SARIE.com het met die regisseur van Die real housewives van die Wynlande, Pascual Wakefield, gesels oor die program en waarmee hy homself besig hou noudat dit klaar verfilm is.
“Ek dink as jy vir enige van my vriende vra sal hulle sê ek sit nie stil nie. Ek het darem so ’n maand af gehad om net asem te haal nadat ons klaar geskiet het aan Real housewives. Intussen het ek ook al ’n bietjie gespeel in ’n Showmax-projek en ook ’n klein rol gehad in ’n reeks wat binnekort op kykNET is.”
Pascual is ook reeds besig met ’n nuwe projek. “Ek ontwikkel ’n nuwe formaat vir ’n program en gaan dan later vanjaar die regie ook behartig.”
Oor die Real housewives van die Wynlande as eindproduk, is Pascual baie trots. “Hoe die program lyk, asook die inhoud. Ons het regtig verskriklik baie moeite gedoen om dit mooi te skiet en te spog met hoe mooi die Wynlande en sy mense is,” vertel hy.
“Ek is so trots op elke vrou en persoon wat betrokke was om hierdie moontlik te maak en is baie dankbaar dat Red Pepper Pictures asook die hele crew soveel vertroue in my geplaas het om hierdie projek te lei.”
Vir hom lê die sukses van so ’n projek in ’n verskeidenheid aspekte. “Die deelnemers moet uiteenlopend en sterk wees.
“Daar moet goeie kamera operateurs wees wat niks mis nie, klank operateurs wat altyd ’n plan maak om die klank vas te vang as die dames in moeilike omgewings gesels en natuurlik ’n goed-geoliede produksiespan wat seker maak alles wat die kyker sien moontlik is. Só ’n reeks is suksesvol as gevolg van spanwerk.”
Met die opspraak wat die eerste Afrikaanse weergawe van hierdie franchise, Die real housewives van Pretoria, gemaak het, erken Pascual hy was ’n bietjie senuweeagtig oor hoe kykers gaan reageer op die Wynlande-weergawe.
“Kykers is slim, krities en onvoorspelbaar. Jy weet regtig nie eintlik voor die tyd of hulle aanklank gaan vind by die show of nie. Hulle is soms tegemoetkomend en ander kere onredelik.
”Al sou daar net ’n handjievol mense wees wat die program geniet, is ek gelukkig en tevrede. ’n Mens kan jou nie te veel steur aan die geraas van negatiewe kommentaar nie. Jy sal mal word!”
Pascual was by tye betrokke by die verfilming van Die real housewives van Pretoria ook. Vir hom was ’n groot verskil dat die Pretoria-seisoen in die winter geskiet is, en die Wynlande in die somer. “Ek is beslis meer van ’n somer mens,” lag hy.
“Maar ek dink die verskil lê eintlik in die dames. Ek was net so lief vir elke Pretoria-housewife as wat ek vir die Wynland-vroue is. Dalk ’n bietjie meer vir die Wynland-vroue, omdat ek hulle self moes soek. Die program is so afhanklik van ’n diverse, sterk cast.”
Oor hoe hy hulle gekies het, verduidelik Pascual die Real housewives is deel van ’n wêreldwye franchise. “Ek het saam met die vervaardigers (Red Pepper Pictures) in dae-lange werkswinkels gesit, wat gelei was deur die formaathouer oor hoe hierdie struktuur van die reeks geïmplementeer moet word. Dit het alles op casting neergekom.”
Niemand kan inskryf om deel te word van die Real housewives nie. “Jy moet hulle soek. Jy kan oral welgestelde vrouens vind, maar as hulle nie opinies het nie, gaan ons net mense afneem wat rond sit en vir mekaar staar.”
Pascual het vir amper drie maande gesoek vir die regte deelnemers. “Ek moes met baie vroue praat en onderhoude voer. Ek het net ’n gevoel of intuïsie oor ’n mens,” meen hy. “Hierdie ses vrouens het net daai it-factor gehad en toe ek hulle voorlê aan die vervaardigers het hulle saamgestem.”
