Bekroonde jeugskrywer gesels oor opwindende nuwe boek: ‘Ek daag kinders se verbeelding graag uit’

akkreditasie
Vir Troula Goosen is daar as skrywer niks lekkerder as om die jongklomp te nooi om saam met haar in fassinerende wêrelde in te stap nie. “Ek daag kinders se verbeelding dus graag uit. Verder, al skryf ek net lekkerlees stories sonder om te preek, probeer ek om my lesers opgewonde te maak oor die lewe.”

Vir Troula is dit belangrik om jong lesers vir ’n rukkie te laat vergeet van al die druk, stres en soms ontmoedigende faktore wat deel is van ons almal se bestaan. Stories van hoop, wat hulle kan laat glo dat alles moontlik is.

Sy sê verder die grootste fout wat ’n jeugverhaalskrywer kan maak, is om te preek.

In haar jongste jeugverhaal, Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos (Human & Rousseau, R165*), neem sy lesers saam op Milan, Andante en Nova se avonture. Die drie vriendinne woon ’n musiekfees by om die popster Tyrion te sien optree.

Kleintyd was die drie in ’n bende, die Sproetebessies, omdat hulle gesigte, soos Milan sê, soos spikkeleiers lyk. En dis nie juis iets waaraan Milan herinner wil word nie, want sy haat haar aaklige sproete.

Maar sy het ’n groter dilemma, want Andante en Nova het Milan ingeskryf vir ’n talentkompetisie by die musiekfees. Dié twee het nog altyd “die planne uitgedink en sy moes inval. G’n wonder sy het altyd in die moeilikheid beland nie.” – bl. 7.

Dié keer bewimpel hulle twee dat Milan saam met Die Kaalbas Kitare, drie jong musikante, optree in plaas van om met backtracks te sing.

Natuurlik veroorsaak dit ’n heerlike kinkel in die verhaal, want hulle almal word deur die talentsoeker raakgesien en kry ’n uitnodiging om ’n slypskool by die Superster-akademie op die Swart Roos-landgoed by te woon.

Daar gaan die hoof hul geheime talente ontwikkel sodat hulle saam met Tyrion op ’n wêreldtoer kan gaan.

Alles is egter nie lekker pluis by die akademie nie, veral nie met die eienaardige hoof, Madame Rosa, nie. Milan besef gou dat hulle eintlik gevange gehou word teen hul sin, want al hul bewegings word gemonitor.

En hoe pas Tyrion by Madame Rosa se planne in? Is hy ook onskuldig by haar manipulasie betrek? Al hoe die drie vriendinne hulself en Die Kaalbas Kitare kan red, is deur planne te maak soos toe hulle nog die Sproetebessie-bende was.

 
troula goosen skrywer
Troula Goosen

Ek het per e-pos met Troula gesels.

Vertel my wie jy is en waar jy woon en of jy voltyds skryf.

Ek is die oudste van twee dogters van ’n onderwyser-pa en tuisteskepper-ma, het op verskillende dorpe in die Wes-Kaap grootgeword en op Ceres gematrikuleer.

Van kleintyd af het ek stories gemaak en gedroom van eendag boeke skryf. Ná matriek het ek Drama en Biblioteekkunde op Stellenbosch studeer, op ’n tokkelok (teologiese student) verlief geraak en uiteindelik predikantsvrou geword.

Later het ek as sakevrou en binneversierder gewerk. Eers toe my man vroeër aftree om ’n nuwe beroep te beoefen en ek my werk moes bedank, het ek kans gekry om my ou jeugdroom af te stof.

My eerste publikasies was kortverhale en novelles vir opvoedkundige uitgewers (Via Afrika en Oxford University Press). In 2016 is Spooksoene (2015, Protea Boekhuis), my eerste vollengte jeugverhaal, met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon.

Daarna volg Maanlig-meermin (2017, Tafelberg), Raaiselklip (2018, Human & Rousseau) en Raaiselster (2019, Human & Rousseau). Raaiselsee het in 2020 verskyn en is dus die derde aflewering in die reeks “Raaiselstories”, historiese jeugromans wat die leser op avontuurlike “tydreise” neem.

Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos (Human & Rousseau) is nog vars van die pers en later vanjaar verskyn Die Super Doeper Vlermuis deur Minimal Press. Verskeie van my kortverhale is in bundels opgeneem, soos in die onlangse Blinkertjies in Pa se Baard, uitgegee deur Lapa/Penguin.

Ons woon sedert 2008 op die mooie Bettysbaai, een van die Hangklip-dorpies aan die Walviskus en skryf is vir my ’n stokperdjie. Ek en Chris het twee seuns, twee skoondogters en drie lieflike kleinseuns. 

Was jy sedert jou kinderjare ’n leser en is dit ook waar jou liefde vir skryf vandaan kom?

Ek was bevoorreg om ’n pa te hê wat lief was vir Afrikaans en wat van kleintyd af vir ons stories gelees het. Hy, en mnr. Moolman, ’n wonderlike onderwyser op Ceres wat my aangemoedig het om te skryf, was en bly vir my ’n groot inspirasie.

troula goosen spooksoene

Vertel asb. meer oor die ATKV-Veertjie waarmee jy bekroon is.

Spooksoene se Veertjie was een van die grootste lekkertes langs my pad en daarvoor moet ek vir Protea Boekhuis en al die jong lesers wat vir my gestem het dankie sê. Dit was my debuutroman, dus was die Veertjie ’n ongelooflike verrassing.

Spooksoene is steeds op die mark en is ’n lekker grillerige spookstorie wat in ’n eienaardige hotel op ’n afgeleë kusdorp afspeel.

Hoe begin verhale vir jou – met ’n karakter, titel of iets wat gebeur?

Vir my is die begin van ’n storie soos ’n rolletjie sellotape waarvan die punt vassit. Ek moet eers so krap-krap om die begin te kry voor ek kan verder gaan.

Om daardie begin te kry is nie altyd so maklik nie! Soms is dit ’n plek – soos Raaiselster wat in die historiese tolhuis in Michellspas naby Ceres afspeel.

Soms is dit ’n idee. Ek het byvoorbeeld al die grillers in die bundel Skool is ’n riller gebou rondom vrese wat tieners (mense) het, van spinnekoppe tot die vrees dat jy nie goed genoeg is nie.

Soms is dit ’n karakter(s), soos in die geval van die Sproetebessies.

Nadat ek die begin het, ontwikkel ek ’n basiese idee, sonder om die storielyn fyn te beplan. Met Raaiselster het ek myself gevra watter karakters almal by die tolhuis kan uitdop en wat daar met hulle kan gebeur.

In die Sproetebessies het ek kopgekrap oor waarheen ek die bende kan vat en in watter avontuur hulle kan beland. Ek het dus ’n goeie idee waarheen ek op pad is, maar die storie ontwikkel terwyl ek dit skryf.

 
troula goosen raaiselster

Hoe skep jy jou karakters? Gebruik jy eienskappe van jongmense wat jy ken of is al jou karakters suiwer fiktief?

Ek gebruik prente as inspirasie. Van alles – karakters, milieu ens. – soek ek prente wat ek gebruik om die “mense” en die “wêreld” te skep.

Toe ek besluit het om ’n storie oor ’n meisiebende te skryf, het ek op Pinterest gaan kuier en op oulike foto’s van sproetgesigmeisies afgekom wat hulle in my kop laat leef het. 

En hoe kies jy name vir karakters?

Ek probeer om name te kies wat dit vir lesers maklik sal maak om die karakters van mekaar te onderskei. So kombineer ek langer name en korter name, gebruik verskillende klanke ens.

Hier en daar is name met ’n “dieper” betekenis, soos Sirene in Maanlig-meermin of juffrou Estrelita in Raaiselster. En ja, soms stel die karakters hulself voor, soos Milan, Andante en Nova in Sproetebessies.

Moet jy navorsing doen om te verseker jy skryf verhale wat vandag se jeug graag wil lees?

Wanneer ek skryf, diep ek uit my eie kind/tiener-wees. Ja, ek weet dit verskil drasties van die wêreld waarin vandag se tieners leef, maar diep binne is daar dinge wat nooit verander nie.

En lesers is altyd te vinde vir raaisels, spanning, speurwerk, avontuur en romanse.

Ek doen egter navorsing waar dit nodig is om die storie geloofwaardig te vertel. Vir my Raaisel-reeks, wat historiese jeugromans is, het ek baie navorsing gedoen.

Vertel my wat die inspirasie was vir ‘Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos’.

Een oggend, so tussen slaap en wakker, het ek ’n radioberig gehoor oor ’n nuwe robot wat feitlik net soos ’n mens lyk. Dit was ’n paar jaar gelede, maar dit het in my kop vasgesteek.

Werk jy reeds aan iets nuuts?

As alles goed gaan, hoop ek die Sproetebessies sal ’n reeks word met ’n storie waarin elkeen van die bendelede ’n hoofrol speel en hulle ’n ongewone avontuur beleef. Andante se avontuur is reeds op rekenaar, maar net die tyd sal leer.

* Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.

JONGSTE UITGAWE

September/Oktober-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees