Deel

5 verhale oor die moontlikheid van tweede kanse sorg vir hartroerende leesstof

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
As dinge nie reg verloop in die lewe nie, gee mense alle hoop op sonder om te dink aan die tweede kanse wat geluk en vrede kan bring.

Hulle moet net die waagmoed hê om daardie kanse raak te sien en dit aan te gryp. Dikwels is dit onwaarskynlike vriendskappe wat die moontlikheid van tweede kanse bied.

In hierdie vyf boeke is dit juis tweede kanse en vriendskappe wat sorg vir aandoenlike leesstof.

Boeke.

‘Remarkably Bright Creatures’, Shelby Van Pelt (Bloomsbury, *R325) 

Marcellus is Tove Sullivan se beste vriend en vertroueling. Hy luister as sy raad nodig het, sien wanneer iets haar pla en gaan (soms letterlik) uit sy pad om haar te help. Marcellus is ook ’n reuseseekat van die Stille Oseaan.

Nadat Tove se man oorlede is, begin sy saans by die Sowell Bay Akwarium as skoonmaker werk. Sy’s hardwerkend en puntenerig oor hoe dinge gedoen moet word.

Haar enigste geselskap is ’n groep vroue wat hulleself die Knit-Wits noem en Ethan, die besonder geselserige kassier en eienaar van die plaaslike supermark.

Die vroue van die Knit-Wits se lewens draai om hul kinders en kleinkinders en Tove voel dikwels asof sy nie heeltemal in die groep pas nie.

Dertig jaar gelede het Erik, haar enigste seun, spoorloos verdwyn en moontlik verdrink. Tove kan nie glo haar agtienjarige seun sou sy eie lewe neem nie en die onsekerheid rondom sy verdwyning spook dekades later steeds by haar. Sy weet egter haar soeke na antwoorde sal hom nooit terugbring nie. 

Wanneer sy een aand met die reuseseekat in die akwarium begin praat, kom sy agter dat hy aandagtig luister. Toe sy haar hand nader hou, vat hy dit versigtig vas met een van sy tentakels en laat sy ronde suiermerkies agter as bewys. 

“Secrets are everywhere. Some humans are crammed full of them. How do they not explode? Why can humans not use their millions of words to simply tell one another what they desire?”

Remarkably Bright Creatures is ’n aandoenlike verhaal oor onwaarskynlike vriendskappe en die moontlikheid van tweede kanse – maak nie saak hoe oud jy is nie. By verre een van my gunstelingboeke van 2022 en wie sou kon raai dat ’n knorrige seekat ’n mens so sou ontroer? – Sonja van der Westhuizen

Boeke.

‘Meredith, alone’, Claire Alexander (Penguin Random House, R320)

A journey of a thousand miles begins with a single step.”

Hoe dikwels het ek nie al daardie wyse woorde van die Chinese filosoof Lau Tzu gelees nie. En dís Meredith Maggs se dilemma. Sy kán nie daardie eerste tree gee nie. Klink 1 214 dae in selfopgelegde ballingskap verskriklik?

Wel, dis Meredith, ’n veertigjarige skrywer, se dilemma.

Fred, haar gemmerkat, hou haar geselskap, terwyl sy Italiaans leer en legkaarte bou van eksotiese bestemmings. Tussendeur bak sy dat meel deur die lug trek – een koek en tert op die ander. Pastasouse prut op die stoof.

Haar lojale skoolvriendin, Sadie, met haar luide kindertjies en snaakse sêgoed, kom gereeld bietjie ginnegaap. Maar Meredith, oftewel Mer, hou vol sy is nie alleen nie.

Danksy tegnologie kan sy mos voortgaan met haar lewe. Sy bestel van legkaarte, tot kos en klere aanlyn. Haar terapeut Diane klok weekliks aanlyn by haar in.

Een ding lei tot die volgende en Tom McDermott, ’n vriendelike ou met donker hare, van die liefdadigheidsorganisasie, Holding Hands, daag een oggend by haar voordeur op.  

Algaande raak hulle vriende. Hy vra uit, “beraad” as vriend en Meridith se verhaal ontvou stuk-stuk, soos die legkaarte wat sy bou. 

Ons leer haar ousus, Fiona, met wie sy kontak verbreek het, ken. Daar’s verwysings na Gavin, ’n ekskêrel.  Sy’t terugflitse na chaotiese kinderjare en ‘Mama’, altyd met ’n sigaret en ’n drankie in die hand, daai lang donker naels ’n skrikwekkende gesig.

Wat het van hul pa geword? Sy wonder voorts hoekom Mama haar altyd so afgekraak het.

’n Vernietigende insident in haar laat dertigs noop Meredith om die deur op die buitewêreld toe te maak (letterlik!) en te vlug na haar nes. Binne, waar sy veilig voel.

Stadig maar seker kruip sy uit haar dop. Sy word deel van ’n aanlyn geselsgroep. Jigsawgirl (Mer) maak vriende met Catlady (Celeste). Sy nooi Celeste later vir koek en tee na haar huis. Meredith besef sy móét een of ander tyd haar huis verlaat.

