Van TB-lyer tot blinkste opera-ster: Brittany Smith gesels

akkreditasie
Dit was een van haar moeilikste hoofstukke - om in 2015 met TB gediagnoseer te word ... Maar vandag is die Suid-Afrikaanse operasanger Brittany Smith innig dankbaar en floreer behoorlik in die wêreld van opera. Sy gesels met SARIE.com.

Sy is een van die land se blinkste nuwe sterre in die opera-arena. Só beskryf Niël Rademan, kunstenaar en uitvoerende hoof van die Hessequa Harmonie-kunstefees, vir sopraan Brittany Smith.

“Sy het ’n beeldskone soepel sopraanstem, goeie toneelspelvernuf en is lekker om na te kyk op die verhoog. Hierdie is die perfekte kwaliteite om sterstatus te bereik. En Brittany is sonder twyfel een!”

Vanjaar is die Brittany een van die kunstenaars wat by die Hessequa Harmonie (21-25 September) in die Wes-Kaapse dorpie van Heidelberg gaan optree. Sy beantwoord vyf vrae van SARIE.com

1. Wat maak jou opgewonde om deel te wees van die Hessequa Harmonie-kunstefees?

So lank as wat ek kan onthou, wou ek nog altyd saam met Niël Rademan en die gang gesing het. Hy het altyd saam met ’n handjievol talentvolle kunstenaars opgetree en talent het my nog altyd aangetrek. Toe ek deur Niël genader was, was ek baie gevlei en opgewonde. Met die pandemie se ewigdurende swaard wat oor ons nekke hang was ek verjeug om weer musiek te maak ... Ek gaan weer vir ’n lewendige gehoor sing, mense gaan weer musiek waardeer en die bonus is Mozart, natuurlik! Wat is meer verruklik as om jou gehoor met ’n bietjie Mozart te betower?

2. Daar is sterk en weerlose vrouekarakters in die wêreld van opera, soos Carmen, Leonore in “Fidelio”, Musetta in “La bohème” en selfs die titelkarakter van “Tosca”. Met watter karakter kan jy meer identifiseer en hoekom?

Ek dink ek kan ’n bietjie met elkeen identifiseer. Ek het die voorreg gehad om verlede jaar, voor die pandemie kommerwekkend begin raak het, Musetta te speel in die Matthew Wild-produksie van La bohème. Hoewel ek nie soos Musetta materialisties is nie, hou ek ook van mooi goed. Wat kan ek sê? Ek is immers ’n vrou. Musetta weet wat sy wil hê en maak seker dat sy dit kry ... en op ’n manier weerspiëel dit ook my ambisieuse kant met die werk wat ek vir myself skep en die kontakte wat ek in die bedryf opbou. Maar die karakter wat ek die meeste meer identifiseer is Violetta Valery van Verdi se bekende opera La Traviata. In hierdie besonderse liefdesverhaal raak sy verlief, soos ek, maar raak terminaal siek met tuberkulose. Ek is gelukkig – ek was ingeënt daarteen as kind en het ook die siekte oorleef. Sy hê vrylik lief ... en ek dink ek doen ook. Wat is die lewe sonder egte, onvoorwaardelike liefde? Ongeag wie of wat jy is.

Brittany tree in September by die Hessequa Harmonie-kunstefees op, wat in die Wes-Kaapse dorpie van Heidelberg plaasvind. FOTO Kayla Demi Pietersen van One23Cheese Photography

3. Jy was ses jaar gelede met tuberkulose gediagnoseer, maar het ten volle herstel. As jy terugkyk na hierdie uitdagende hoofstuk, wat is die een ding wat jy van jouself en jou karakter geleer het?

2015 was die vreesaanjaendste jaar van my lewe. Ek was konstant in en uit die hospitaal met brongitis, daarna was dit erge sooibrand (acid reflux) en naderhand kon niemand vir my sê wat fout was met my nie. Teen die einde van die jaar was ek sonder hoop, want ek het uitasem geraak selfs wanneer ek iets eenvoudigs gesing het soos ’n 4-8 bar phrase – iets wat ek normaalweg in een asem kon sing. Toe ek in Desember inmekaar sak, het ek geweet dis nie brongitis nie. Ek onthou nog hoe ek met my ma gegrap het dat ek heel moontlik TB het. Min het ek geweet ... Ek was gediagnoseer met endotrageale tuberkulose wat 4 cm onder my stem bande geleë was. Ná ’n ses maande-kursus van antibiotika, wat my baie siek laat voel het, het ek ten volle herstel met minimale letsels. Ek het net ’n effense tril as ek lag, verder is ek so dankbaar vir God dat ek so vinnig herstel het ... My familie se ondersteuning was kardinaal tot my herstel. Wat ek van myself geleer het is dat ek sterk is, ek is veerkragtig, ek is vreesloos. Hierdie het my geslyp en gevorm. Dit het my ook geleer om na my liggaam te luister as dit vir my sê om dit stadiger te neem. Dis een van die grootste lesse wat die lewe my geleer het. En op ’n manier is ek bly dit het gebeur, kyk net vir my ... I am invincible!

4. Watter wenk het jy vir iemand wat onbekend is met die genre van opera en dit graag wil begin luister? Is daar enige werke wat jy aanbeveel vir “beginners”?

Ek sê altyd vir my vriende, wat onbekend met opera is, om eers ’n konsert by te woon. Ek het dit met my lewensmaat gedoen, want hy het geen idee gehad dat my wêreld bestaan nie en dat dit boonop so lewendig in Suid-Afrika is. Hy sê toe vir my: “Al wat ek sien is choas wat voor my afspeel ... mooie choas. Tog, kan ek terugsit en ontspan met die wete dat ek niks daaraan hoef te doen nie!” Ek sal nooit iemand vir die eerste keer vat om iets soos Wagner se Parsifal te sien nie. Dis te swaar. In stede daarvan sal ek hulle vat om iets soos Mozart se Die Zauberflöte (Die Towerfluit) te kyk. Opera is nie vir almal nie. Maar ek is seker as jy dit stadig en stukkie vir stukkie aan “nuwe ore” voorstel, sal hulle naderhand die ouvertures in hul motors speel ... nes my lewensmaat!

Die pragtige sopraan Brittany Smith se lewensmaat, Kyle Williams, het glad nie die wêreld van opera geken nie. Nou luister hy graag ouverture in sy motor. FOTO Instagram / Brittany Smith Soprano

5. Jy kan die verhoog met drie operasangers deel ...

Een van hulle sal my geliefde onderwyser en professor wees, Virginia Davids [van Universiteit Kaapstad]. Hierdie vrou het soveel vir my gedoen, sy het my geslyp in die suksesvolle kunstenaar wat ek vandag is. Sy was hard op my gedurende my studies, want sy wou net die beste vir my gehad het. En as ek kon sou ek in ’n oogwink saam met haar sing. ’n Ander kunstenaar wat ek bewonder is [die Suid-Afrikaanse sopraan] Golda Schultz. Haar vurige persoonlikheid is verfrissend. Ek hoop daadwerklik om eendag saam met haar die verhoog te deel, sy is ongelooflik talentvol en inspireer my daagliks. En dan laastens sal ek [die Kubaans-Amerikaanse sopraan] Lisette Oropesa kies, haar besonderse bekwaamheid as kunstenaar en haar vokale trefkrag sal ’n vreugde wees om teenoor te sing.

Opera is nie vir almal nie, erken Brittany. Maar as jy stadig en stuk vir stuk die genre aan “nuwe ore” voorstel, kan hulle dalk net van dit hou. FOTO Dirk du Plessis

Hessequa Harmonie

Die Hessequa Harmonie wat vanaf 21-25 September in Heidelberg, Wes-Kaap, plaasvind. Groot name soos Sandra Prinsloo, Hannes van Wyk en Elsabé Daneel is vanjaar deel van die kunstefees se talentvolle kunstenaars. Besoek hul amptelike webtuiste vir meer inligting. 

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees