Bekroonde ondersoekende joernalis werp nuwe lig op die skokkende Pofadder-moord

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Toe Leon Brits helder oordag wreed in sy huis vermoor word, het Pofadder se geskokte inwoners aanvanklik gedink dis net nog ’n moord in ’n land waar moord deesdae skaars die koerant haal. Vingers is in alle rigtings gewys en mense het gedreig om die gereg in eie hande te neem. Maar die vraag op almal se lippe was: Hoekom juis Pofadder en hoekom juis Leon?

Charné Kemp, ’n bekroonde ondersoekende joernalis, vertel die verhaal agter dié moord in haar jongste boek, Moord op Pofadder (Tafelberg, R280)

Almal op Pofadder weet wie Leon Brits is en die meeste inwoners ken hom persoonlik. Hy het in Boesmanland grootgeword en is, soos sy ouers voor hom, ’n suksesvolle sakeman. Boonop is sy vrou Suretha besonder mooi en ’n sakevrou in eie reg. Toe word Leon helder oordag wreed in sy huis vermoor. Vingers word in alle rigtings gewys en mense dreig om die gereg in eie hande te neem. Maar die vraag op almal se lippe is hoekom juis Pofadder en hoekom juis Leon?

 
moord op Pofadder

Die boek begin met die huurmoordenaars wat in die nag op pad is van Kathu na Leon se huis op Pofadder. Die drie ry 400 kilometers om die moord te gaan pleeg in opdrag van Leon se vrou, Suretha. Alles is haarfyn beplan en Suretha is by haar huis op ’n ander dorp in die omgewing. Sy het seker gemaak dat sy nie haar persoonlike foon gebruik om die reëlings te tref nie en die deposito vir die daad is in kontant via ’n vriendin vir die middelman gestuur.

Tydens die uitvoering verloop ’n paar dinge egter nie volgens plan nie en boonop begin die middelman se gewete hom kort daarna pla, maar om Suretha te betrek en skuldig te bewys, is nie ’n maklike taak nie. Die toegewyde hoof van die ondersoekspan is egter ’n bloedhond en werk dag en nag om te bewys dat die swak skakel in die ketting wél die waarheid bely het en dat Suretha wel die meesterbrein was.

En dan sterf die hoofondersoeker weens Covid. Gelukkig is daar ’n ingeligte span wat kan voortgaan met die saak en wanneer Suretha uiteindelik aangekla word, is die bewyse teen haar waterdig.Die storie waarmee Suretha dan in die hof uitkom laat die dorp se inwoners opnuut geskok en verstom. Hoe het hulle dan nie geweet nie?

Die skrywer Charné Kemp.
Die skrywer Charné Kemp. Foto: Verskaf.

Meer oor Charne Kemp:

Sy is ’n bekroonde ondersoekende joernalis en skrywer en het naam gemaak in die Afrikaanse media deur haar werk vir verskeie gewilde publikasies soos Rapport, Volksblad, Beeld, Netwerk24, Rooi Rose, Insig en SARIE. Sy is die skrywer van Moord op Griekwastad en Bloed, dunner as water. Charné woon in Kimberley.

Lees hier die dramatiese eerste hoofstuk van Moord op Pofadder.

Te laat vir omdraai

Uiteindelik is hul plan nou in plek en is hulle op pad. Wat ’n dag! Sy gedagtes maal deur sy kop, staan ’n oomblik stil by die pakkie Russian-worsies agter in die kar. Hulle het die worsies gekoop om die honde te paai. Sal die honde ooit die goed vreet? Hy hoop so, want dit moet hulle besig hou terwyl die ander twee die job doen.

Sy het darem gesê die honde vreet enigiets. Sy senuwees knaag . . .

Jacques van Vuuren lig sy een hand van die stuurwiel af, vou dit ’n paar keer oop en toe om die bloedsirkulasie aan te help, doen dan dieselfde met die ander een. Dit is Woensdag 7 Oktober 2020. Die drie ry nou al ’n paar uur deur die nagdonker. Hulle is baie laat die vorige aand op Kathu weg op pad Pofadder toe, ’n rit van meer as 400 km.

Dit is nou amper 04:00 en sy hele lyf voel styf. Hy vind dit moeilik om op die ligbaan in die pad te konsentreer. Te veel goed maal deur sy gedagtes. Alles maak hom deurmekaar. Bang ook. Eintlik moet hy nie eens hier wees nie. Hy sug. Die plan het al klaar ’n bietjie skeefgeloop.