Sy probeer ’n paar keer, maar op die nippertjie begeef haar moed haar en sy kanselleer die afspraak. Dis asof sy nie die swart jurk van depressie, vrees en onsekerheid kan afstroop nie. Dít maak haar moedeloos.

Dis heerlik om sáám met Meredith (en haar vriende) haar geestesreis te volg, totdat sy uiteindelik daardie eerste tree waarvan Lau Tzu praat, gee. Aanvanklik gee sy babatreetjies.

Maar die Meredith wat in die slottonele van die boek, doelgerig diepkant toe, soos ’n vis deur die water klief (nogal in ’n openbare swembad), is bevry. – Marguerite van Wyk

 
Boeke.
 

‘The Book of Wonders’, Julien Sandrel (Quercus, *R325)

Stel jou voor jy en jou twaalfjarige seun stry en kort daarna is hy betrokke in ’n ernstige ongeluk wat hom in ’n koma laat. Binne ’n oomblik het jou hele lewe verander.

Louis is in ’n koma en sy ma Thelma waak langs sy bed. Sy is vol berou en selfverwyt, nie net oor die paar minute voor die ongeluk nie, maar ook oor die jare wat sy meer tyd by die werk as saam met haar seun spandeer het.

Sy weet nie of Louis gaan wakker word nie en die dokters het nie veel hoop nie.

Toe ontdek sy Louis se ‘Book of Wonders’: ’n Dagboek waarin hy alles wat hy nog eendag wou doen, neergeskryf het. Thelma besluit om Louis se drome een vir een self waar te maak, met die doel om hom te inspireer om aan te hou veg.

Sy sal videos van alles maak om later vir hom in die hospitaal te speel.

So begin die avontuur van ’n leeftyd – met gevolge wat nie ma of seun ooit sou kon voorspel nie. Die pragtige storie laat ’n mens opnuut besef hoe kosbaar die lewe is. – Danica Gouws

 
Boeke.


‘The Ladies’ Midnight Swimming Club’, Faith Hogan (Head of Zeus, *R320) 

Hogan skryf oor drie vroue van ’n kusdorpie in die weste van Ierland wat almal na antwoorde in hul lewens soek.

Toe Elizabeth se man, die algemene praktisyn van die dorpie, doodgaan, los hy haar ná ’n moeilike en uitdagende huwelik met oneindige skuld.

Haar vriendin Jo, bekend as ’n persoon wat jy kan vertrou, maar ook vir haar gereelde nagtelike swemme, kry haar dogter, Lucy, ’n mediese dokter om die praktyk oor te neem.

Lucy se huwelik is op die rotse en haar verhouding met haar seun, Niall, is ook gespanne. Jo doen moeite om Elizabeth en Lucy te help waar sy kan.

Aldrie doen uiteindelik die nagswem en noem dit “The Ladies Midnight Swimming Club”. Hulle raak beste vriendinne. Dan is daar nog Dan, die voornemende skrywer. Jo se wêreld stort egter ineen toe sy sekere skokkende nuus ontvang.

’n Roman wat handel oor hoe om die lewe se uitdagings in die gesig te kyk en om jou beste lewe te lei. ’n Baie inspirerende leesgeleentheid inderdaad, gevul met optimisme en hoop. – Linda Volschenk

  
Boeke.

‘Tell me how to be’, Neel Patel (Orion, *R355)

Dis ’n jaar sedert Akash se pa gesterf het. Hy woon in Los Angeles en sien maar min van sy familie van wie hy ietwat vervreemd is. Nou word hy by sy ouerhuis in Illinois verwag vir die tradisionele seremonie ter viering van sy pa se dood een jaar gelede.

Sy ma, Renu, bel hom om te sê sy gaan die huis verkoop en terugkeer na Londen.

In die jaar sedert haar man se dood, het Renu onophoudelik aan haar eerste liefde gedink, die man wat sy laat wegkom het. Dis die man by wie sy eintlik altyd wou wees. Toe sy hom dus op Facebook opspoor, besluit sy om uit te reik en te kyk waarheen die pad kan lei.

Dis vir Akash ontstellend om terug te keer huis toe. Hy steek soveel van homself vir sy familie weg, soos sy seksualiteit wat hy geheim hou vir sy familie en sy gesukkel as liedjieskrywer. Sy grype na alkohol as ’n hanteringsmeganisme is selfvernietigend.

Hy kan ook nie ophou dink aan sy beste vriend tydens sy kinderjare nie, die een wat sy hart jare gelede gebreek het. En wat steeds in die dorp woon.

Terwyl Akash en Renu die huis saam met Akash se uiters suksesvolle ouer broer opruim, moet hulle die geheime wat hulle vir mekaar wegsteek, konfronteer en hulself en mekaar, gebreke en al, aanvaar.

Die emosionele verhaal is goed geskryf en handel oor geheime, berou en om vrede met die waarheid te kan maak en om tweede kanse in die lewe aan te gryp. – Nadia de Jongh

* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

Maart/April-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees