En ’n droomverlowing was dit beslis, al het die Fynskrif-aktrise Lea Vivier eers gedink dit is ’n grap toe haar kêrel van die afgelope twee jaar haar onlangs die ja-woord daar gevra het.
Maar nou is Lea en André Wilkens, ’n kommersiële diepseeduiker, verloof en hulle kan nie gelukkiger wees nie.
“Daar is ’n soort oomblik van skok, want dit is ’n baie groot oomblik,” vertel Lea aan SARIE.com. “Dit moes net eers insink, toe is ek net absoluut in ekstase ,” voeg sy by en lag.
André moet soms vir sy werk vir ’n wyle van die huis af weg wees, en die paartjie het besluit dat hulle mekaar te veel gemis het toe hy onlangs weer vir drie maande weg was.
“Ons het besluit ons gaan onsself treat en oorsee gaan,” verduidelik Lea oor hul ses nagte in die Maledive sowat twee weke gelede.
Elke oggend het hulle sowat ses kilometer op die eiland gaan stap, dan het hulle in die see en swembad by hulle villa gaan swem voordat hulle rustig ontbyt geniet en vir die res van die dag in die son uitgespan het.
Lea en André is mal oor die bordspeletjie Scrabble, en op dié betrokke middag het hulle wyn geskink en reggemaak om ’n spel te speel op die bord wat hulle saamgeneem het.
“Ek moes begin, maar ek kon net ’n woord bou met vier letters,” vertel Lea en boots sommer weer haar aanvanklike teleurstelling hieroor na.
André het gesê hy kan met sewe leters begin en pak toe “marry me” uit.
“Ek kyk toe af, en weer op en sê vir hom: ‘Jy cheat, want dit is twee woorde en jy kan nie dit bou nie’,” lag sy.
Maar toe hy op sy een knie afsak en haar vra om te trou, het Lea besef wat aangaan.
“Ek is mal oor die ring,” vertel Lea, wat glad nie die verlowing verwag het nie. Dit is gemaak deur haar beste vriendin, die juwelier Sophia le Roux.
“Ek wou al vir ’n baie lang tyd gehad het sy moet my verloofring maak. Sy het een of twee van my ander vriendinne se verloofringe ook gemaak, so dit is vir my baie spesiaal,” verduidelik Lea.
“Die diamant in die ring is van my oorlede ouma aan my ma se kant se ring. Ek is nogal ’n sentimentele persoon en ek is mal daaroor as iets meer betekenis het,” voeg sy by.
Lea het dele van die vakansie op film met ’n kamera vasgevang, wat eers ontwikkel moes word voordat sy dit op sosiale media kon deel.
Lea, wat van Mei af in die M-Net telenovelle Legacy te sien is, sê sy kon nie vir ’n beter blaaskans saam met haar verloofde gevra het nie. Sy is ook binnekort in die kykNET-storiefilm ’n Halwe ton dinamiet en die Amerikaanse Netflix-reeks Resident Evil te sien.
“Ek het op die Weskus grootgeword en André is ook nogal ’n see-mens, omdat dit is wat hy vir ’n lewe doen. Dit was net die rustigste son, see, strand, swem, sout vakansie. Daai kombinasie maak my op my gelukkigste,” vertel sy.