Links van hom sit Enrich skuins met sy kop teen die sitplek se stut, sy oë toe. Jacques kyk in die truspieëltjie om te sien of Amantle, wat agter sit, ook slaap, maar dis te donker in die kar. Hulle twee moet die job doen: Enrich Williams en Amantle Bareki, die jong student by die kollege op Kathu. Sy bynaam is Mufftown, want hy kom van Mahikeng.

Suretha Brits het op 15 November in die hof in Upi
Suretha Brits het op 15 November in die hof in Upington verskyn. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Jacques ken Enrich al van 2008 toe hulle saam op die myne rondom Kathu en aan die Weskus gewerk het. Hulle het al lekker kappe by mekaar se huise gemaak terwyl hul gesinne saam gekuier het. Maar vandat Jacques geskei is, gebeur dit nie meer nie.

Hy sukkel maar deesdae. Dit is nou al twee maande dat hy met sy tydelike werk by die myn nie pay gekry het nie. Dis glo weens ’n deurmekaarspul met die papierwerk, sê hulle. Maar met al die kontant wat hy vir hierdie job gekry het, kon hy darem laas maand en dié maand se maintenance betaal.

Toe hulle vroeër vanaand deur Olifantshoek ry – waar sy eks nou met sy kinders woon – kon hy nie help om terug te dink aan die dagga en drank en die fights nie. Drank maak hom aggressief, het sy eks gesê. Maar hy wil ’n beter pa wees as wat sy pa was.

Langs hom roer Enrich, slaap dan verder. Hy het Amantle ’n paar maande gelede by Enrich se huis ontmoet. Nie ’n slegte ou nie. Enrich het voorgestel dat hulle mense van Mahikeng kry om die job te doen. Amantle het saamgestem. Die twee het ’n paar naweke terug Jacques se Polo – eintlik sy ma se kar waarmee hy die laaste paar jaar ry – geleen om Mahikeng toe te gaan. Daar het hulle die mense wat die job sou doen R50 000 van die geld gegee – ’n soort deposito.

Of so het Enrich hom wysgemaak.

Maar toe bel sy hom gister met allerhande dreigemente. “Dit is ’n scam, Jacques. Jy besteel my. Die job moes vanoggend [Dinsdag 6 Oktober] al gedoen word! Ek het gesorg dat die skoonmaker nie by die huis werk nie, maar by die hotel. Ek soek my geld terug. Ek ken ook mense in Johannesburg wat dit kan doen . . . en wat jou en jou kinders kan uithaal.”

Hy kon hoor sy was woedend. Veral omdat sy Maandag reeds die helfte van die geld aan hulle betaal het. Enrich was kwaad toe hy hoor sy dreig hulle om die job dadelik te doen. “Jy moenie laat die vroumens jou manipuleer nie, Jacques!” het hy driftig gereageer.

Haar dreigemente het Enrich laat afsien van sy plan om mense op Mahikeng vir die job te kry. Hulle moet dit self doen, het hy gesê. Amantle was nie so seker nie. Maar nou is hulle in die nagdonker op pad. Hy, Enrich en Amantle.

Dié Enrich hou van geld. Hy kon dit aan sy tevrede smile sien toe hulle die eerste pakkie geld tel wat sy gestuur het. En daar is die belofte van nog. Dit is waarom Enrich sy baas by die myn gebel het om te sê sy rug is seer, hy kan nie vandag werk toe kom nie. Want hy het ander werk om te doen, ’n job wat groot geld beteken. Cash. Baie daarvan.

Pofadder kan nou nie meer te ver wees nie. Hy bel haar op Marchand, waar sy en haar man ook ’n huis het, om te sê hulle is naby. Haar foon lui maar niemand antwoord nie. Sy slaap seker nog.

Hy is moeg. Dit is die spanning en min slaap. Die lang stukke reguitpad van Kakamas se kant af maak ’n mens nog moeër, jy kan maklik konsentrasie verloor. Oral langs die pad is kruise en goed waar mense verongeluk het. Hy moet fokus, hy kan nie nou aan sulke dinge dink nie. Toe hy haar kort daarna weer bel om te sê die job word vandag gedoen, sê sy Leon se broer het onverwags by hom oorgeslaap. Die job sal moet wag totdat hy weg is.

Jacques begin warm kry. Hulle het oorpakke bo-oor hul klere aan, soos dié wat werkers op die sinkmyn by Gamsberg buite Aggeneys dra. Dit moet hulle soos mynwerkers laat lyk.

Gisteraand is daar ook maar min gepraat toe hulle die wapens en goed by Enrich se huis in die kar gelaai het. Enrich het gesê wat hulle alles moet saamvat: ’n baseball bat, handskoene, die Okapi-mes en Zippo lighter fluid. Hy sal weet. Hy wat Jacques is, het ook sy knuppel by hom. Hy hou dit altyd in die kar vir selfverdediging.

