois nie, was sy geskok om te hoor sy gaan huis toe. Sy was nog nie gereed om haar tasse te pak en na haar lewe terug te keer nie. “Dit was omdat ek dit so geniet het – die mense, die kameras en selfs die awkward tye saam met Francois.” 

In daardie oomblik het dit vir haar gevoel asof sy gefaal het. “Ek het geweet ek kon nie langer bly nie. Dit was nie die ‘Ceylonia Show’ nie. Dit was Francois se show en sy konneksie met die ander meisies was sterker. Ek kon ook nie meer dink aan maniere om hom te dodge oor die soenery nie en ek was dalk emosioneel gedreineer op daardie punt.”

Hoewel sy hartseer was om die program te verlaat, was Ceylonia baie trots op haarself – ook omdat sy dapper genoeg was om in haar laaste episode haar hart oop te maak en haar sagter kant te wys. “Ek is oor niks spyt nie. Ek wou so graag net van hom hou en die show klaarmaak saam met hom. As ek terugdink aan daardie oomblik was ek regtig besig om te worstel met dinge waarmee ek nie in die verlede ge-deal het nie. Ek het ’n muur op as dit kom by my verhoudings.”

Sy het uiteindelik besef hoekom nie een van haar vorige liefdesverhoudings uitgewerk het nie. “Ek hardloop altyd weg as dinge te diep raak. Maar hierdie keer moes ek voor daai kamera bly sit en gesels oor dinge. Ek dink Francois het dit mooi hanteer.”

Ceylonia weet sy het nog baie emosionele werk om te doen voor sy haar hart aan iemand sal kan gee. “Ek dink dit sou unfair gewees het as ek my alles vir Francois gegee het en gemaak het asof ek weet hy is die man vir my. Ek sou later tien teen een met hom opgebreek het, wat ’n gemors sou wees.”

Tog is sy dankbaar sy kon haarself in daardie oomblik beter leer ken en gun sy vir Francois net geluk vir die toekoms en vir sy verhoudings. “Best believe that man dodged a bullet!” lag sy. “Ek sou sy hartjie goed vuilgetrap het, dan gebreek en dan versuip het!”

Vandag weet sy dinge tussen haar en Francois sou nie uitgewerk het nie. “Hy is ’n oulike ou met ’n goeie hart, maar ná my laaste oomblikke op die program het ek nooit weer aan hom gedink of gewonder wat tussen ons kon gebeur nie.”

Aan die storm wat sy van tyd tot tyd onder kykers ontketen het, steur Ceylonia haarself min. “Ek probeer om van sosiale media af te bly en nie dinge te persoonlik op te vat nie. Daar was baie mooi comments en boodskappe en om goeie terugvoer oor jouself te kry, is ’n droom.”

Die lelike en negatiewe kommentaar pla haar nie veel nie. “Mense moet sê wat hulle wil en dit uitkry. Baie kere is mense net nasty want hulle het probleme by die huis of is ongelukkig in hulself en ek voel jammer vir hulle.”

Sy sou graag elkeen van die mense wat haar sleggesê het vir koffie wil neem en laat lag. “Mense moet nou en dan lag. Jy moet mooi kyk na jouself en die mense om jou en nie toelaat dat iemand jou goeie vibes steel nie.”

Al het sy nie hierdie keer gewen nie, sal Ceylonia beslis weer aan so ’n tipe TV-program wil deelneem in die toekoms. “Dit was vir my so fun en ek met myself gate uit geniet! Ek het ook geleer ek het eintlik ’n goeie persoonlikheid en geniet dit om mense te entertain. Ek gaan vir my ’n show soek, of sommer self een skryf. Mark my words . . .”

  • ‘Op my eish!’ is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) te sien. Kyk ook die vorige episodes op DStv Catch Up.

JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees