In dié vyf verhale vorm parallelle wêrelde van fabelagtige misterie, towerkuns en sprokiesagtige gebeure die agtergrond vir dramatiese gebeure.
Verbeel jou die aarde het reeds die ruimte gekoloniseer en daar is inwoners op ’n kolonie op die maan. Of dalk is daar ’n sprokieswêreld van kinkels wat deur kaarte bepaal word, ou vergete kaarte wat deel is van ’n Dromer’s Atlas.
Miskien wil jy eerder ’n wêreld van skulpe, vlinders, onverklaarbare natuurverskynsels en die ewige oseaan wat gee en neem, ontdek.
Al hierdie verhale laat jou ontsnap na ’n parallelle wêreld waar die lewe anders is as dit wat jy ken.
‘Sea of Tranquility’, Emily St. John Mandel (Picador, *R330)
Oor die eeue heen is daar een gebeurtenis wat drie verskillende karakters aan mekaar verbind. Die verhaal skop af in 1912 op Vancouver-eiland en ontvou stelselmatig tot by ’n donker kolonie op die maan drie eeue later.
In 1912 word Edwin St. Andrew deur sy familie gevra om Engeland te verlaat. In ’n klein dorpie in Kanada ervaar hy iets in ’n woud wat hy nie kan beskryf nie.
In 2020 woon Mirella ’n konsert deur ’n bekende komponis by. Die komponis gebruik tuisvideo’s van sy suster, Vincent, en op een van die video’s is daar iets onverklaarbaar. Mirella sit vasgenael, want Vincent was eens op ’n tyd haar beste vriendin.
In 2203 is Olive Llewellyn op toer om haar boek oor pandemies te bemark. Teen hierdie tyd het die aarde die ruimte gekoloniseer en Olive se gesin is vêr weg op ’n kolonie op die maan.
Nog honderde jare later weet Gaspery-Jacques (vernoem na Llewellyn se hoofkarakter in haar boek) nie wat om met sy lewe te doen nie.
Sy suster, ’n suksesvolle navorser by die Time Institute, praat nie graag oor haar werk nie, maar Gaspery kan nie help om nuuskierig te wees nie.
Wanneer hy die geleentheid kry om ook by die Instituut te werk, gryp hy dit met beide hande aan. Sy suster is nie bly vir hom nie en met sy eerste ondersoek besef hy dat sy missie nie so eenvoudig is soos wat hy aanvanklik gedink het nie.
Die verhaal ondersoek die moontlikheid van parallelle wêrelde en tydsreise. Hoewel die einde effens voorspelbaar is, is die vervlegting van die karakters se verhale die moeite werd. – Antoinique van Staden
‘The Inn at Helsvlakte’, Patricia Schonstein (Penguin, *R270)
Onmiskenbaar geleë in ’n mitiese Suid-Afrika in ’n Karoolandskap, ontmoet die leser eksentrieke karakters. Daar is die harpspeler met ’n geheime verlede, Kitty Cloete, en haar dronkaard man, Jakob Jonker, asook kaptein Leander Malan en die wraakgierige Rigal van der Stel.
Die meesleurende storievertelling met ’n gevoel van fabel en misterie, laat temas van familie, liefde, begeertes, wraak en verraad op ’n teatrale aard deursyfer.
Burgeroorlog word gevoer tussen die staat en die separatiste. Toe die separatiste verwoesting by Helsvlakte saai en die staat oorval, is dit net Leander Malan en die pastoor Lukas Grobler wat (sonder sy geloof) oorleef. Dié voorval is die middelpunt waarom al die gebeure in die verhaal plaasvind.
Die kritiek-beseerde kaptein en die pastoor word saam met twee ander mense permanente loseerders by Jonker’s Inn. Die herberg word deur die herbergier Jakob Jonker, sy talentvolle vrou, Kitty Cloete, bediendes en afstammelinge van die jagter-versamelaars wat eerste die area bewoon het, bestuur.