Toe hy iemand moes kry om die job te doen het hy dadelik aan Enrich gedink. Dié het hom eenkeer vertel hoe hy perlemoen en gewere oor die grens na Zambië gesmokkel het vir ’n inkomste. Dit was in die twee jaar dat hy werkloos was. Enrich het die regte kontakte om so ’n job af te pull.

Dit begin lig word en voor hulle lê die klipkoppe naby Pofadder. Daar waar die pad ’n klomp draaie maak. Hier groei niks. Dié stuk van die Noord-Kaap is droog, soos dit daar by hulle op Kathu ook al was.

Met hul vertrek op Kathu het hy by die garage met die groot myntrok gestop en water en koeldrank gekoop. Hy het ook die pakkie Russians daar gekoop. Op Keimoes het hulle net vir petrol gestop en toe weer in die pad geval. Dit is al amper lig toe hulle Pofadder inry. Hy ken nie die dorp nie, maar sy het vir hom Google-foto’s en ’n adres gestuur.

By die KLK-garage, die een aan die regterkant soos jy die dorp inkom, hou hy stil en klim uit. Die ander twee bly sit. Hy gaan badkamer toe om ’n draai te loop. Toe hy klaar is, trek hy lang stukke toiletpapier van die rol af en prop dit in sy sak. Enrich wil dit hê om hul vingerafdrukke mee af te vee.

Hy haal sy foon uit toe hy in die kar terugklim. Dit is net ná 05:00.

Hy tik gou vir haar ’n boodskap: “Die manne staan reg.”

“Reg so, maar sy broer is nog daar,” kom haar antwoord vinnig.

Hy ry ook ’n Polo, sê sy.

Nou moet hulle net die huis kry. Hy ry verder in Skoolstraat af en draai links in Dorpstraat. Daar, dit moet die huis wees. Hy ry stadig verby die bruin huis met sy rooi dak op die hoek van Von Wiellighen Dorpstraat. Al drie se aandag is nou op die huis. Hy sien nie die honde nie. Waar sou hulle wees? Die gordyne is toegetrek. In een van die vertrekke brand ’n lig. Sou dit sy kamer wees? Dan is hy al wakker.

Hulle kan nie nou hier rondhang nie. Dit sal aandag trek – iets wat hulle beslis nie wil hê nie. Hy ry tot buite die dorp en hou langs die pad stil.

Hy tik weer ’n boodskap vir haar: “Wanneer kan hulle ingaan?”

“Hy gaan so 6 of 6:30 hotel toe. Wag tot sy broer ry,” antwoord sy.

Hy weet sy track die man se selfoon met ’n app, dit is hoe sy weet waar hy is.

“Kan die manne dan ingaan?”

Sy antwoord vinnig: “Ek sal laat weet wanneer.”

“Sharp,” tik hy.

Hulle sal eers moet wag, sê hy vir die ander twee. Enrich brom iets onderlangs oor die job wat moet klaarkom. Dan sit hulle al drie terug en maak hul oë toe.

Maar hy kan nie ontspan nie. Shit! Hulle wil nie te lank hier bly nie. Dit is al byna 06:25 toe sy die boodskap stuur waarvoor hulle wag: “Ready to go.” Die broer is weg, sê sy. Sy weet, want sy het hom gebel en ’n voorspoedige reis toegewens. Maar hulle moet eers wag.

Die son skyn nog nie eens warm nie maar Jacques voel hoe die sweet hom aftap. Ook die ander twee raak nou kriewelrig. ’n Ruk later laat weet sy: Leon is by die hotel, die huis is leeg. Hulle kan maar ingaan.

Hy ry terug dorp toe en hou voor die bruin huis se voorhekkie stil. Enrich en Amantle sit hul Covid-19-maskers op, vat die bofbalkolf en Jacques se knuppel en maak die hekkie oop. Amantle het die Okapi-mes by hom. Die twee het hul All Star-tekkies aan, nie boots soos Jacques nie.

* * *

Jacques laat nie op hom wag nie. Die twee is skaars by die hekkie in toe hy vinnig wegtrek en weer uit die dorp ry, op die N14 Pella se kant toe. ’n Hele paar kilometer verder by die afdraai na Pella hou hy stil en wag daar.

Die gebeure van die voorafgaande dae maal deur sy kop. Suretha weet nog nie dat hy ook hier is nie. Sy dink hy reël die hele ding op sy selfoon met Enrich en Amantle. Gelukkig weet sy nie wat hul name is nie en sy ken hulle ook nie. Net hy weet wie gekontrakteer is om die moord te pleeg.

Sy het alles deeglik van haar kant af beplan en het selfs ’n video vir hulle gestuur wat sy van die binnekant van die huis gemaak het. Dit was om vir hulle te wys by watter skuifdeur hulle moet ingaan, waar die bank in die braaikamer is waaragter hulle moet wegkruip en waar die hoofslaapkamer se kluis is. Hulle kan alles in die kluis vat, het sy gesê, sodat dit soos ’n rooftog lyk. Sy het ook gesê die braaikamer se skuifdeur na die swembad sal oop wees. Leon ly aan asma en sluit dit nooit nie. Hy wil vinnig kan uitgaan as hy vars lug soek. Dit sal maklik wees om daar in te kom. Gee net vir die honde iets om hulle stil te maak, het sy gesê. Hulle vreet enigiets.

Jacques raak kriewelrig. Ná ’n paar minute besluit hy om terug te gaan dorp toe. Sy hand bewe toe hy die kar aanskakel. Hy wil weer verby Leon se huis ry, die plek uitcheck, seker maak alles is nog reg, kyk of daar nie mense is wat hulle kan sien nie. Maar by die huis lyk alles doodstil. Daar is nie veel beweging of mense naby of voor die huis nie. Dankie tog.

Hy trommel met sy vingers op die stuurwiel terwyl hy stadig verbyry. Hoe lank gaan dit nog vat? Hy parkeer verder op in die straat, maar besluit dan dit gaan dalk aandag trek. Liewers die hoofstraat wat deur die dorp en verby die hotel loop. By ’n hoekkafee hou hy stil en koop ’n koeldrank. Dan ry hy verder en stop by ’n garage en kontak haar.

“Sal iemand my herken, want ek is saam met hulle hier?” Sy is verbaas dat hy saamgekom het. “Toemaar, niemand hierso ken jou,” skryf sy terug.

Dit is seker so, want hy en sy het mekaar nog nie te veel raak gekuier nie, en dan was dit meestal op Marchand of Augrabies. Maar die kere wat hy haar gesien het, kon hy nie ophou kyk na haar nie. Hy het altyd probeer om meer met haar te praat. En die kere dat hy wel by haar broer, Abrie, gekuier het en haar gesien het, kon hy nie glo hoe mooi sy is nie. Maar sy voel soos ’n sussie vir hom, sy is immers sy pêl se suster.

Dan lui sy foon. Dit is ’n oproep van Amantle se selfoon af – Enrich se foon het op Kathu agtergebly. Kom haal ons, ons kan nie so lank vir die man wag nie, sê Amantle. Jacques sien dit is al rondom 10:00 se kant. Hulle moes al 06:30 met die job klaar gewees het. Hy laat weet Amantle dat hy by haar sal hoor wat aangaan. Daarna bel hy haar weer. “Die mense wil waai, dit raak gevaarlik,” sê hy.

Sy klink benoud. “Hy is besig met betalings,” antwoord sy, maar sy “sal hom aanjaag”. Sy sal vir hom sê die honde is buite en dat hy hulle moet gaan toemaak want hulle het al mense gebyt.

“OK,” antwoord hy. Jacques wonder wanneer sy hier sal aankom.

Sy is nog op Marchand of Kakamas en soos hy die plan verstaan sal sy eers oor ’n rukkie hierheen ry. Hy moet onthou om daai foon by haar te kry. Die een wat sy weke gelede by die Somaliese winkel gekoop het en wat nie geRICA is nie. Dit is nie op haar naam geregistreer nie. Nadat sy hom die eerste keer van ’n landlyn en haar eie selfoon gebel het, het sy die nuwe een begin gebruik om met hom te praat. As daai nuwe foon in die verkeerde hande beland, sal hulle sien hoe baie sy met hom gepraat het.

Hy ry na die oorkant van die pad en hou by die ander vulstasie stil. Later ry hy op en af deur die strate. Dit voel vir hom of sy bloeddruk en hartklop ook op en af galop.

Sy foon ping weer met ’n boodskap van haar: “Leon is op pad na huis.” Hy stuur dadelik ’n boodskap vir Amantle: “He is coming.”

Kort daarna laat weet sy dat Leon nou by die huis is.

Jacques staar na die boodskap. Wat is op hierdie oomblik besig om in daardie huis te gebeur? Sy keel trek skoon toe. Haal asem Jacques, haal net asem, probeer hy homself kalmeer . . .

JONGSTE UITGAWE

Julie/Augustus-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees