Deel

Akteur se duimry-ervarings van 20 jaar is die basis van nuwe roman: ‘Duimry is in my gebeendere’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die akteur Milton Schorr gooi al 20 jaar duim. Dis so deel van sy lewe soos wat trein- of busry vir ander mense is. Dis sy openbare vervoer. Nou gebruik hy sy eie ervarings as die vertrekpunt vir sy nuwe roman, ‘A Man of the Road’.
Milton Schorr met sy roman, ‘A Man of the Road’.
Milton Schorr met sy roman, ‘A Man of the Road’. Foto: Verskaf.

Die hoofkarakter is ’n jong seun wat die grootpad moet aandurf nadat hy per ongeluk nie sy ma se opdrag uitgevoer het nie en sy hom teen wil en dank weggestuur het na sy pa.

Wanneer klein Mikey die pad vat na die stad om sy pa te gaan soek, is hy net gewapen met ’n brief aan die pa wat hy nie ken nie. In sy omswerwinge kom Mikey met verskillende karakters in aanraking wat hul lesse oor die lewe met hom deel.

Milton put uit sy eie ervarings van die afgelope 20 jaar om die verhaal te vertel waarin Mikey ’n swetterjoel uitdagings moet trotseer.

Hy het ook al onverwagte drama beleef toe hy amper in die tronk in Egipte beland het. Tydens sy omswerwinge van Kaïro na Luxor is hy by ’n militêre beheerpunt in die middel van die woestyn afgelaai.

Die twee vragmotorbestuurders wat geen Engels gepraat het nie, het ook geen verduideliking probeer gee nie. Met sy hande in sy hare het Milton onthou hy het ’n Egiptiese vriend wat saam met hom in die gimnasium in Kaapstad oefen.

’n Haastige WhatsApp-oproep na die vriend wat wonder bo wonder geantwoord het, het Milton uit ’n benarde situasie gered. Ná die vriend se gesprek met die vyandige soldate het hulle met glimlagte op hul gesigte ’n motor gestop en gevra dat die bestuurder vir Milton ’n saamrygeleentheid gee.

Só het hy ’n nuwe vriend gemaak, vertel Milton.

“Maar ek het regtig nog nooit in my 20 jaar op die pad iemand ontmoet wat slegte bedoelings gehad het nie. Dit help seker dat ek nogal ’n groot ou is. My opinie is dat mense kan sien ek ry duim omdat ek na avontuur soek en my oplaai omdat hulle deel van die avontuur wil wees, hetsy dit is deur hul eie storie vir my te vertel of om na myne uit te vra,” verduidelik Milton.

Die akteur en skrywer het reeds sy eerste boek onder die belt, Strange Fish, wat ook in Afrikaans vertaal is as Vreemde Vis. Die Engelse weergawe is ook beskikbaar as ’n oudioboek.

duimry

Ek het met hom gesels oor ‘A Man of the Road’, wat aanlyn bestel kan word.

Waar kom jou liefde vir skryf vandaan en waarom die oorgang van akteur na romansier?

Toe ek vyftien was, het ek ’n gebruikte rekenaar gekry. Een nag het ek ’n storie begin skryf en dis waar my liefde vir skryf vlamgevat het. Ek het ’n oomblik beleef in die donker, toe die wêreld aan die slaap was, en het so vreedsaam gevoel om te sien hoe daardie karakters sommer vanself begin verskyn het.

Dit was vir my ’n tuiskoms. Daardie herinneringe gebruik ek steeds as ’n kompas in my lewe. Ek wil daai gevoel oor en oor herskep met my liefde vir skryf.

As sewentienjarige moes ek van skole verwissel en my nuwe skool het drama as vak aangebied.

Ek het nie geweet wat dit was nie, maar binne die eerste vyf minute van die klas het ek geweet ek wil betrokke wees by storievertel vir die res van my lewe, dat ek ’n skrywer gaan wees. Ek was weer tuis.

Sedertdien het ek nog nooit ophou stories skep in teater en film nie, en nou ook as romanskrywer.

Ek het oorgeskakel na romans omdat ek ’n onafhanklike ruimte wou skep vir alleen en self skryf. Film en teater gaan oor collaboration, en dit maak dikwels die materiaal sterker, maar soms verwater dit die projek of dit word gesensor.

Die ander ding wat my na romans aantrek, is dat jy niks in die fisiese wêreld nodig het om dit te maak werk nie! Dis net my verbeelding op die bladsy.

Teater en rolprente het stelle nodig om die kunsvorms te help definieer. Die skryf van ’n roman laat my toe om iets waarvoor ek lief is so eenvoudig moontlik te doen.

