Natuurlik beteken dit nie dat jy volmaak is, alles het, of nooit hulp en inspirasie nodig het nie. Dat jy nie wil groei, luister en van jou wil laat hoor nie. Maar met jy is genoeg aan jou kant doen jy al dié dinge uit ’n posisie van krag en selfvertroue. Jy is réédsgenoeg. Jy is reeds dáár.
Dít, het ek met ons onlangse gesels gesê, is sekerlik die grootste geskenk wat ons die laaste paar maande ontvang het. Só sê byna ook almal wat ons vir SARIE-stories kontak.
Vandag, met tyd tot my beskikking, loop my eie gedagtes ver. Na jare gelede toe ek as SARIE-redakteur aangestel is. Toe Suid-Afrika groot skuiwe ervaar het en ons entoesiasties van die reënboognasie gepraat en hoop met hoofletters geskryf het. Sonder dat ek dit weer gaan soek om te lees, weet ek dat ek in daardie eerste redakteursbrief die ou stukkie waarheid opgehaal het dat níks in die lewe verseker is nie, behalwe verandering. Dat ons maar ons geld daarop kon verwed dat SARIE in die jare wat kom vele veranderinge saam met julle, ons lesers, sou ervaar.