Diaan, wat getroud is met mede-akteur Jody Abrahams, het onlangs haar MFA-graad (Masters of Fine Arts) verwerf – sommer cum laude! Dít, terwyl sy ma van twee is én dekaan by AFDA in die Kaap.
“Dit gaan baie goed,” vertel sy. “Die kampuslewe hou my besig. Die kinders word groot en dis ’n absolute vreugde en voorwaar ’n seën. Verder geniet ek steeds projekte in die vermaaklikheidsbedryf. Die lewe is besig en lekker.”
Om haar meestersgraad te verwerf, was vir Diaan ’n baie persoonlike reis. “Dit was iets wat ek graag vir myself wou doen. Ek weier om te stagneer en probeer myself jaarliks uitdaag op verskillende maniere.”