Van die begin af is dit ooglopend dat Mariska meer as net ’n mooi gesiggie, of, soos Anita haar beskryf het, ’n “pienk ontploffing” is.
“Ek is aan die gang en baie besig,” vertel die blondekop-vrou. “My aanlyn pre-loved klerewinkel, SELLfie ontvang daagliks nuwe items en dis fantasties hoe vroue inkoop in die idee van sustainable shopping.”
Sy is ook tans besig met die opname van ’n paar episodes van haar potsending, Get Mental With Me. “Ek sal graag 10 episodes wil opneem voor ek elke maand een vrystel. Die fokus van die potsending is om met verskeie kenners te gesels oor alternatiewe behandelinge vir geestesgesondheid en mindfulness.”
Iets in haar lewe waaroor sy ook baie opgewonde is, is die bekendstelling van ’n nuwe room vir swanger vroue. “Dit is ’n magie- en bors-room vir swanger mammas wat help met rekmerke en om daardie groeiende magie en boobies voor, tydens en veral na swangerskap te behandel.”
Mariska, wat self reeds 36 weke swanger is, werk al vir die afgelope drie jaar daaraan om seker te maak dat die formule, tekstuur, bestanddele en reuk van die hoogste gehalte is en resultate lewer.
“Ek sal myself beskryf as tipies both the storm and the calm,” vertel sy. “Ek kan vir seker nie stil sit nie en is reg vir enige avontuur! Ek is soms baie ernstig oor kwessies na aan my hart, maar vat myself nie te ernstig op nie, ek hou daarvan om altyd myself te challenge en te groei in elke aspek van die lewe.”
Mariska het Die real Housewives van die Wynlande aangepak met ’n sagte gesindheid en oop hart. “Ek wou ’n goeie sin van humor handhaaf regdeur die reeks, maar nie ’n pushover wees nie. Ek het nog altyd ’n sterk persoonlikheid gehad,” vertel sy.
Sy voel teen episode drie het kykers nog nie werklik die regte Mariska beleef nie. “My beeld tot dusver is ongelukkig die tipiese ‘dom blond’, wat my glad nie aanstaan nie,” erken sy.
“Dis ’n cliché en boks wat ek beskou as uit die oudedoos saam met Van der Merwe-grappies en iets moes teenstaan my lewe lank. Ek is vinnig weer herinner mense sien net wat hulle wil, en wat hulle wil sien is die boks waarin hulle my plaas.”
Met ’n honneursgraad en as iemand wat reeds by drie JSE-genoteerde maatskappye gewerk het, is Mariska alles behalwe ’n dom blond. “In die 15 jaar wat ek in die finansiële markte gewerk het, het ek hard gewerk om te verseker dat ek finansieel onafhanklik wou wees van ’n man. Ek het dus baie laat getrou en kinders gekry,” meen sy.
In die eerste episode word Mariska oor die kole gehaal, omdat sy nie geweet het wat KWV, die maatskappy vir wie Anita se man werk, was nie. “Om nie al die handelsmerke onder die bestuur van KWV te ken nie, was eerder ’n weerspieëling van my beperkte drinkgewoontes,” verduidelik sy laggend.
Konflik is nie iets wat sy geniet nie. “Sonder om te veel weg te gee, was hierdie episode die eerste keer wat ek sekerlik ooit sulke tipe konflik moes navigate. Ek het baie van myself en die ander dames geleer in daardie oomblik.”
Mariska se eersteling, Ocean, is tydens die inperking gebore, ’n jaar nadat sy haar loopbaan in finansies om halt geroep het. “Die pandemie het my prioriteite verander en ek het besef dis oukei om nee te sê en jouself en jou gesin eerste te plaas.”
Dit is juis hoekom Mariska besluit het om eerder haar dogtertjie se eerste skoolkonsert by te woon en sodoende laat op Karen se plaas arriveer het.
Vir Mariska het die lewe nog nie veel verander sedert Real housewives begin het nie. “Ek was besig voor die program en ek is dalk nou nog meer besig. Ek skrop ook nou nes om reg te maak vir die babatjie. Maar, ons bly in Franschhoek, so ek sou raai 50% van die inwoners weet nie eens ek is op die program nie!” lag sy.
Babatjie, ’n seuntjie, kom in Junie. “Ek is baie geseënd met ’n gesonde swangerskap,” vertel sy dankbaar. “Ek was swanger tydens verfilming, maar het dit eers baie later onthul, vir al die belangrike redes en net so voor my magie dit sou weggee.”
Sy en haar gesin is baie opgewonde oor die koms van hul seun. “Ons is baie opgewonde. Dis so ’n groot seën en ons sien baie uit om hom te ontmoet.”
Met Ocean, het sy en haar man, Quintus, aanvanklik nie geweet dis ’n dogtertjie nie. Hulle het eers uitgevind tydens ’n vakansie in Italië. “My ouers het die gender reveal-poeier in die kleur van die geslag saam gestuur,” vertel sy. Op die dak van die Antara Convento-hotel in die Amalfie het hulle die pienk poeier in die lug sien sweef.
Met die paartjie se tweede babatjie was hulle tuis. “Hulle het vir ons ’n sambreel gevul met konfetti en streamers in die kleur van die geslag,” vertel sy. “Ons het toe my familie (sussie) in Australië via Zoom geskakel en die sambreel oopgemaak saam met Ocean en die konfetti wat bo-oor ons gereën het.”
Hulle het ook kolwyntjies laat vul met die kleur van die geslag. “So, dit was weer ’n groot verassing vir ons almal.”
Die geslag was egter nie vir die paartjie iets wat vreeslik saak gemaak het nie. “Maar ek love dat ons ’n dogtertjie en seuntjie gaan hê. Sy sussie het reeds ’n baie sterk persoonlikheid en presence, so ek glo God het ons met rede geseën met ’n seuntjie.”
Sy en Quintus het reeds ’n paar name wat hulle oorweeg. “’n Naam is so belangrik, so ons vat ons tyd om te besluit. Dalk besluit ons finaal op pad hospitaal toe!” lag sy.
Ocean het reeds haar eie naam vir haar kleinboet. “Sy noem hom baby Shark (ironies genoeg) en sy roep my gereeld om vir hom iets te kom wys terwyl sy speel. Ek dink sy is baie opgewonde.”
Ousus, wat nou vier is, is in die harde inperking gebore. “Ons mag daardie tyd nie babaklere gekoop het, of selfs buite gewees het nie,” onthou Mariska. “Familie en vriende het haar amper eers ’n jaar later ontmoet. Mense het vir maande lank nog daarna met maskers geloop en so met haar gekommunikeer – so álles gaan hierdie keer anders wees.”
Niks sal egter verander hoe die paartjie hul seun gaan grootmaak of liefhê nie. “Dit sal altyd konstant bly in alle omstandighede.”
Oor die res van Die real housewives vertel Mariska: “Ek hoop mense sal in al die donker van beurtkrag die ligte kant van die Housewives-reeks ervaar en waardeer dat die reeks veronderstel is om ’n bietjie stout te wees – soos die destydse Vetkoekpaleis of Golden Girls, maar sonder ’n script.”
Die reeks het ook ’n meer ernstige kant. “By tye spreek ons ernstige kwessies aan, soos dat vroue mekaar moet opbou en ondersteun. Ook, dat ons almal net ’n bietjie kinder met mekaar moet wees.”
Vir haar het ’n huisvrou nie net een rol om te vervul nie. “Sy is die gom van die gesin, maar haar belangrikste rol is om volheid vrou te wees, haar eie identiteit te behou en dan te kan afpak by vriendinne as dinge moeilik raak, om lekker laf te kan wees by tye en vir haarself te lag.”
- ‘Die real housewives van die Wynlande’ is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Dertien jaar gelede het die eerste wenner van SARIE Voorbladgesig op ons voorblad gepryk – Alrie Velleman van Gqeberha.
Verlede jaar was Brittany Smith ons wenner.
En nou is dit tyd om ons 13de Voorbladgesig te kies. Dalk is dit jou jaar!
Dit is ook die vierde jaar dat ons SARIE Nuwe Gesig, spesiaal vir leerders van gr. 10 tot gr. 12, aanbied.
Ons vennoot van die afgelope vyf jaar, die Isa Carstens Akademie, kry boonop ’n nuwe spanmaat, African Extracts, en sáám is ons opgewonde om te sien wie vanjaar met die voorblad wegstap.
Gryp die geleentheid aan om deel te wees van iets besonders!