Die letterkunde, en hiermee bedoel ek die universele, nie die internasionale nie, troos my mateloos. Markus Aurelius het toentertyd al die templaat vir ’n goeie lewe uitgestip, en dus is sy Meditasies altyd langs my kooi.
Dieselfde geld vir die ander ankerwerke uit die verlede: die Upanishads, die Bhagavad Gita en die Rig Veda – ons het in duisende jare niks nuuts aangeleer nie. Die natuur, gebroke soos dit is, troos my met haar konstantheid – ’n klip is ’n klip is ’n klip . . .
Ek raak oud, en wil minder reis. Dit gaan hoofsaaklik oor my persoonlike koolstofvoetspoor, maar dit het ook te make met toenemende ouderdom. Op ’n vorige reis na Egipte het ek, in Luxor, toegang gekry tot die onvoltooide graf van die farao Sipta.