book-icon Uitgawe Januarie 2015

Ons groet vir Theuns Jordaan

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Theuns Jordaan, afgeneem vir SARIE Januarie 2015

FOTO Phyllis Green
Theuns Jordaan, afgeneem vir SARIE Januarie 2015 FOTO Phyllis Green
Die geliefde sanger en liedjieskrywer is in die oggendure van 17 November 2021 oorlede nadat hy in 2020 met leukemie gediagnoseer is. Ons onthou ons gunsteling-oomblikke uit ’n onderhoud wat SARIE in Januarie 2015 met hom gevoer het.

17 November 2021 is 'n datum wat vir lank in Afrikaanse huishoudings onthou sal word - een van die grootste name in Afrikaanse musiek, Theuns Jordaan, is oorlede nadat hy in 2020 met leukemie gediagnoseer is. In Januarie 2015 het SARIE 'n onderhoud met die sanger, bekend vir treffers soos "Jou Asem" en "Soos Bloed", gedoen. Hier volg 'n kort uittreksel.

Dié onderhoud het oorspronklik in SARIE se Januarie 2015-uitgawe verskyn.

Jy kan enigiets van my skryf. As jy dink ek is ’n p_pôl, is dit jou opinie. Kry net jou feite reg.” 

Hy sê dit droogweg, maar dis duidelik dat Theuns Jordaan nalatigheid nie duld nie. Iets tussen skaam en bedonnerd – so lyk sy blou oë wanneer hy praat. Om te kom waar hy vandag is, het Theuns immers hard gewerk. Toe hy op 21 Oktober 1992 die eerste keer voor ’n gehoor by The Terrace, ’n kuierplek op Stellenbosch, opgetree het, is hy met ’n paar rand en ’n pizza betaal.

Maar sedert hy die Afrikaanse musiekbedryf in 2000 betree het, trek sy verkope al op byna 1,5 miljoen eenhede (CD’s en DVD’s). En hoewel hy dit nie erken nie, ontken hy ook nie dat hy sy skakelbeampte mooi vra om hom soveel moontlik uit die pers te hou nie.

“Ek het die media baie nodig, maar ek verkies dit in kleiner dosisse. Die blote feit dat ons nou gesels, beteken mos dat ek besef ons kan nie sonder mekaar klaarkom nie.” (Verleë laggie.) Dan sak hy stadig effens dieper af op die stoel, koffiebeker in die hand. Dis byna asof jy ’n cowboy-hoed op sy kop soek. Gemaklik, in ’n paar jeans, sportskoene en netjiese swart sweetpakbaadjie, is hy enersyds peinsend, iemand wat die stiltes nie met té veel woorde volpak nie. Maar hy is ook waaksaam. So al asof hy verwag ’n paar Indiane gaan hom onverwags van agter ’n koppie bekruip. Hy vertrou die terrein nie heeltemal nie.

“Mediadekking moet aan prestasie gekoppel wees. Ek is dankbaar vir die dekking vir buitengewone prestasies, soos Tribute to the Poets, wat sedert die bekendstelling in November 2013 al die 100 000-merk verbygesteek het,” sê hy. Sy vorige album, Roeper (2012), het tot op hede [Januarie 2015] 140 000 eenhede verkoop en het in 2013 as topverkoper ’n SAMA-toekenning gekry. Al sy ateljee-albums het trouens goed verkoop. Vreemde Stad (2001) en Tjailatyd (2003) het albei meer as 200 000 verkoop, en Seisoen (2005) en Koue Vuur (2009) meer as 100 000.

Hy is plaaslik ’n ster. En tog irriteer die wêreldwye celeb-kultuur hom grensloos. “Ek wil nie hê mense moet in die koerant lees wat ek vir ontbyt eet nie. En ek gaan nie op en af voor jou spring en vertel hoe wonderlik ek is sodat jy mooi resensies en artikels oor my skryf nie. Op die ou einde bepaal my aanhangers hoe gewild my musiek is … Ek wil nooit groter as my musiek word nie.

Jy beskryf Tribute to the Poets as jou hartsprojek

Dit is eintlik wie ek regtig is, dis ’n back to my roots-projek. Die CD bevat vyftien liedjies met treffers van onder andere Leonard Cohen, Cat Stevens, Bob Dylan en Johnny Cash. Al die songs wat ek jare lank as student gesing het in kuierplekke op Stellenbosch, waar ek my BEkon-graad in 1995 verwerf het. Ek het later ook in pubs in Pretoria gesing. Die album is my huldeblyk aan dié sanger-liedjie-skrywers, die straatdigters wat so ’n groot invloed op my lewe gehad het. ’n Baie klein segment van my mark ken dié deel van my werk. In die eerste 46 weke ná dit uitgereik is, was dit aan-eenlopend op RSG se Top 20, amptelik die treffersparade vir topverkopers in Suid-Afrika. 

Wat verklap jou lirieke van jou?

Jy kan sien ek dink en wonder oor dinge. Ek is kompleks en gee aan-hangers lirieke met ’n bietjie vleis. Miskien raak mense nie te gou moeg vir my liedjies nie omdat dit diepte het. Dit is nie net ’n catchy melodie wat drie maande lank werk nie. Dit is meer as ‘Bokkie, kom ons sokkie’.” 

