Chané, wat meer as 2,5 miljoen volgelinge op TikTok het en bekend is vir haar unieke inhoud, vertel sy wou eintlik ’n laerskoolonderwyser gewees het. “Ek het onderwys gaan swot. Ek is mal oor kinders en is baie lief daarvoor om saam met hulle te kan werk, dinge vir hulle te leer en hulle net te inspireer.”
In haar matriekjaar het Chané egter reeds ’n groot gevolg op sosiale media opgebou. “Maar nie naastenby groot genoeg vir my om te dink ek kon ’n loopbaan daarvan maak nie,” gooi sy wal.
In haar tweede jaar het sy begin besef onderwys gaan dalk nie vir haar uitwerk nie. “Tydens my studies moes ek praktiseer by ’n laerskool. Dit was vinnig duidelik my leerders ken my van TikTok af en wou niks by my weet oor skool nie. Hulle wou eerder foto’s neem en vra dat ek hulle volg,” lag sy.