“Dit was lewensveranderend, verrykend!” gons sy. “Ons het ’n klomp avonture aangepak en baie geleer en gesien.”
Die paartjie was in Turkye (Istanboel en Cappadocia), in die suide van Portugal (Algarve en Salema) en in Marokko (Marrakesj; Fes; Chefchaouen; die Sahara-woestyn asook middel en hoër Atlas-gebiede van die Marokko-woestyn).
“Elke land is so uniek, dis moeilik om iets uit te sonder!” vertel sy. “Ek dink oor die algemeen was die tyd saam met Shaun vir my baie spesiaal. Ek het hom net nog beter leer ken en opnuut weer waardeer vir die mens wat hy is. Hy is ’n wonderlike reisgenoot en lewensmaat,” glimlag sy met ’n sprankel in haar oë.