Daar word gesê hoe jy jou diere hanteer, wys wie jy werklik is, en hoe jou hart regtig lyk. SARIE.com het by ’n paar bekendes gaan inloer om hul troeteldiere beter te leer ken.
Akteur Eden Classens, kykNET-sepie Suidooster se Justin, vertel hy het vir Frodo, sy worshond, nege jaar gelede gekry. “Ek was by ’n troeteldierwinkel maar het glad nie beplan om ’n hond te kry nie. In een hokkie was daar egter, doer in die hoek, ’n klein bolletjie, vas aan die slaap. Dit was die cute-ste dingetjie en net daar het my hart gesmelt.”
Sy ander hond, Sara, het hy meer onlangs gekry by ’n diereskuiling in Stellenbosch. “Ons het ’n hond gaan aflaai wat ons langs die pad gekry het,” vertel hy. By die skuiling was daar ’n hok met ’n klein hondjie van so ses weke oud wat vreeslik gehuil en tekere gegaan het. “Twee dae later het ek haar gaan aanneem.”
Frodo blaf soms te veel na Eden se sin. “So ’n klein lyfie kan baie geraas maak!”. Sara, wat nog klein is, hardloop soms weg, eet alles wat sy kan en spring teen alles op. “Sy het baie energie en dit kan soms te veel raak.”
Tog sal hy sy honde vir niks verruil nie.
“Vir Frodo het ek gekry in ’n moeilike tyd van my lewe, toe my pa oorlede is. Dit was lekker om ’n companion te hê. Hy is ’n baie spesiale hond en ek is baie lief vir hom. Hy gaan oral saam waar ek gaan.”
Al maak sy hom soms lam, steel Sara se gesiggie keer op keer weer Eden se hart. “Sy het so ’n mooi siel, soos Frodo. Sy is ’n baie slim, positiewe hond en ek is baie lief vir haar.”
Marciel Hopkins, aanbieder van kykNET se Boer soek ’n vrou, is weer meer van ’n kat-mens. “Ons het reeds twee jaar in ons nuwe huis in die stad gewoon en wou graag ’n ekstra lyfie in die huis hê. Ons het nie ’n tuin waarin ’n hond kan rondhardloop nie, so ons het besluit om eerder ’n katjie aan te neem by ’n dierebeskermings-organisasie. Krummels, ons seuntjiekat is nou twee jaar oud,” vertel sy.
Krummels is ’n soet, liefdevolle dier wat nie sommer iets stouts sal doen nie. “Hy is net baie needy vir aandag en rugkrappies. Hy is super oulik, fluffy en het ’n wonderlike persoonlikheid.”
Saans wag Krummels vir haar en haar man, Handré, by die deur as hulle tuiskom. “Dan slaap hy tussen ons bene om ons warm te hou in die winter!”
Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis Koster in Binnelanders vertolk, se hondehart behoort aan twee Boston Terriers. “Ek het nog altyd baie van hierdie ras gehou. Hulle is honde wat nie baie blaf nie, wat net klein bietjie stout is, en wat baie eienaar-vas is.”
Hy het twee boeties, Hans en Hugo, wat nou 18 maande oud is. “Ek is baie lief vir tuinmaak en plante plant, maar wanneer my honde verveeld is, verskeur hulle my plante tot op die wortel,” vertel hy. “Ek sal moet gaan soek na plante wat hondbestand is.”
Al is hulle soms stout, en maak hulle hom soms mal met hul eindelose energie, is Germandt vreeslik lief vir sy honde-maats. “Sodra hulle in my oë kyk met daai groot puppy dog eyes, vermurwe my hart. Hulle is ook baie lojaal. Al raas ek met hulle en voel sleg daaroor, kom lê hulle maar steeds by my en vergewe my.”
Sangeres Kate Rok vertel ná sy lank enkellopend was, het haar vriendinne haar gedwing om ’n troeteldier te kry. “Ek wou nog altyd ’n great dane hê as gevolg van die look – hulle is so mooi soos dekor! Maar ek was glad nie ’n honde-mens nie,” erken sy.
Haar hond, Barnaby, word egter op Kersdag vanjaar reeds agt jaar oud. “Hy is amazing! Hy doen nooit iets verkeerd nie. Hy kyk jou nie aan vir kos nie, blaf nie onnodig nie en hy bollie nie eers waar jy dit kan sien nie!”
Barnaby is Kate se beskermengel en haar beste maat. “Ons gaan oral saam! Van restaurante tot winkels. Hy is my geselskap en hy maak my gelukkig. Ons is mal daaroor om in die veld saam te wees, te kamp en boek te lees.”
Vir iemand wat jare gelede skaars aan honde gevat het, kan Kate deesdae haar lewe nie indink sonder Barnaby nie.
Marco Spaumer, oftewel Tim van Suidooster, vertel hulle was gereed om ’n hondjie in die huis en in hul lewens te hê, toe neem hulle sommer twee aan. “Ons het maar net na ons harte geluister toe ons by die diere skuiling rondgeloop het,” meen hy.
Charley is amper twee jaar oud, en Danny ’n jaar. “Charley is ’n klein alarm. Sy blaf nie normaal nie, sy skreeu soos ’n alarm,” lag Marco. “Dis nie altyd ’n slegte ding is nie, maar dit kan jou groot laat skrik in die middel van die nag!”
Op sy beurt eet Danny tans alles wat hy kan, veral as hulle in die parkie gaan stap. “Daar is altyd een of ander vreemde ding waarop hy afkom en dan eet. Maar, ek is lief vir die twee lyfies want hulle leer my om te laat gaan, om te speel, om onvoorwaardelik lief te hê. En hulle is albei diep lief vir cuddle.”
Hy vertel as hy eendag nog ’n troeteldier wil hê sal hy dalk ’n kat oorweeg. “Ek dink my energie en kapasiteit en menswees sal nogal ooreenstem met die van ’n kat – stadig, statig, son-sit, lui!”