3 romans wat temas oor emosionele welstand aanroer: Vra vir iemand hoe dit gaan, jy red dalk net hul lewe!

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dis belangrik om mense rondom jou te vra hoe dit gaan. Belangriker nog is om dan werklik te luister. Daardie bietjie belangstelling is dikwels die ding wat ander help om aan te gaan met die lewe. In hierdie drie romans gaan dit oor die emosionele welstand, menslikheid en die ondersteuning van getraumatiseerde karakters.
 
sigrid nunez

‘What are you going through’, Sigrid Nunez (Little Brown, *R335)

Hierdie roman handel oor temas soos vriendskap, empatie, verlies en eensaamheid, maar die oorkoepelende tema is menslikheid. Om iemand te vra: “Waardeur gaan jy?”, demonstreer ’n mate van menslikheid. Jy gee om. Jy wíl luister. Dié vraag sê: “Ek is hier vir jou”.

Die naamlose verteller in die roman, ’n enkellopende vrou, kry op ’n dag ’n buitengewone versoek van een van haar ou vriendinne om haar te help sterf. Die vriendin ly aan ’n ongeneesbare kanker.

Alhoewel sy en die verteller nie meer so na aan mekaar is nie, het sy tog die vrymoedigheid om haar om hulp te nader, nadat twee ander vriende nie daarvoor kans gesien het nie.  

Die verteller gaan kuier in die kankerkliniek by haar sterwende vriendin. Al twyfel sy aanvanklik, stem sy tog op die ou einde in om haar te help.

Die vriendin wil graag hê hulle moet weggaan, nie noodwendig iewers ver of idillies nie, sommer iewers naby tot sy gereed is om die pille vir haar genadedood te drink. Sy reken: “Kanker kan haar nie kry as sy haarself eerste kry nie.”

Dis werklik ’n intense ervaring vir die verteller, maar sy probeer dit vir haar vriendin so lekker as moontlik maak. Hulle kyk films en lees sprokiesverhale.

Deurentyd word dié verhaal onderbreek deur ander vertellings deur die verteller waarin sy ’n reeks ontmoetings beskryf wat sy met verskeie mense oor die jare heen gehad het, sommige wat sy goed ken, ander weer totale vreemdelinge.

In elke scenario of storie, neem die verteller die rol van die passiewe luisteraar aan. Sy skets vir die leser ’n portret van hoe mense tans leef.

Sy lig vir ons die krisisse in ons alledaagse bestaan uit en wys vir ons hoe ons gebeurtenisse hanteer. Dit is werklik doeltreffend hoe sy deur middel van alledaagse stories vir ons die smart wat mense moet deurmaak, uitwys.

Die roman laat ’n mens nadink en dit kom uiteindelik neer op ’n aanhaling van Robin Williams: “Everyone you meet is fighting a battle you know nothing about. Be kind. Always.” – Marzanne Schoeman

 
Charlotte Leonard

‘Afterwards’, Charlotte Leonard (Simon & Schuster, *R330)

Hierdie verhaal gaan oor verlies en alles wat daarna gebeur, hoe ’n mens sin probeer maak van ’n enorme gat wat in jou lewe gevorm het.

Jay en Emma is ’n gelukkig getroude paartjie wat hul passie uitleef deur hul verskillende beroepe. Sy is ’n verpleegster en hy ’n vryskut-fotograaf.

Emma se hele wêreld tuimel inmekaar toe sy eendag tuiskom en sy iets aanskou wat haar hele lewe omvergooi. Jay het sy eie lewe geneem en dis ’n toneel wat Emma diep ontstig en laat twyfel aan hul verhouding en alles waarop dit gebou was.

Sy vlug weg van haar tuisdorp en ook van almal wat vir haar omgee. Sy beland in ’n klein kusdorpie om haarself te probeer vind en sin te maak van die trauma wat sy beleef. Sy probeer ook op Jay se spore terugloop om hom opnuut te leer ken.

Sy kan nie sin van dit alles maak nie en moet probeer antwoorde kry.