Dis eindelik Kitty se musiek wat kaptein Malan deurtrek, maar net sodra daar lig aan die einde van die tonnel is, arriveer die jong Rigal van der Stel by die herberg. As jong seun het hy aanskou hoe sy familie deur die staat se soldate vermoor is en hoe hul plaas aan die brand gesteek is. Hy wil wraak neem op één mens, kaptein Leander Malan . . .
Skokkende gebeure vind deurentyd plaas en net sodra die leser dink hulle weet alles, word nog geheime ontbloot. Die vreemde verhaal is gevul met fortuinvertellers en tarotkaarte.
Baie inligting word weergegee in net meer as 200 bladsye en al is dit nie noodwendig die soort boek wat ek graag lees nie, het Schonstein daarin geslaag om my aandag te hou en ’n betowerende verhaal te vertel. – Marzanne Schoeman
‘The Becoming’, Nora Roberts (Piatkus, *R300)
In die eerste boek, ‘The Awakening’, het Breen Siobhan Kelly na Ierland gereis om meer van haar pa se geboorteland te leer ken. Eendag kom sy op ’n portaal na ’n ander wêreld af. Sy gaan deur en reis na Talamh, ’n paralelle wêreld met Ierland.
Hier ontdek Breen haar pa se ma, sowel as towerkuns, gode, towerwesens en haar eie lot (destiny), een waarvan sy onbewus was. Die boek eindig waar sy terug is in Amerika.
In ‘The Becoming’ reis Breen saam met haar beste vriend Marco na Ierland om haar familie in Talamh te gaan help. Die uitgeworpe god Odran is haar oupa. Hy is deur Breen se familie in Talamh verban na ’n buitewêreld, waarna die portale na dié wêreld verseël is om hom daar gevange te hou.
Hy het ’n wraaklus om nie net Talamh te vernietig nie, maar ook die gewone wêreld. Breen probeer om almal in Talamh te verenig om Odran met sy donker magte te verslaan.
Hy probeer ontsnap met die hulp van sy bondgenote in Talamh. Die inwoners van Talamh aanvaar nie vir Breen nie en dit bemoeilik haar taak om almal te verenig.
Verraad, jaloesie en ’n leierskapstryd lei tot bloedvergieting, verlies en smart.
Die verhaal vloei stadig omdat daar baie uitgewei word oor Breen se begrip van die magiese wêreld en haar eie vermoëns. Dan is daar ook nog verskeie subkomplotte oor verhoudings. Dit bly egter ’n interessante fantasieverhaal. – Karien Labuschagne
‘The Cartographers’, Peng Sheperd (Orion, *R355)
Sommige plekke bestaan net op ’n kaart. Ander weer kan nie op ’n kaart gevind word nie. Nell Young het grootgeword omring deur land- en padkaarte, want haar ouers was kartograwe.
Toe hulle op universiteit was, het haar ouers ander kaarttekenaars ontmoet en saam het hulle die groep, Die Kartograwe, gestig. Dié sewe lede was ewe begeesterd deur die geheime wat weggesteek is op ou vergete kaarte. Met die toestemming van hul professor het hulle begin om die ‘Dromer’s Atlas’ te teken en saam te stel.
Geïnspireerd deur haar ouers, bekwaam Nell haarself ook as ’n kaarttekenaar. Sy sluit aan by haar wêreldberoemde pa se firma as een van ’n jonger generasie van kaarttekenaars.
Haar pa, ’n verbitterde, ongenaakbare man ná die afsterwe van sy vrou, wy sy hele lewe aan die teken en navorsing van kaarte en die opstel van atlasse.
Nell vind in die kelder van haar pa se kantore ’n boks met ou kaarte waarop geskryf is, ‘waardeloos’. Een van die kaarte trek haar aandag. ’n Kaart van ’n vulstasie langs ’n hoofweg het haar aandag geprikkel.
Toe haar pa hiervan hoor, was hy briesend oor die tyd wat sy mors met die soek na waardelose kaarte en voordat sy haar oë kon uitvee, word sy en haar vriend deur haar pa afgedank.
Sewe jaar verstryk waarin sy geen woord met haar pa of haar vriend kommunikeer nie. Dan word haar pa onder verdagte omstandighede dood by sy lessenaar aangetref. Nell word na die kantoor ontbied en verskeie ondersoeke word geloods.
In ’n versteekte laai vind sy die “waardelose” kaart van die vulstasie langs ’n hoofweg – die kaart wat haar lewe omver gewerp het. Op die ingewing van die oomblik versteek sy die kaart.
Een na die ander van die vyf oorblywende oorspronklike kartograwe kom met Nell in aanraking en stadig maar seker ontvou haar lewensverhaal.
Almal waarsku haar omdat sy vir hulle vertel het sy is in besit van die vreemde kaart. Volgens hulle bevat die kaart ’n geheim van ’n versteekte plek en dít stel die persoon in besit van die kaart se lewe in gevaar.
Een van die oorspronklike lede van Die Kartograwe het ’n obsessie ontwikkel om al die kopieë van die vreemde kaart te koop en sodoende die geheim te bewaar. Hy word ook verdink van die moorde wat plaasgevind het.
Twee mense van die universtiteit wat saam met haar pa gewerk het, is ook vermoor.
Gedryf deur die misterie van die kaart, het Nell begin soek na die vulstasie en daarop aangedring dat die ouer lede van Die Kartograwe haar na die versteekte plek neem, daar waar haar ma gesterf het.
Daar aangekom, ontdek sy die kaart het wel ’n geheim.
Die verhaal het ’n onverwagse kinkel en lesers ervaar saam met Nell die oplossing van die raaisel rondom die geheim. Die leser word meegesleur na ’n sprokieswêreld van kinkels wat deur kaarte bepaal word.
Ek het enduit gelees om te sien of Nell die antwoorde op haar vrae oor haar verlede sou kry. Hoe het haar ma gesterf en waarom was haar pa so koud teenoor haar en die mense met wie hy gewerk het? Dit was ’n baie interessante, maar vreemde verhaal. – Olga Krügel
‘The Unravelling’, Polly Crosby (Harper Collins, *R330)
Hierdie roman is soos ’n moderne Alice in Wonderland.
Die leser word weggevoer na ’n verlate eiland waar vreemde onverklaarbare dinge in die verlede gebeur het. Dit het ’n impak op die mense van die eiland gehad. Die hede en die verlede word afgewissel en dit help die leser om sin te maak van die donker geheime onder die oppervlak van die verhaal.
Die eiland is deur vissermanne, pêrelvissers en sywurmboere bewoon en bewerk. Sommige was voorspoedig, maar ander het groener weivelde gaan soek. Op die eiland was ook ’n weermagbasis waar verskillende chemiese toetse uitgevoer is.
Voor een van die toetse is al die inwoners gedwing om die eiland te verlaat.
Een swanger vrou het besluit om te bly, sonder dat iemand daarvan geweet het. Sy het die ontploffing oorleef, maar met erge nagevolge wat haar hele lewe verander het.
Sy bekom jare later die diens van ’n jong vrou wat pas haar ma verloor het. Sy word die “vlindervrou” se bene, om die vlinders vir haar navorsing te vang. Deur hul werk onwikkel daar ’n diep vertroue tussen hulle.
Die gebeure ontvou soos die skilletjies van ’n ui wat een vir een afgetrek moet word. Elke nuwe skilletjie is ’n nuwe ervaring en avontuur.
Die verhaal vertel van voorspoed en teëspoed, vreugde en hartseer, liefde en teleurstellings. Dis ’n wêreld van skulpe, vlinders, onverklaarbare natuurverskynsels en die ewige oseaan wat gee en neem.
Die ongewone gebeure laat die inwoners soms wonder of dit sprokie of realiteit is. In dié verhaal kan ’n mens jou telkemale verloor en weer vind. – Olga Krügel