Wat is die inspirasie agter A Man of the Road?

My inspirasie was letterlik die begeerte om oor duimry te skryf op ’n manier wat vir my bevredigend is. My ervaring is dat duimry baie selde pret is, dis gewoonlik uitgerek en vervelig, maar die emosie en binne-ervarings wat ek beleef, verander my lewe.

Daarom het ek ’n fiktiewe verhaal geskep om te verduidelik duimry is méér as net duimry, dit gaan oor die lewe self. Wie jy is en wat in jou kop aangaan, die ervaring wat jy gaan beleef, die rit.

Die pad is ’n plek waar jy jouself leer verstaan deur die vreemdelinge wat jy ontmoet. Dis regtig ’n plek om te groei en te ontdek. Ek wou ’n storie skryf wat ’n lewe verduidelik. Ek doen dit deur “Little Mikey” se lewe, hy moet deur die land duimry om sy ma te probeer red.

Daar is ook ’n baie praktiese inspirasie vir die boek. Eenkeer tydens ’n saamrygeleentheid het ’n trokbestuurder my vertel van “die mense van die pad”, individue wat op die pad leef en ryloop, hier en daar los werkies doen, eerder as om as haweloses in die stede te bestaan.

Dis ’n manier om ’n gevoel van waardigheid en vryheid te bewaar, dink ek, amper die moderne weergawe van die reisende boemelaar wat verkies om in die veld onder die sterrehemel te slaap.

Hoewel Mikey se storie fiktief is, is die mense wat hy onderweg ontmoet gegrond op iemand wat ek op my reise ontmoet het. Die saadjie vir elke gebeurtenis is iets wat ’n trokdrywer of ’n boervrou of ’n koerier of selfs ’n jong seun langs die pad vir my vertel het.

Van die dinge in die boek is gebaseer op werklike gebeure soos aan my vertel deur die mense wat my ’n saamrygeleentheid gegee het.

Waarom ry jy duim?

Ek het aan die Weskus grootgeword en dit was normaal vir kinders om duim te ry na mekaar se wonings, omdat vriende dikwels in die volgende dorp gewoon het. Ek was vir ’n jaar op Rhodes Universiteit en het heen en weer van Kaapstad af geduimry.

Dit het my ’n liefde vir langer saamrygeleenthede gegee.

Van daar het ek geduimry na Vic Falls, Namibië, deur Australië, Egipte en dele van Europa. Ek is mal oor die vryheid, die sensasie daarvan om enige plek in die wêreld te reis deur bloot my duim uit te hou.

Ook die manier hoe jy mense ontmoet. ’n Lang rit is ongelooflik intiem. Die besef dat ons mekaar nooit weer gaan sien nie, lei soms tot diep, betekenisvolle gesprekke. Ek het wonderlike mense ontmoet en waardevolle insig in mense gekry deur so te reis.

Die filosofie van duimry trek my ook aan. Dis ’n oefening in eenvoud. As jy duimry is jou lewe vereenvoudig. Om weg te breek uit die daaglikse roetine van die lewe laat my dit soveel meer waardeer.

ater word die beste drankie moontlik, eenvoudige kos ’n banket. Die hemelruim is so mooi soos dit moet wees en die wêreld so misterieus soos dit moet wees. Duimry is in my gebeendere.

 
Akteur en skrywer Milton Schorr op die pad.
Akteur en skrywer Milton Schorr op die pad. Foto: Verskaf.

Hoe het jy Mikey se karakter geskep?

Ek het hom bewustelik in ’n milieu geskep waar ek my waarheid oor duimry kan vertel. Die gedagte van ’n jong seun het stadigaan ontwikkel, want ons was almal eens ’n kind. 

Mikey leef in sy gelukkige kinderwêreld, maar wanneer hy ’n onskuldige fout maak, kom hy in aanraking met die harde werklikheid van die grootmenswêreld.

Dis op die pad waar hy weer die prag van sy onskuldige kinderdae ontdek, maar gesien teen die lig van sy ervarings van die wreedheid van die werklikheid. Dis die liefde wat die mense op die pad vir hom wys wat hom help om heel te word.

Hoe lyk jou skryfroetine?

Ek skryf elke oggend en ook deur die dag as ek kan. Ek probeer egter nie “oorskryf” nie. Ek vind gedagtes het tyd nodig om hulself te ontknoop, al probeer ek om dit aan te jaag.

Dit gebeur soms dat ek in die oggend letterlik vir ’n uur na die skerm staar, wagtend vir iets om te gebeur. Maar die storie kom darem altyd. 

Weet jy reg van die begin af waarheen jy met ’n verhaal beweeg?