Watter rol het jou ouers in jou loopbaan gespeel? 

Hulle woon graag my konserte by, veral as dit in Bloemfontein is. My pa, Willie, het ’n goeie oor vir musiek. Op ons plaas Mooifontein – dis in die Karoo, en so 30 km van Bethulie in die Vrystaat – sou hy altyd toe oë luister na hoofstroom-musiek soos Abba of Boney M. Ek dink ons musiektalent kom van my ma, Maryna. Sy kan sing en noothou. My ousus, Linda, wat my help met bemarking, is ook baie musikaal. Eintlik het Pa destyds vir haar ’n kitaar in Bloem gekoop, en toe ek in graad elf was, het ek daarop begin tokkel. Ek dink my ouers is verlig dat my musiekloopbaan uitgewerk het. Hulle was dalk maar bekommerd toe ek in 2000 sê musiek is nou my rigting. Dit is soos wanneer kinders sê hulle gaan drama studeer. Jy waag ’n kans. My pa het my wonderlike lewenslesse geleer: dankbaarheid, geloof, om spaarsamig te wees. Om die fynskrif in kontrakte te lees, nooit vir ’n R10-noot te lag of my siel vir geld te verkoop nie. Hy het ook gesê jy moet die “andersheid” in mense respekteer. En hanteer vroue as gelykes. 

Jy en jou ma het ’n besonderse verhouding?

Ja. Sy het my báie goed geleer. ’n Liefde vir tale. Maar ook respek, eerlikheid, humor, netheid, stiptelikheid en om hard te werk. En danksy haar weet ek die klein dingetjies in die lewe laat vroue goed voel. Dít wat geld nie kan koop nie. Die wonder om kerse orals uit te pak terwyl jy jou geliefde se badwater intap. Om vir ’n vrou blomme te pluk, nie te koop nie … Sy is ’n groot bederwer. As ek daar kuier, kan ek maar weet daar wag fudge en sy staan reg met aartappelslaai en lamsbredie. Dis nou as Pa nie braai nie!

Hoekom bekoor die Karoo jou?

Dit is die stilte en spasie. Ek sal byvoorbeeld van Pretoria na Bloemfontein ry sonder om die radio aan te sit. Dit maak mense mal om saam met my te ry. Dit is lekker om net saam met jou gedagtes te wees. Jy is vry. As die radio aan is, bepaal die omroeper waaraan jy dink. Ek skryf ook in stilte. Wanneer ek tien tot twaalf vertonings per maand gee, sal ek myself nie sommer dissiplineer om op afdae liedjies te skryf nie. Dit help as ek lank weg is van die kitaar en daarna begin verlang. Dan word liedjie-skryf weer ’n stokperdjie, nie ’n werk nie. Maar soms moet ek myself dwing. Dikwels wil ek hê die muse moet inspirasie in my oor fluister. Ek glo wel die beste liedjies kom uit ’n plek van diep oortuiging. As ek te veel daaroor dink, is dit “slim”, maar sonder hart. En dít word gewoonlik nie treffers nie.

Van rugby gepraat, min mense weet jy was op skool ’n Cravenweek-speler ...

Ek het losskakel vir Suid-Vrystaat gespeel, ja! Later op Graaff-Reinet het ek agsteman begin speel. Ek is mál oor rugby en my grootste teleurstelling was eintlik toe die Springbokke se afrigter, Heyneke Meyer, besluit het om vir Duane Vermeulen pleks van my as agsteman te kies! Haha! Eintlik is ek in my hart ook deel van die Stormers op die veld. (Lag.) As ek optree, is ons dikwels Saterdae op pad na een of ander dorp. Maar as dit moontlik is, probeer ons reël om rugbywedstryde by die gastehuise te kyk. Dikwels word shows rondom wedstryde beplan. Jy laat nie sommer ’n klanktoets inmeng met ’n goeie rugbywedstryd nie. 

Wat was die grootste kompliment wat jy nog gekry het?

Toe ’n liedjie van my, “Jou asem”, wat oor die radio gespeel het, ’n man van Jeffreysbaai laat besluit het om nie selfdood te pleeg nie. Sy meisie, wat baie van my musiek gehou het, is ’n ruk tevore in ’n motorongeluk oorlede. Hy het gemeen hy was dit aan haar verskuldig om dit nie te doen nie toe hy my liedjie oor die radio hoor.

Op 43 neem mense al ’n bietjie bestek op oor die lewe. Tot watter insigte het jy gekom?

Ek het meer respek vir tyd, want ek besef die jare gaan al hoe vinniger verby. Time waits for no man.

Wat is op jou bucket list (wenslys) voor jy sterf?

Om die groot migrasie van diere in die Serengeti in noordelike Tanzanië te sien, weer Nashville in Amerika te besoek en die musikante Dire Straits en Tracy Chapman live te sien. En om nog ’n mooi plaatjie te maak.  

Ons onthou Theuns met dié treffers oor die jare

Rus sag, Theuns!

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees