Dit beteken baie huisgesinne sit vir meer as sewe ure van die dag sonder krag (maar darem nie op een slag nie!).
SARIE.com het by ’n paar bekendes gaan inloer om te hoor hoe hulle oor beurtkrag voel en wat hulle en hul geliefdes doen wanneer dit hul “beurt” is.
Marciel Hopkins, aanbieder van die kykNET se Boer soek ’n vrou haat dit as sy opgewonde is om ’n nuwe episode van ’n reeks te kyk, maar dan nie kan nie. “En dan sien ek die spoilers op sosiale media . . . ” sug sy.
Dit is egter kosbaar vir haar om gehaltetyd saam met haar man te spandeer, want met beurtkrag is daar niks anders wat hul aandag kan aftrek nie. “Ek gaan oefen, lees ’n boek of ons braai. My beste tydverdryf is om dan braaibroodjies te maak!”
Therese Bam, die gewilde blondekop aktrise en Kwêla-aanbieder pes die ongerief van beurtkrag, en hoe dit ’n mens se roetine versteur. “As jy wil aandete kook, of ’n uur het om TV te kyk, maar dan kan jy nie want die krag is af,” sê sy.
Therese hou egter van die stilte van beurtkrag. “Dis baie vreemd. Dis asof elektrisiteit vir my ’n ‘klank’ het – al die gedruis van goeters wat jy so gewoond raak en dan ewe skielik is alles net tjoepstil.”
Luandri Reynders, wat die rol van Karen Kriel in Binnelanders vertolk, haat dit as die beurtkrag-fases deur die loop van die dag verander. “Soos almal raak ek opgewonde as die twee ure van beurtkrag amper verby is, want dan kan ek my reeks (wat nou ’n draaipunt bereik het) kyk en die ketel aansit vir koffie,” verduidelik sy
“Ek kan my foon laai (want ek vergeet altyd om my powerbank te laai), net om ’n boodskap te kry van die Eskom se Push-app wat sê ‘grappie! Ons is nou op stage 6. Geniet nog twee ure van beurtkrag.’”
Sy geniet dit om te braai as die krag rondom etenstyd afgaan. “Dit voel so ’n bietjie asof ons kamp in ons agterplaas. Daar is ’n lekker vuurtjie. Ek speel musiek (as ek onthou het om my luidspreker te laai). Nou het jy ook tyd om na mekaar se ‘dis ’n lang storie’ te luister.”
Vir bekende voorkomskonsultant, Aletté-Johanni Winckler, is beurtkrag ’n las want sy en haar sanger-man, Heinz, werk beide van die huis af.
“Dis altyd op die mees ongeleë tye en ek dink die skade wat dit doen aan jou toestelle en implemente is onnodig.”
Sy vertel hul DStv-dekodeerder het onder andere onlangs die gees gegee. Hulle het al die muurproppe in hul huis vervang met omskakelaar-proppe (inverters) en ’n kragopwekker aangeskaf. “Ons kon net nie so aangaan nie. Dis baie rof as jy nie kan werk nie.”
Sy hou nogal daarvan as beurtkrag hul saans tref. “Dit forseer ons om familietyd te hê. Ek hou ook van die romantiese atmosfeer wat dit skep.”
Beurtkrag krap Irshaad Ally, Suidooster se Rhafiek, se lewe heeltemal om. Hy is tans besig met werk in sy huis en die kontrakteurs woel soms tot in die laatnag as gevolg van die kragsituasie.
“Dis laat in die nag, maar jy kan dalk die bore hoor as jy mooi luister,” vertel hy per stemboodskap. “Ek haat die ongerief – om die kinders in die donker te bad en so aan. Dis aaklig!”
Hy hou daarvan omdat dit lei tot gehaltetyd saam met sy vrou en dogters. “Ons het nou poppe gespeel. Ek het sok-poppe met my hande gemaak en ons het lekker gespeel! Ons vertel ook bangmaak-stories of dans in die donker. Ons eet ook vreeslik baie,” lag hy.
Tog hou hy van die geleentheid om meer te braai as die krag saans afgaan. “Dis vir my lekker om ’n vuurtjie aan die gang te kry.
Hy hou homself ook besig met audioboeke en bordspeletjies. “Ek het ’n bluetooth-luidspreker met ’n battery waarmee ek die boeke wat ek al so lank mee dreig, deurdraf. Ek het ook meer as 20 bordspeletjies aangeskaf die afgelope paar jaar en ons “beurt” is ’n goeie verskoning om hulle uit te ruk.”
Op die vraag “wat haat jy die meeste van beurtkrag, is hartebreker Dean Smith, oftewel Wade Ferreira op kykNET se Suidooster, se antwoord: “Dis eenvoudig – my beurt. Ek haat dit dat ons in die eerste plek beurtkrag het.”
Dit pla hom dat beurtkrag sy planne in die wiele ry of as hy iets nie kan klaarkry nie, want die krag is af. “Dit sit jou baie keer heeltemal op ’n agterstand.”
Daar is egter iets waarvan hy wel hou. “Die feit dat jy kan kla oor loadshedding as die krag skielik afgaan, al het jy eintlik vergeet om krag te koop,” lag hy.
Hy en sy mense maak altyd seker hulle het darem ’n fliek of iets afgelaai om hulself mee besig te hou wanneer die krag af is. “Solank ons lig van binne af maar net aanhou skyn, want as dáái ge-loadshed word, dan is daar nie veel hoop oor nie . . .”
Vir sangeres Kate Rok is dit sleg dat mense geld verloor en beurtkrag besighede so sleg affekteer in reeds slegte ekonomiese tye. “Dis al waaraan ek kan dink en dit breek my hart. ’n Mens betaal vir iets wat jy nie kry nie én toestelle breek.”
Sy is mal oor kerslig en dat beurtkrag ’n mens forseer om buite jou gemaksone te moet funksioneer. “Hare anders dra, vroeër van fone af omdat WiFi nie werk nie. Dit bring afskakeling teweeg – stilte en dinktyd.”
Daar is net mooi niks van beurtkrag waarvan Marco Spaumer, bekend vir sy rol as Tim in Suidooster hou nie. Hy haat dit veral omdat dit elke Suid-Afrikaner raak. “Baie mense in ons land is erger af as wat ek is en ek kan my nie voorstel waardeur hulle gaan as dit beurtkrag is nie. Dít haat ek die meeste – dat mense wat reeds swaarkry, nog swaarder kry.”
Vir Melinda Viljoen, Binnelanders se Tracy Smit, is dit aaklig om by ’n koue, donker huis aan te kom. “Donkerte maak mos alles kouer voel en lyk,” meen sy. “Dan sukkel jy met die sakke, sleutels en jou foon se liggie. My ‘welkom tuis’-komitee sluit ’n pikswart kat in en in die donkerte het hy ’n manier om altyd op my te spring en dan skrik ek my alie af!” lag sy.
Sy geniet egter die romantiese sy van beurtkrag. “Kerse, kerse en kerse! En battery-fairylights. Ek is mal oor kerslig en liggies. Dit maak my hart warm.”
Melinda en haar mense probeer so kreatief moontlik wees wanneer dit by kosmaak kom. “Ons het so ’n tweeplaat-gasstofie en dis nogal moeilik en interessant om ’n maaltyd met net dit te maak,” vertel sy.
“Beurtkrag herinner ons dat ons gelukkig en geseënd is om die meeste van die tyd krag te hê.”