Nes die vorige seisoene, is Spoorloos: Die eiland ’n losstaande reeks met ’n nuwe storielyn, eiesoortige karakters en rolverdeling. Die jongste seisoen speel af op ’n fiktiewe eiland vol geheime, met ’n verskeidenheid interessante karakters met bedenklike motiewe.
Geliefde sanger Bobby van Jaarsveld maak sy debuut in ’n dramareeks as Stefan Claasen, die argitek wie se lewe chaoties word wanneer ’n toevallige ontmoeting met sy lang verlore eerste liefde hom by ’n web van bedrog insleep.
Aktrise Leché Joubert, wat kykers leer ken het in die fliek Vergeet my nie, vertolk die rol van Stefan se verloofde, Leandri.