‘Wat dit vat’-wenner maak oop oor verlede met geslagsgeweld in nuwe liedjie: ‘Jy verdien dit nie!’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Vanjaar is 25 November die begin van die jaarlikse 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders, gepas op Swart Vrydag.
Hierdie is nie liefde nie . . .
Hierdie is nie liefde nie . . . Foto: Verskaf.

Die 16 dae van aktivisme-veldtog teen geweld op vroue en kinders is ’n jaarlikse Verenigde Nasies-inisiatief wat fokus op die bewusmaking van die negatiewe impak wat geslagsgeweld, nie net op vroue en kinders het nie, maar ook op die samelewing.

’n Mens hoor altyd in die nuus die grusame verhale van geslagsgeweld met tragiese gevolge. Ongelukkig is geslaggeweld baie meer algemeen, baie nader aan die huis as wat die meeste van ons besef.

Op 25 November vanjaar gaan bekende musikant Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties en sanger en liedjieskrywer Michelle Mountjoy, wat naam gemaak het toe sy Wat dit vat met Loki Rothman in 2021 gewen het, saam ’n enkelsnit vrystel.

Die liedjie se naam is “Hierdie is nie liefde nie” en dit skets nie ’n mooi prentjie nie.

Hierdie lied is ter ondersteuning van die 16 dae van aktivisme-veldtog en is saamgestel in samewerking met die TEARS-stigting. Dit tref diep en dra ’n kragtige boodskap oor – ware liefde is nie gewelddadig nie.

Hierdie treffende lied, wat Michelle saam met Hunter en Fred den Hartog geskryf het, gaan oor wat liefde nié is nie. Dit is iets wat Michelle uit eie ondervinding moes leer.

“Ek was vasgevang in ’n verhouding waar ek mishandel is,” vertel sy eerlik. “Ek het stilgebly en myself in baie meer moeilikheid gekry.”

Sy beskryf haar situasie as lelik. “’n Mens word so erg gemanipuleer dat jy begin glo dit wat met jou gebeur, is hoe dit moet wees.”

So diep was Michelle verstrengel in ’n verhouding van mishandeling dat sy geglo het dit is wat ware liefde is. “‘Verkeerd’ was my bynaam. Ek kon niks reg of goed genoeg doen nie. Ek is daagliks sleggesê, geskreeu en geskel en hanteer soos ’n kind.”

Michelle het mishandeling oorleef.
Michelle het mishandeling oorleef. Foto: Verskaf.

Die mishandeling het haar selfs tot in die slaapkamer gevolg. “As ek nie intiem wou wees nie, was dit altyd ’n groot bakleiery tot ek ingegee het,” erken sy.

Ná ’n hand ’n paar keer teen haar gelig is, het Michelle, wat op daardie stadium oorsee gewoon het, begin besef sy is in die moeilikheid. “My ma het kom kuier en ek het eendag net gebars en my hart gedeel.”

Haar ma het dadelik besef sy moet haar dogter help om die situasie te ontsnap ná sy eerstehands beleef het hoe Michelle se geliefde teenoor haar optree. “Sy het alles gedoen en gesê om my daar te probeer wegkry, want sy was bang sy sien my nooit weer nie.”

Met haar ma se terugkoms in Suid-Afrika het sy, Michelle se pa en haar sussie haar heeltyd gesmeek en gesoebat om huis toe te kom. “Ek was so naby om te bly, maar ek het die kans gevat en gehardloop. Ek kon in die diepste deel van my maag voel ek móés daar uit. As ’n mens weet, dan wéét jy.”

Vandag besef Michelle as sy nie daar en dan die besluit gemaak het om huis toe te kom nie, sy waarskynlik nooit uit die situasie sou kon ontsnap nie.

Sanger en liedjieskrywer, Michelle Mountjoy.
Sanger en liedjieskrywer, Michelle Mountjoy. Foto: Facebook.