Die inwoners van die kusdorp maak dit hulle taak om haar te omarm, te ondersteun en ’n soekende pad saam met Emma te loop. So leer Emma wat vriendskap beteken en ook dat sy, in al haar hartseer, ’n rol speel in die dag tot dag bestaan van die inwoners van dié kusdorp.

Die leser kan nie help om betrokke te voel by hierdie diep menslike verhaal nie. Die skrywer roer temas aan van hartseer, skok, selfverwyt, agterdog en verskeie aannames oor die hoe’s en die hoekoms.

Dis die soeke van iemand wat ’n deel van haar menswees verloor het, wat al die stukke bymekaar bring en dan besef hoe onmisbaar familie en vriende in tye van nood is.

Emosies word sterk beskryf: Veral die stryd om te aanvaar en voort te gaan, al voel dit of die dood ’n beter uitweg sou wees. Daar is tog sonskyn ná al die storms wat soms ’n mens se hele menswees bedreig. – Olga Krügel

 
Paula Marais

‘A Nuclear Family’, Paula Marais (Logogog Press, *R380)

Hoeveel invloed het ’n begaafde kind op die normale bestaan van ’n gemiddelde gesin? Nie dat ek gedink het die Louws verteenwoordig ’n gewone voorstedelike bestaan in hul gegoede woonbuurt in Kaapstad nie.

Albert, die elfjarige seun van Alice en Bruce, is meestal buite beheer. Ek kry vroeg in die verhaal die idee dat hy outisties is, maar sonder die nodige mediese hulp.

Ek ervaar saam met sy gesin spanning oor sy  buitengewone gedrag. Albert se sussie, Enjoy, is net ses maande jonger as hy. Sy is as baba deur die Louws aangeneem, nadat hul geliefde huiswerker gesterf het. Joy is die appel van haar pa se oog.

Sy is sportief en draf graag saam met hom teen Tafelberg op. Sy is ook ’n bok vir sports. So anders as haar “lui” en onstabiele boetie wat Bruce teen die mure uitdryf.

Hy sorg dat hy lang ure werk sodat hy nie die probleme tuis hoef te hanteer nie. Dit maak Alice wrokkig omdat sy altyd alleen deur die storms van die lewe moet worstel.

Sy werk bedags as ’n tekenaar omdat sy destyds haar studies in argitektuur moes staak om Bruce die geleentheid te gee om sy studies suksesvol te voltooi en om ’n sukses van sy besigheid te maak.

Dis eers wanneer Alice op Albert in sy kamer afkom waar hy aan sy nek hang, dat haar eie brose bestaan begin verkrummel. Hy word in ’n kliniek opgeneem waar sy geestesiekte gediagnoseer en behandel word.

Ná hy ontslaan word, moet hy deurlopend gemonitor word en Alice stry verbete om die pante van haar lewe bymekaar te hou. Bruce koop hulp deur ’n jong tutor, Leo, aan te stel om Albert tuis te onderrig.

Dis die soveelste besluit wat hy maak sonder om Alice in die saak te ken. Sy reageer woedend toe Leo die eerste oggend by hul huis opdaag. Dis egter nie lank nie of Albert reageer goed op Leo se opdragte en voorstelle. Alice begin hulle alleen laat.

Leo, ’n aantreklike jong, Italianer beïndruk haar meer en meer. Bruce is egter nie so tevrede as Leo saans nog daar is wanneer hy tuiskom nie. Die etenstafel word ’n oorlogsone.

Bruce kwets Albert met sy woorde wanneer hy hom verkleineer. Hy rand hom ook aan omdat hy nie die “nonsens” van sy seun verdra nie. “Hy moet net gedissiplineer word”.

Dit was nogal erg vir my om bladsy vir bladsy die spanning wat in die Louws se huis heers, te verduur.

Paula Marais slaag goed daarin om die emosionele manipulasie in ’n disfunksionele gesin bloot te lê. Dis merkwaardig hoe ’n gediagnoseerde geestesieke die verhoudings binne ’n gesin kan aftakel.

Soveel so dat ek die verhaal wou vooruitloop om te help opruim aan die brokstukke wat die wêreld vol lê. Kan Bruce, die boelie, tog nie net van die toneel af verdwyn nie? – Tina Swiegers.

* Pryse onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing 

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees