Deel

SARIE gesels met ‘Binnelanders’ se Riekie oor dáái skok: ‘Almal het maar ’n donker kant’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
As kind het Zandelle Meyer altyd die kykNET-sepie ‘Binnelanders’ saam met haar ma en ouma gekyk. Vandag vertolk sy self ’n rol op haar gunsteling-sepie.
Nuweling Zandelle Meyer vertolk die rol van Riekie
Nuweling Zandelle Meyer vertolk die rol van Riekie in Binnelanders. Foto: Verskaf.

“Dit gaan omtrent dol!” vertel die jong aktrise wat onlangs by The stage performing arts studio in die Boland as ’n student aangesluit het. “Ek werk hierdie jaar aan my graad agt Trinity-musikale teater-eksamen (wat dans, sang en toneelspel insluit) terwyl ek hustle in die industrie.”

Sy werk ook tans aan ’n Showmax-reeks wat in die Kaap verfilm word en Rooikappie, ’n kinderproduksie deur The stage. “Ek het besef ek moet deurlopend aan my instrument as performer skaaf, terwyl ek oudisies doen en droom oor projekte.”

Sy is ook besig met ’n Adobe-kursus en leer om ’n spin-instrukteur te word. “Ek is ’n bietjie mal oor multitasking!” lag sy.

In Binnelanders vertolk Zandelle die rol van die 17-jarige Riekie Louw, dogter van Henry Louw (gespeel deur Francois Lensley). “Sy is net so sjarmant soos haar pa,” meen Zandelle.

“Sy’s ’n baie nice, vriendelike en pligsgetroue tiener. Sy respekteer haar pa en Rita, sy meisie (gespeel deur Ilana Cilliers) en help uit in die huis as dit nodig is. Maar sy het ook ’n baie donker kant wat ’n mens onkant mag vang . . .”

In die jongste episode betrap Henry vir Riekie op heterdaad terwyl sy besig is om Digoxin in dripsakkies te spuit. Sy doen dit koelbloedig om vir Rita in die moeilikheid te dompel.

“Nes Riekie, was ek maar ’n pliggie op skool,” vertel Zandelle. “Ek is ook die enigste kind en was baie beskermend teenoor my ma en tog skepties as sy die dating-scene betree het.”

“Maar, al is ek baie lief vir my ma, het ek nog nie moord vir haar gepleeg nie. My kriminele rekord is nog skoon!” vertel sy oor die verskil tussen haar en Riekie laggend.

Vir Zandelle begin die voorbereiding vir ’n rol al by die oudisie. “Ek het ’n prentjie van Riekie geskets (letterlik) en my eie waarhede en dit wat ons in gemeen het, probeer vind. Nadat ek al die tekste ontvang het, het ek ’n karakterbybel en haar tydlyn saamgestel.”

Sy het ook baie insig van die Binneland-span en veral Susan Rossouw, wie verantwoordelik is vir Binnelanders se rolverdeling, gekry. “Ek en Susan het sessies saam gehad waar ons die tonele ge-run en bespreek het. By haar het ek veral geleer dat dit belangrik is om net in jou karakter te moet sit eerder as om te wil toneelspeel.”

Op 23 weet Zandelle alle mense het maar ’n donker kant. “Ek dink Riekie se boosheid kom van ’n plek van seer af.” 

Riekie se ma is vroeg oorlede, en dit is onderliggende trauma wat sy nie heeltemal verwerk het nie, wat haar aksies dryf. “Haar wêreld draai om haar pa en sy wil graag sy middelpunt wees. Sy is nie bereid om hom te deel nie en voel verwerp as hy Rita bo haar kies.”

Ongelukkig gaan sy tot die uiterstes om ontslae te probeer raak van Rita.

Zandelle hoop Henry sal ’n manier kan vind om vir Riekie te vergewe. “Ek hoop sy erken skuld, kan rehabilitasie ontvang en hopelik weer eendag in die samelewing kan funksioneer. Ek hoop nie sy gaan tronk toe nie!”

Om haarself in Afrikaans uit te kan druk en rolle te kan vertolk, is vir Zandelle baie lekker. “Binnelanders was nog altyd die sepie wat ek, my ouma en ma saam sou kyk. Ons, soos baie ander Afrikaanse huishoudings, raak super invested in die karakters en die drama!”

Zandelle het baie en groot drome vir die toekoms.
Zandelle het baie en groot drome vir die toekoms. Foto: Verskaf.

Aan die begin was dit vir haar vreemd, maar ook wonderlik om agter die skerms met die akteurs te gesels. “Ek moes myself elke nou en dan knyp om verby die karakter te kyk!” verklap sy laggend.

Die span by Binnelanders beskryf Zandelle as hartlik, warm en neem nie die lewe te ernstig op nie. “Vir my eerste televisiewerk was dit wonderlik!” 

Sy is positief en opgewonde oor die Afrikaanse film- en teaterbedryf. “Dit is baie opwindend om te sien in watter rigting dit beweeg. Met al die vars en vernuwende stories wat vertel word, is daar ’n definitiewe omwenteling aan die gebeur en ek sal graag wil deel raak van die nuwe golf.

“Ek het vir my ma gesê, terwyl ek in die fleur van my lewe is, wil ek soveel as moontlik toneelspeel, karakters ontdek en leer totdat ek gereed is om met die groot name te werk en te skep.”

Met haar voorliefde vir sang en die Franse taal sal Zandelle graag ook eendag ’n kabaret-stuk wil ontwikkel. “Ek dink daar is ruimte vir jongmense om die genre verder te laat voortleef.”

Zandelle se langtermyn doelwitte is om meer te leer van die film-industrie in Afrika en die moontlikhede van filmwerk in Afrika. “Verder wil ek myself bemagtig met die tools om ook te kan klasgee in drama- en musiekteater. Ek weet dit is alles groot drome, maar Rome is nie in ’n dag gebou nie!”

  • ‘Binnelanders’ is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees