Soggens word ons wakker met sy strelende stem op RSG se Brêkfis met Derrich, een van die mees geluisterde programme op radio en Donderdae reis kykers heerlik saam met hom deur die land se mooiste tuine in VIA se Tuintoere.
“Ek is fiks, gesond, besig, gefokus en gelukkig,” vertel hy met ’n glimlag. “My vriende spot en sê ek werk net vier ure ’n dag, maar hulle vergeet van letterlik dae van voorbereiding vir my radio-program.”
Hy doen ook grafiese ontwerp, is ’n kranige stokperdjie-fotograaf, skryf musieknotas vir ’n internasionale musiek-stroomdiens en doen so nou en dan optredes as gasspreker of seremoniemeester.