Ons het ’n verskriklike mooi woord in Afrikaans, een wat min gebruik word. Dit is ’n Karoo-woord, ’n Boerneef-woord, ’n woord wat weinig taalgebruikers ken, maar wat oombliklik selfverklarend is. Dis een van my gunstelingwoorde: Dusketyd.
Dusketyd is daardie tyd van die laatmiddag wanneer die menslike lyf sy dinge vir ’n wyle laat staan en die gees asof vanself oorneem. Dit is die uur van melancholie, die uur van bittersoet verlange, die uur van weerloosheid, introspeksie en innigheid.
Dusketyd is wanneer die wêreld se verdriet jou inhaal, jou bietjie in jou spore stuit. Laurinda Hofmeyr sing Boerneef se woorde wat hy in sy gedig met dié titel verewig het. Dit gaan oor die verdriet wat teen dusketyd kom. Luister gerus, Hofmeyr se vertolking is subliem.