Juis oor haar verskriklike ervaring het Michelle besluit om haar stem te laat hoor. “Ek hoop hierdie lied help ander mense in soortgelyke situasies. Vir my gaan dit meer oor die boodskap as oor die liedjie self. Musiek is ’n taal wat almal praat.”

Michelle en Hunter het ontmoet op die stel van Wat dit vat. “Nadat ek en Hunter saamgewerk en mekaar leer ken het, het ek geweet hy is die perfekte pasmaat vir my liedjie.”

Met haar hart in haar hande het Michelle haar storie met Hunter gedeel en hy het dadelik ingestem. “Om eerlik te wees, ek het nie Hunter my hele storie vertel nie, want ons het oor die foon gesels. Ek het hom net vertel ek was mishandel en het my lirieke vir hom gestuur. Dit verduidelik waardeur ek was en ek dink hy kon mooi tussen die lyne lees.”

Op sy beurt vertel Hunter Michelle se storie oor haar mishandeling was treffend. “Ek het emosioneel geraak toe ek haar lirieke lees. Ek het gefrustreerd en vasgevang gevoel. En kwaad. Ons het probeer om met die hulp van Fred Den Hartog daai emosies vas te vang in ’n liedjie.”

Hunter, wat nou 40 is, voel op sy ouderdom was alm
Hunter, wat nou 40 is, voel op sy ouderdom was almal moontlik al ’n slagoffer van een of ander vorm van mishandeling. Foto: Michael Ellis

Hunter, wat nou 40 is, voel op sy ouderdom was almal moontlik al ’n slagoffer van een of ander vorm van mishandeling.

“Mishandeling kom in baie jassies. Die impak is nie altyd fisies sigbaar nie, maar kan vir jare negatiewe sielkundige nagevolge hê. Partymaal rig verbale en geestelike mishandeling in ’n verhouding dieselfde skade as fisiese.

“Daar is ook finansiële mishandeling, byvoorbeeld waar die broodwinner geld sal gebruik om hul wil af te dwing. Familie, skool, werk – daar is baie sfere waar mishandeling plaasvind. . . .”

Michelle wil ander vrouens inspireer met “Hierdie is nie liefde nie” en sien uit vir die liedjie om vrygestel te word. “As jy jouself in daardie situasie vind, ek weet jy is bang. Maar jy kán dit doen. Daar is altyd hulp. Moenie bang wees om te praat nie.”

Sy erken syself wens baiekeer sy het vroeër met haar ma gepraat. “Dit sou my soveel trauma gespaar het. Daar is altyd ’n uitweg. Jy verdien dit nie, want dit is nie liefde nie.”

Hunter is onseker hoe Suid-Afrikaners die lied gaa
Hunter is onseker hoe Suid-Afrikaners die lied gaan ontvang. Foto: Verskaf.
Met die lied vra niemand vir geld of gevoelens van
Met die lied vra niemand vir geld of gevoelens van simpatie vir die slagoffers nie. Foto: Verskaf.

Michelle meen dit is maklik om jouself in so ’n verhouding te bevind as jy nie weet wat die tekens van geslagsgeweld is nie. “As hy jou enigsins probeer beheer, hardloop. Hy het vir my gesê ek mag nie in tights draf nie. Ek het aspris jeans aangetrek om ’n punt te bewys. Sy antwoord: ‘Dis beter . . .’”

Nog ’n waarskuwingsteken is wanneer iemand kwaad raak as jy nie intiem wil wees nie. “So iemand sal jou ook maklik gaslight, jou gevoelens (wat hulle veroorsaak het) teen jou gebruik.”

Haar raad is om fyn dop te hou hoe iemand ander mense hanteer. “Veral sy ma. As ’n man nie ’n hart het vir sy ma nie, gaan hy tien teen een glad nie een vir jou hê nie.”

Michelle glo ook vas ’n mens kan sien as iemand na aan jou in so ’n situasie vasgevang is. “Jy ken jou mense. My mense het my geken en wie ek besig was om in daardie tyd te word, was ’n vreemdeling.”

