Ons kuier per video-oproep uit ma Adri se praghuis in Melkbos, haar bekende TV-dogters aan die ander kant. Elk se skoonheid opvallend besonders, en elkeen op ’n ander lewensreis.
Lea is na ’n ruk in die Kaap weer terug in die Hoëveld waar sy woel aan ’n jaarlange projek, Trix se loopbaan het met een helse knal posgevat en tussendeur probeer sy ook nog balle in die lug hou as nuwe ma. Dan is daar matriarg Adri, die selferkende bymekaarmaker en versorger, en deesdae ook heel bedrewe as TV-aanbieder.
Almal lekker hardekwas, maar ongelooflik lojaal, verduidelik die ouer vrou wat ons op die kassie leer ken het as een van drie raadgewende oumas op VIA se Ouma weet mos.