Marijke, ’n internasionaal-gekwalifiseerde slaapterapeut met haar eie besigheid, MC Sleep Consulting, hou haarself lekker besig. “Dit is ’n nuwe, maar ook ’n onbekende en opwindende seisoen vir my,” vertel sy.
Marijke, wat getroud is met akteur Werner Coetser, het ook aan die begin van November haar eie fiksheids-app, MCFitAndBeyond, vir vrouens bekendgestel. “Dit het ’n jaar van harde werk, skryf aan die program, opnames en baie beplanning geverg om dit ’n werklikheid te maak.”
Haar doelwit met die app is om ’n veilige omgewing en ondersteuningsnetwerk vir vrouens te skep. “Ons moet mekaar ondersteun, vier en opbou! Geen oordeel of boelie word toegelaat op my groep nie. Ek word erg geboelie op sosiale media, en wil ’n platform skep vir vroue wat hulself kan uitleef en hulself kan wees.”