Dit werk die beste vir my om die storie in detail te beplan voordat ek begin skryf. Skryf lê vir my in die beplanning.

Dit gesê, wanneer ek nie meer idees het nie, begin ek soms net skryf om te sien wat uitbroei. Maar ek probeer altyd dat die karakters die storie dryf, eerder as dat ek vir hulle voorsê wat om te doen.

Dis ’n lang proses wat nie lyk asof dit ooit makliker word nie, maar ek is mal daaroor. Dis ’n avontuur. Die boek is eintlik ’n dagboek van my eie ontdekking van die storie soos die karakters my daardeur geneem het.

Hoe het jy op die titel besluit? En vertel meer oor die omslagontwerp asb.

As ek terugkyk, is dit die ooglopende titel, maar die titel het lank gevat om homself te onthul. Dis eintlik snaaks. Dit kom van ’n storie wat ’n trokbestuurder op die N2 my vertel het, destyds toe ek nog ’n student was, toe hy my van die “people of the road” vertel het.

Ek het self die omslag ontwerp, want ek wou hê dit moet aandag trek. Dit moes anders wees, ’n uitnodiging om op ’n avontuur te gaan.

Ek beskryf die boek as ’n avontuurverhaal vir grootmense en dis waarom die buiteblad so bietjie soos ’n Kuifie-omslag lyk. Die elemente daarop is verteenwoordigend van die storie – Mikey is ’n ruimteman op sy eie reis deur die wêreld van sy eie hart.

Help jou akteurskap jou as skrywer?

Ek sou sê dis andersom. Toneelspel is ’n verlenging van my skrywery. Tog help my akteurskap ook, want ek speel die rolle soos ek dit skryf – deur myself in te leef in soortgelyke situasies, en deur te ontdek wat ’n karakter werklik sou sê, nes ’n akteur wat ’n toneel opvoer.

Grootste les wat duimry jou geleer het?

Dit het my geleer die lewe is ongelooflik broos, en juis daarin lê die mooi daarvan. Al is ons liggame swak, ons gees is sterk en dis geesdrif wat die essens van die lewe is. Al is die lewe gevaarlik en bose dinge gebeur, is ons lief vir mekaar en leef ons met vreugde, want die skepping is rondom ons.

Waarom gee jy self jou boeke uit?

Toe ek begin skryf het, was dit ideaal om my eie uitgewershuis te begin, want ek het ’n passie om my eie bemarking te doen. Omdat my wortels in die teater en in sportpromosie lê, sien ek elke projek ook as ’n geleentheid om ’n storie in die media te vertel.

Vir my eerste roman, Strange Fish, het ek ’n kampeerwa gekoop en deur die land gereis na al die indie-boekwinkels en -kunsgalerye om die storie agter die storie te vertel.

Vir A Man of the Road het ek onlangs op ’n duimry-missie van Kaapstad na Bloemfontein gegaan en die reis op sosiale media gedokumenteer.

Ek werk tans aan ’n verfilmde oudioboekreeks, waar ek die roete navolg wat Little Mikey in die boek neem, en ek lees op sleutelplekke op die roete voor uit die boek, insluitend die all night truck stop om drieuur in die oggend!

Werk jy aan ’n nuwe projek?

Absoluut! Ek werk aan die opvolg van Strange Fish, wat uiteindelik ’n trilogie sal wees. Die tweede deel speel af in ’n buitelandse hawestad, wat ek grond op Istanboel, en die derde deel speel af op die oop see op die grootste visfabriekskip wat die wêreld ken.

Dis die verhaal van die wêreld se grootste visserman en sy liefde vir ’n meermin. Ek hoop om Strange Fish II: The City of God teen die einde van die jaar uit te gee.

Skryf vandag nog in vir SARIE Voorbladgesig 2023!

Dertien jaar gelede het die eerste wenner van SARIE Voorbladgesig op ons voorblad gepryk – Alrie Velleman van Gqeberha.

Verlede jaar was Brittany Smith ons wenner.

En nou is dit tyd om ons 13de Voorbladgesig te kies. Dalk is dit jou jaar!

Dit is ook die vierde jaar dat ons SARIE Nuwe Gesig, spesiaal vir leerders van gr. 10 tot gr. 12, aanbied.

Ons vennoot van die afgelope vyf jaar, die Isa Carstens Akademie, kry boonop ’n nuwe spanmaat, African Extracts, en sáám is ons opgewonde om te sien wie vanjaar met die voorblad wegstap.

Gryp die geleentheid aan om deel te wees van iets besonders!

JONGSTE UITGAWE

Mei/Junie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees