3 skrywers wil weet: Kan die liefde groot uitdagings en terugslae weerstaan?

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Watter terugslae in ’n verhouding kan die liefde weerstaan? Dis die kwessie wat drie skrywers in hul boeke ondersoek. ’n Buite-egtelike verhouding is opwindend, tot die dag wat dit op die lappe kom en ’n huwelik laat verbrokkel. Watter besluite maak jy om aan te gaan met die lewe en moontlik jou huwelik te red?

Heartsick

‘Heartsick’, Jessie Stephens (Macmillan, *R350)

Joernalis Jessie Stephens se eerste boek, Heartsick, is gegrond op intensiewe onderhoude wat sy met drie uiteenlopende mense gevoer het oor hul groot liefdes en die verlies wat hulle ervaar het toe daardie liefdesverhoudings tot ’n einde gekom het. 

“You think that on the day the world falls apart, the colour of the sky will change. But it doesn’t. It stays blue, and your phone continues to vibrate, and you take the dog for a walk, just like any other day.” (bl. 197) 

Ana is in haar vroeë veertigs. Sy is al vir 25 jaar getroud met drie wonderlike kinders en het ’n hond. Sy is lief vir haar man en as mense haar vra of sy gelukkig is, sal sy sonder skroom antwoord: “Ja!”

Maar dan besef sy eendag dat sy eintlik verlief is op ’n ander man, haar beste vriend. Hy’s nog al die jare reg onder haar neus. Sy knoop ’n buite-egtelike verhouding met hom aan, maar dit kan nie goed eindig vir enigiemand nie. 

Ons ontmoet ook die eensame Patrick op universiteit. Patrick het nog nooit vantevore ’n meisie gehad nie. Hy raak dan tydens ’n groepopdrag verlief op Caitlin, maar dan vind hy uit sy het ’n kêrel.

Hulle kom uiteindelik bymekaar uit, maar is sy so erg oor hom soos hy oor haar is? 

Claire trek Londen toe waar sy vir Maggie ontmoet. Die twee knoop ’n hegte verhouding aan en trou met mekaar. Hulle trek eindelik terug na Claire se ouerhuis in Toowoomba, Australië, maar dan loop dinge lelik skeef en die huwelik verbrokkel.

Kan die bedroewe Claire daarna aanbeweeg?

Heartsick is ’n storie oor liefde en verlies, een waarin Jessie hoop dat: “. . . within it you find echoes of yourself.” (bl. xiii). Ter wille van privaatheid het die skrywer die karakters se name verander.

En volgens bekende boekblogger Jess van Jess Justs Reads sal “Heartsick jou óf dankbaar laat voel vir die liefde wat jy nou het, óf jou laat voel dat jy nie alleen is nie.” – Marzanne Schoeman

The affair Danielle Steel

‘The Affair’, Danielle Steel (Macmillan, *R300)

Rose McCarthy is die legendariese redakteur van een van New York se top-modetydskrifte. Haar veeleisende beroep vul haar lewe.

Nà die afsterwe van haar man het sy en haar vier dogters ’n hegter band as ooit. Die dogters het almal suksesvolle loopbane: Athena is ’n televisie-sjef, Venetia ’n modeontwerper, Olivia ’n regter in die hof en Nadia, die jongste van die susters, ’n talentvolle binnehuisversierder.

Rose se tydskrif wil graag ’n voorbladartikel met ’n jong, ontluikende aktrise doen. Dié aktrise is in aanvraag en dit sal ’n pluimpie in die tydskrif se hoed wees as hulle dit kan regkry.

Maar dan breek die nuus dat die aktrise ’n verhouding het met ’n Franse topverkoper-skrywer. Dié skrywer is niemand anders as Nicolas, Rose se skoonseun, nie.

Nadia en Nicolas woon is Parys met hul twee jong dogters. Volgens haar het hulle ’n gelukkige huwelik. Hartgebroke en verneder kyk Nadia na haar familie vir vertroosting en ondersteuning.

Haar susters vlieg van oral af om laer om Nadia te trek en natuurlik, om haar te adviseer wat om te doen. Maar is hul advies die regte ding vir Nadia? Sy moet self besin oor die pad vorentoe.

Soos wat ma en dogters meer tyd saam spandeer, besef hul wat regtig saakmaak in die lewe.

Danielle Steel is met reg een van die topverkopers en sy sal nog lank gewild bly. Sy vertel roerende stories oor kwessies wat vroue reg oor die wêreld raak.

In The Affair gaan dit oor jou eie pynlike reis tot selfkennis, en of jy jou geliefde se misstappe kan vergewe om jou belangrikste verhouding te red.

Hoeveel vergifnis het jy in jou hart en kan jy met jou besluite saamleef? – Nadia de Jongh 

 
when the music stops

‘When the Music Stops’, Joe Heap (Harper Collins, *R325)

Britse romanskrywer, Joe Heap, vertel die onkonvensionele liefdesverhaal van Ella en Robert.

Die storielyn is belowend en die formaat van die roman is uniek: Die hoofkarakter, Ella, ly aan demensie en die verhaal open in die hede met haar, haar dogter en haar naamlose kleinseun op ’n boot.

’n Storm woed en wanneer die 87-jarige Ella weer wakker word, is dit net sy en haar kleinseun op die boot.

Ella se lewensverhaal word deur terugflitse aan die leser vertel. Met elke terugflits leer ken ons vir Ella in ’n ander tydperk van haar lewe. Ons ontmoet ook deur die loop van die verhaal die sewe belangrike karakters wat ’n integrale deel in haar én Robert se lewe gespeel het.

Vir Robert ontmoet ons al in die eerste terugflits en wéét dus dat hy ’n baie belangrike rol in Ella se lewe gaan vervul. Hulle het in die straat van mekaar af grootgeword in Skotland en is aan mekaar verbind deur Rene, Ella se beste maatjie en Robert se jonger sussie.

Maar dis eers ná Rene se skielike dood wat Robert en Ella vriende word en haar liefde vir musiek begin.

Ja, musiek speel ’n kardinale rol in die roman (as jy na die titel en voorblad kyk, kan jy dit klaar raai). Dis danksy die kitaar wat Ella van Rene geërf het dat haar liefde vir musiek begin het.

Ella trek later Londen toe om haar droom as musikant na te streef. Hier ontmoet sy interessante mense, maar daar is net een konstante in haar lewe, Robert.

Vir my is die storielyn belowend en die formaat uniek, máár ongelukkig het die roman te min diepte. Ernstige temas soos oorlog, bomskok, seks, dwelms en selfdood word ligweg aangeraak.

Wat my die meeste pla is dat die verhaal te kort is vir die hoeveelheid karakters en die hoeveelheid temas wat aangeroer word. Die karakters is oppervlakkig en voor die leser emosioneel betrokke kan raak by ’n karakter, dan is sy/haar verhaal al verby.

En hoe die legkaarte almal in mekaar pas en bydra tot Ella en Robert se liefdesverhaal weet ek eintlik nou nog nie.

Dié roman is hoogaangeskrewe en kry oral 5 sterre van lesers. Dit lees baie vinnig en maklik. So, pak dit in vir ’n naweek weg of lees dit met ’n wyntjie voor die kaggel en besluit maar self. – Marzanne Schoeman

*Pryse onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees