Hy vertel aan SARIE.com hy het die afgelope jare baie oor homself en die lewe geleer. “Ek dink deursettingsvermoë is ’n belangrike eienskap – moontlik my grootste talent. Harde werk beteken baie.”
Francois besef ook al hoe meer hoe kort die lewe werklik is. “Dit gaan vinnig verby. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer besef jy dit. Jy het net een kans, so maak die beste daarvan.”
Net soos die meeste mense, het Francois al baie uitdagings in sy lewe trotseer. “Ek dink die eerste ene was seker hoe om ’n musiekloopbaan lewensvatbaar te maak. Dit het baie tyd, werk en beplanning gevat. Dis waar ek geleer het harde werk beteken baie. Vir die meeste uitdagings in die lewe, is dit die oplossing.”