“Dit was wonderlik om weer in Suid-Afrika te kon stap,” sê Erns wat die reeks aanbied en een van die vervaardigers is.
“Die Pelgrimstog van Hoop, wat ek in die derde seisoen gestap het, het ’n nuwe roete deur die Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete. Die roete is baie jonk en is maar vir die eerste keer in Junie 2021 gestap. Dit het egter danksy die natuurskoon en wonderlike vennote se grenslose gasvryheid langs die roete vinnig momentum gekry en is reeds ’n baie gewilde pelgrimstog.”
Erns en sy span het vir ’n raps meer as ’n maand hierdie roete aangepak saam met verskeie gaste. In hierdie week se episode durf Erns die langpad aan saam met voormalige kykNET-direkteur, Karen Meiring.