Die karakters in die vier verhale skyn ’n lig op hul eie werklikheid deur die beskrywing van hul lewens en gee insig in die gebeure wat hulle gevorm het. Dis in die onthou en terugkyk wat berusting kom oor die ongenaakbaarheid van die lewe wat die mens weerloos maak.
‘Plaas se prys’, Willemien du Preez (Protea Boekhuis, *R320)
“Mense skud deesdae maklik die stof van hul voete af en vertrek. Kaap toe meermale. In elke straat in die buurt waar ek nou woon is ’n Te Koop-bordjie op die sypaadjie ingehamer. Amper elke dag hoor ek van iemand wat Kaap toe wil trek.
“Vir baie mense nou die laaste vesting. ’n Oord waarna hulle hunker, na laatmiddagmistigheid teen die berghang, ’n stukkie see, rooidakhuise in rye, witgekalkte mure, ’n vuurtoring en ’n kaai. Dáár sal ons rus vir ons siel vind en agterlaat wat was. Ons sal ons maskers afhaal en mekaar weer raaksien.”
So skryf Du Preez in haar outobiografiese debuutroman oor haar en haar man se droom. Hulle haal ’n vlug Kaap toe om ’n aftreeplekkie te gaan soek, maar besluit impulsief om ’n plasie met ’n huis, ’n rivierfront en ’n pruimboord in die Greyton-omgewing te koop.
Die plan was dat sy die huis met die lang stoep in ’n tuiste sou omskep en Liefie sou boer.
Niks het hulle egter voorberei op die vele plae wat wag nie; dopluise, bolwurm, en vloede om net enkeles te noem. Dan was daar nog die stof wat aanmekaar op die huis neersif, veroorsaak deur die vele vragmotors wat verbyjaag op ’n grondpad wat waarskynlik nooit geteer gaan word nie.
Om nie eers van die kansvatter boukontrakteur en sy werkers te praat nie.
Du Preez se verhaal is pure prosa, jy sien die woorde, hoor die klanke, ruik en proe saam met haar die omgewing wat eens so idillies vir haar en Liefie gelyk het.
Haar beskrywings van gewone daaglikse take soos teemaak en vloerevee is soos tonele wat in ’n rolprent afspeel, die draaiboek in die fynste besonderhede beskryf en dikwels ook met musiek deurvleg. Reëls uit bekende halleluja- en volksliedjies neem die storie ’n stap verder en so ook die subtiele gebruik van Kaaps-Afrikaans wat deur die omgewing se mense gepraat word.
Die skryfstyl is outentiek, oorspronlik, sonder enige foefies en ’n kleurvolle greep uit die skrywer se lewe. – Susan Puren
‘Die tienduisend dinge’, Maria Dermout, vertaal deur Ena Jansen (Protea Boekhuis, R295)
Mevrou van Kleyntjies bly aan die binnebaai van ’n Molukse eiland. As kind staan sy as Felicia bekend en haar grootmoeder leer haar die hart van die eiland ken: Al die verskillende tipes skulpies en plantsoorte en hoe die see die ritmes van die eiland bepaal.
Felicia se ouers neem haar saam Nederland toe, maar jare later keer sy met haar eie seun terug na die eiland; die seun vir wie Felicia groot drome het. Die oomblik wanneer sy weer in haar grootmoeder se huis instap, weet sy dis die plek waar sy nog altyd wou wees.
Die seun word met dieselfde eilandstories en skatte groot. Die tuin Kleyntjies word hul toevlug, maar ook die plek waar die verloop van hul lewens onherroeplik verander.
Dit is nie net die tuin Kleyntjies wat deel van die eiland is nie. Daar is die inwoners wat saam tradisies vorm en aan feeste deelneem. Maar daar is ook onderstrominge, soos die poshouer met die skatte, wie se vrou en skoonma nooit die huis mag verlaat nie.
Die poshouer verdwyn net eendag en die huis bly verlate agter. Daar is die professor uit Nederland wat die eiland wil besoek om ’n rekord van al die eiland se dinge op te stel, ’n man wat nie wil erken daar is dinge wat hy nie verstaan nie. En dan is daar ook Constance en die matroos en hul stormagtige verhouding wat ’n les vir die hele eiland is.
Die uitstekende vertaling roep die gees van die eiland op en plaas die leser midde-in die oënskynlike paradyslike eiland. Dit laat die leser ook besin oor die verganklikheid van die lewe. Nie alle lesers sal egter aanklank vind by die liriese skryfstyl nie. – Antoinique van Staden
‘Emigrant Immigrant’, William Lottering (Malan Media, *R290)
Baie Suid-Afrikaners het die afgelope dekade geëmigreer. Lottering vertel van die Wassermans wat in die vroeë 1990’s van Suid-Afrika na Toronto, Kanada, geëmigreer het.
Die verhaal konsentreer op die emosionele probleme wat emigrasie vir Andries, sy vrou, Joannie, en twee kinders, Dries en Stef, meebring. Soos enige groot stad het Toronto ook sosiale probleme en die gras is nie altyd groener aan die anderkant van die draad nie.
Aanpassing by ’n nuwe kultuur en die aflegging van ’n ou kultuur is nie maklik nie en kan met ’n geboorteproses vergelyk word. Andries raak verlief op Meryl, ’n kollega by sy nuwe werk. Dit lei tot ’n egskeiding met sy vrou. Die kinders worstel intussen met hul eie probleme.
’n Keerpunt is die verdwyning van hul dogter, Stef.
Die agtergrond van die toestande in Suid-Afrika in die 1990’s word in groot detail bespreek met heelwat interessante, maar ook heelwat irrelevante, inligting. Soms lees die verhaal meer soos ’n koerantberig as ’n roman.
Die vraag bly egter of die emigrasie die moeite werd was. Lottering woon tans in Toronto en werk onder andere as radiopersoonlikheid, kunstenaar, lektor, instrukteur en skrywer. – Gert Venter
‘Wanneer gode slaap’, Erwin Mortier, vertaal deur Fanie Olivier (Protea Boekhuis, *R275)
In tye van haar “sluimerslaap” kom herinneringe van die bejaarde Helena se grootwordjare in Holland, kuiers op die Franse platteland, haar moeilike ma en saggeaarde pa by haar op. Ook van haar broer en haar man, ’n fotograaf.
Sy onthou in detail hoe huishulpe in hul huis gewerk en kos gemaak het. Haar ma wat dikwels in die bed bly as dit daardie tyd van die maand is, kry ook aandag.
Mortier deel met die leser ’n oorvloed van huishoudelike detail in die tyd voor die Eerste Wêreldoorlog, maar dis wanneer Helena en haar ma op die Franse platteland vasgekeer word weens die oorlog, dat haar onthou interessanter raak.
As jong meisie raak sy bewus van die soldate en hul manlikheid. Sy ontmoet haar man. Ervaar die dood, smart en ellende van die oorlog.
Dis allermins ’n oorlogsroman, maar die kontras tussen haar lewe in ’n herehuis en wat in die loopgrawe aangaan, kom na vore. Haar gedagtes loop wyd. Helena se onthou is nie chronologies nie. Hoe kan dit, op so ’n hoë ouderdom?
Ek het die boek stuk-stuk gelees. Die vertaling deur Fanie Olivier is uitstekend en daar was ’n paar beskrywende tonele wat juwele is. – Alida Vos