Deesdae is Michelle ’n ambassadeur van TEARS, ’n organisasie  wat toegang bied tot krisisintervensie-, voorspraak-, berading- en voorkomingsopvoedingsdienste vir diegene wat geraak word deur gesinsgeweld, seksuele aanranding en seksuele mishandeling van kinders. Dit is in Johannesburg geleë en verskaf ’n nasionale, gratis diens wat 24/7, 365 dae per jaar funksioneer.

“Ek het die organisasie genader ná ek op Wat dit vat was. Ek wou so graag mense help en het gedink om dit deur my musiek te kan doen, sal ongelooflik wees en die boodskap sal soveel verder gaan.”

Vandag is Michelle se definisie van liefde: “Vertroue, veiligheid, lojaliteit, kommunikasie, begrip, ondersteuning, waardering, dankbaarheid en vreugde. As julle dit in mekaar kan vind en mekaar aanmoedig om so te wees, bou julle mekaar op.”

Die maak van die musiekvideo was vir Michelle baie
Die maak van die musiekvideo was vir Michelle baie lekker en terapeuties. Foto: Verskaf.

Die maak van die musiekvideo was vir Michelle baie lekker en terapeuties.

“Ek het verskriklik erg gesukkel om heeltemal te genees van wat met my gebeur het. Dit het my amper vier jaar geneem. In die middel van hierdie jaar het ek uiteindelik heeltemal genees en ek voel soveel ligter! Die video het my teruggeneem na baie oomblikke in daardie tyd en dit was eintlik so bevrydend om daardie emosies deur die video uit te leef.”

Sy hoop mense wat aanklank vind by “Hierdie is nie liefde nie” of iemand ken wat in so ’n situasie is sal opstaan, praat en aksie neem.

Met die lied vra niemand vir geld of gevoelens van simpatie vir die slagoffers nie. “Ons smeek nie om meegevoel nie. Hierdie liedjie is doelgerig om slagoffers aan te spoor om hulp te soek,” verduidelik Hunter.

Hierdie treffende lied, wat Michelle saam met Hunt
Hierdie treffende lied, wat Michelle saam met Hunter en Fred den Hartog geskryf het, gaan oor wat liefde nié is nie. Foto: Verskaf.

“En dis waar TEARS inkom. As jy enigsins voel jy het hulp nodig om te deal met enige vorm van mishandeling van verbaal, geestelik, finansieel tot ’n verkragting, kan jy hulle kontak op sosiale media (hulle is vinnig) of jy kan die nommer skakel *134*7355# en hulle sal jou in kontak sit met iemand wat kan help. Verniet!”

Hunter vertel TEARS gaan uit hulle pad en volg op. “Hulle kan reël om jou te kom haal sonder dat jou huismaat weet en jou en jou kinders in ’n anonieme huis van veiligheid sit. Hulle kan jou in kontak met beraders sit. Hulle doen basies alles. As jy twyfel of jy moet, kontak hulle.” 

As Hierdie is nie liefde nie net een vrou aanspoor om hulp te soek, is dit vir Hunter genoeg. “Ek hoop ons kom by die mense uit wat die boodskap die nodigste het voor dit te laat is. Al is daar een persoon wie se lewe gered word, is dit ’n wen. Dis ‘n druppel in die emmer, maar met genoeg druppels kan die emmer oor loop.”

Hunter is onseker hoe Suid-Afrikaners die lied gaan ontvang. “Ek bedoel, ek dink daar is net een kant om te kies hierso? Dis natuurlik nie ’n aangename onderwerp nie, maar dit is van kardinale belang dat mense begin praat daaroor.

“Suid-Afrika se statistieke is afgryslik en daar is bewyse wat toon dat die tipe geweld oorgedra word van generasie tot generasie. Dis logies. Dis afskuwelik. Ons moet probeer om dit te stop.”

Kry hulp
Indien jy of iemand wat jy ken verkrag is of mishandel word, skakel, *134*7355# (Gratis) of kontak die TEARS-Stigting op 010 590 5920 (24/7).   


JONGSTE UITGAWE

November/Desember-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees