Op 75 is haar fletsblou oë nog so helder soos altyd, sy’s energiek en gesels ’n hond uit ’n bos uit. “Dis my Cosmetique2000-rome, ek gebruik dit al 30 jaar lank!” lag Carike Keuzenkamp as jy haar met haar voorkoms komplimenteer. Net lagplooie om haar oë wys sy lei ’n vol, gelukkige lewe.
Ons geniet roompoffertjies, kolwyntjies en cappuccino in haar kombuis in Ferndale, Randburg. Teen die muur in die aangrensende sitkamer is die goue seweduimplaat van “Timothy”, haar eerste trefferlied in 1967, langs ’n foto van haar man, Olaus van Zyl, voor die Gautrein wat hy tot stand help bring het.
Daar is nog baie goue plate en geraamde albumomslae in die garage, bieg sy skamerig as jy vra. “Ek wou dit nie teen die mure hê nie, maar Olaus het aangedring.”