Loriska Bubb, Chané Brits en Talana Vuren is die stemme agter die musiekgroep Mwah! SARIE.com het dié drie beter leer ken.
Die musiekman Louis van Wyk het ’n gaping in die Afrikaanse musiekmark gesien en saam met die platemaatskappy LuisterNet Musiek besluit dit is tyd vir ’n vroulike popgroep. Oudisies is gehou en uiteindelik het Loriska, Chané en Talana die kans gekry om die groep Mwah! op die been te bring.
Loriska is die oudste van die groep en het ’n graad in drama by Tuks verwerf. Sy het ook sangklasse by groot name in die bedryf soos Corlea Botha en Adele Strombeck gehad.
Chané het ’n sterk dans-agtergrond, maar het ook hard aan haar solo-loopbaan gewerk totdat sy direk ná skool haar kontrak vir Mwah! geteken het.
Talana is ’n boeremeisie wat sak en pak alleen Johannesburg toe verhuis het om haar passie vir die kunste te volg en in Mwah! ’n tuiste gevind het.
Waar kom jou liefde vir musiek vandaan?
Loriska: Van kindsbeen af! Op al my babavideo’s het ek gesing in plaas van praat. Ek is skaam om te sê, maar ek was altyd voor in die koor en wou die kollig steel!
Chané: Ek het toe ek jonger was by ’n ma-en-dogter-oggend met klavierbegeleiding gesing. Van toe af wou ek net die verhoog my tuiste maak.
Talana: Mense vra my baie dié vraag en dis vir my lekker om net te kan sê ek is daarmee gebore. Dis ’n passie en ’n droom wat ek elke dag kan uitleef.
Waar kom jou inspirasie om musiek te maak vandaan?
Loriska: Inspirasie put jy maar uit lewensondervinding en as jy eerlik is met jouself, dán kom die ware magic.
Ons het ongelukkig nie die geleentheid gehad om self liedjies vir ons eerste album te skryf nie, omdat die materiaal saam met die idee gekom het. Ons hoop dat meer liedjies met die volgende album uit Mwah! se pen sal kom.
Chané: Musiek is gevoelens en emosies wat jy daagliks beleef.
Talana: My inspirasie kom meestal uit daaglikse gebeure. Ek word geïnspireer deur mense se verhale, asook gebeurtenisse in my eie lewe.
Beskryf julle musiek in een woord
Loriska: Vars.
Chané: Uniek.
Talana: MWAH-LICIOUS!
Wat wil Mwah! graag bereik?
As ’n nuwe popgroep wil ons graag die mark binnedring en in mense se harte kruip. Daar is niks beters as om op ’n verhoog te staan en die mense ken jou musiek nie. Ons werk elke dag hard om dit te behaal.
Wat is jou persoonlike styl?
Loriska: ’n Bietjie meer romanties, maar ek hou van ’n moderne twist.
Chané: Dis lekker om great te lyk. Dit beteken jou grimering is goed aangewend en jou hare en naels goed versorg.
Talana: Ek is baie natuurlik, maar tog modebewus. Ek dra graag sagte rokkies en toppies by jeans. Ek glo as jy goed lyk, vóél jy goed!
- Skakel elke Donderdagaand om 20:00 in vir die ‘Die real housewives van Pretoria’ se drama op kykNET (DStv-kanaal 144)! Die vorige episodes is ook op DStv Catch Up.