Die punte van haar donker hare lyk of dit in heuning gedoop is en haar oë skitter. Die 27-jarige Schané Venter van Alberton is gemaklik in haar vel – jy kan dit sien. Haar tikkie wysheid? “Jy kan net vervuld leef as jy weet hoe en waar jy die grootste impak maak.”
En met haar gunsteling-leerbaadjie kan sy die wêreld in die oë kyk. Sy is gedrewe, hardwerkend en tans betrokke by die Mej. Suid-Afrika-organisasie, waar sy as ’n bedryfs- en logistieke bestuurder werk. Haar inspirasie? Suzette van der Merwe, voormalige Mej. SA en sakevrou.
Sy het met SARIE grootgeword. “Ek ken SARIE vandat ek ’n dogtertjie is. Dis ’n tydskrif van hoop.” As kind het sy 12 jaar lank gimnastiek gedoen. “Dit het my die waarde van vriendskap geleer en om nooit op te gee nie. My gunsteling-fliek is ook die gimnastiek-fliek Stick it.”
Dis juis wat haar bang maak. “Dat mense maklik opgee en nie bereid is om te werk vir wat hulle wil hê nie.”
Schané is ambisieus en het nog groot drome. Maar haar hart sal ewig in Suid-Afrika bly. “Dis my huis, dis waar my siel rus.”
En wie bewonder sy? “My engelsussie, Lizahn. Sy’t ’n baie traumatiese ervaring gehad, maar glimlag altyd.”
Só is Schané voorbladmooi ...
PARFUUM Jimmy Choo Floral, ’n vrugtige blomgeur
INOAR Die B-Perfect-behandeling en Daymoist-masker het haar gedehidreerde hare bevog, en haar balayage-ligstrepies is met die Speed Blond-opknapper verhelder.
ISA CARSTENS AKADEMIE Elke finalis het ’n omvattende velanalise ontvang en daarna ’n gesigbehandeling propvol antioksidante.
KALAHARI Elkeen is bederf met ’n lyfafskilfering, voetbehandeling en twee lyfmasserings, asook ’n vitamien C-gesigbehandeling vir ’n helder, fermer vel.
SARIE Voorbladgesig word met trots aangebied in samewerking met Jimmy Choo Parfums, INOAR, die Isa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle. Die finaliste het tydens die fotosessie gebly by Tsogo Sun se luukse Cullinan Hotel.