Hy vertel hoewel hulle nie honderde ure aan die reeks verfilm nie, voel dit soms asof jy doen. “Dis maar ’n proses. Wanneer die vroue met mekaar gesels by ’n geleentheid of kuier, skiet ons dit gewoonlik in onder ’n uur.”
Dit is die oploop tot die eerste “aksie!” wat so lank neem. “Die kameraplasings, mikrofoon aan die dames kry, die mooi skote van die vroue wat arriveer in hulle motors. Soms is daar tegniese redes waar ’n mens moet stop. Die nadeel hiervan is dat jy daai oomblik dan verloor en ’n mens kan nie dit weer terugkry nie.
“Met realiteitstelevisie gebeur dinge een keer. Jy kan nie vir die vrou sê ‘Ag, kan jy gou weer kwaad wees asseblief’ nie. If the moment is gone, it’s gone. Op die ou einde van die dag gebruik jy die inhoud wat die storie vertel.”
Dit gaan soms rof wanneer die vrouens bymekaar is en partykeer laat hulle kykers se monde oophang. “Sekere gesprekke onder die vroue was baie onverwags. Jy het nooit geweet wat gaan gebeur nie. Dit is wat realiteitstelevisie vir my so opwindend maak.”
’n Goeie voorbeeld hiervan, was episode vier waar die dames in Hoedspruit gekuier het. Mariska het om die tafel gevra wat die dames se eerste indrukke van mekaar was en hoe hulle nou voel.
“Ek het nooit in my lewe gedink dit sou in só ’n warm gesprek ontaard nie. As jy nou na die ander kant van die spektrum kyk, het ons ook die meeste van die tyd ons dood gelag vir die vroue. Hulle is regtig snaaks en baie skerp.”
Vir Pascual het die hele span, vroue inkluis, soos ’n familie geword. “Dit het nie gevoel of ons werk nie. Jy druk die record-knoppie en die vrouens het net hulle ding gedoen. Dit is steeds harde werk, maar darem kon ons elke dag lag. Ek was altyd in vervoering oor hul klere as ek hulle sien. Dit was my cheap-thrill!”
Pascual vertel die hoof redigeerder het ook ’n kardinale rol gespeel in die sukses van die reeks. “Gideon Breytenbach is werklik ’n genie. Hy het hierdie reeks met soveel klas en pizazz geredigeer. Sonder hom sou ons kykers nie voel wat hulle voel wanneer hulle die program kyk nie. Hy speel die belangrikste rol!”
Grimeerkunstenaar en stilis Efraine van Heerden (nou du Toit), wat kyker leer ken het op die eerste seisoen van Op my eish was verantwoordelik vir die vrouens se voorkoms tydens die reeks. “Dit was ’n spanpoging en die dames kon besluit wat hulle wou dra, maar sy het ’n groot rol gespeel.”
Die bitsige negatiewe kommentaar op sosiale media het hy van die begin af verwag. “Almal is geregtig op hul opinie. Ek het wel nie gedink die kritiek gaan so persoonlik teenoor van die vroue raak nie.
“Ek het van harte gehoop mense sou dié moderne vroue salueer oor hoe uitgesproke, sterk en slim hulle is, in plaas van hulle afbreek omdat hulle nie steeds volgens argaïese standaarde van ‘wat ’n vrou moet en nie moet leef nie’. Dalk in ’n volgende dekade, wie weet?”
Vir hom is elke vrou sterk en spesiaal en hy het lesse by elkeen geleer. “Anita het my geleer om unapologetically myself te wees. Amy het my gewys hoe om iets negatief in iets positief te verander. Karen het my geleer om nie myself te ernstig op te neem nie.
“Mariska het vir my geïnspireer om te hustle en hard te werk vir wat jy wil hê. Michelle het ons gewys dat jy nie net mooi van buite moet wees nie, maar van binne af ook. Candice het my geleer dat drome waar kan word – sy is ’n lopende voorbeeld daarvan.”
- Hulle het oor ’n tydperk van vier maande by 50 verskillende plekke verfilm.
- Hulle het twee mikrofone in die proses verloor as gevolg van water.
- Een kamera het in die water geval.
- Die reeks het min of meer ’n jaar geneem van begin tot einde.
- ‘Die real housewives van die Wynlande’ is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).